Читать книгу Kinders wat moor - André le Roux - Страница 14

3. Bevoorregte jong moordenaars

Оглавление

Die gemene delers wil dit laat klink asof die moorde die ouers (of Satan) se skuld was.

Maar dink ook aan Don Steenkamp, wie se huislike lewe volgens alle aanduidings gelukkig was, die Waterkloof-4 en Henri van Breda, wat oënskynlik bevoorregte rykmanseuns was.

Don Steenkamp (1)

Op Goeie Vrydag van die Paasnaweek in April 2012 het Don Steenkamp sy ouers, Deon (44) en Christel Steenkamp (43), asook sy suster, Marthella (14), op hul plaas buite Griekwastad doodgeskiet. Hy is ook skuldig bevind aan die verkragting van sy suster en regsverydeling (hy’t voorgegee die moorde was ’n plaasaanval). Die moorde moes die verkragting verdoesel, het die staat aangevoer.

Don was 15.

Op die oog af was hy ’n gewone plaasseun wat die gewone plaasdinge geniet het. Hy was ’n goeie skut en het mededingend aan perdesport deelgeneem. Nie te goed gevaar op skool nie, maar ook nie te sleg nie. Hy was ontevrede by die skool en wou liewer boer.

Ná die moorde raak hy “arrogant” en in die Kimberleyse hooggeregshof is hy kil en onemosioneel, “gevoelloos”, volgens die regter. Hy gluur regslui en joernaliste aan, skryf Charné Kemp.

“Sy houding is uitdagend terwyl hy by die hofsaal uitloop.”

Hy’t “vreemd” begin optree, volgens die getuienis van onderwysers in Bloemfontein waar hy op skool was. Hy sou in die middel van ’n klas uitloop, tientalle kere, en buite in die son gaan staan, “sonder rede”. Of hy sou opstaan en, terwyl die onderwyser klas gee, na hom toe loop en hom aanstaar. Hy sou sy broek tot op sy knieë aftrek om sy hemp in te steek.

Ná die moorde het hy glo verander van ’n “stil, belangelose en bot” seun tot ’n “selfvoldane grapmaker wat aandag geniet het”.

Andersins was daar geen gedragsprobleme nie. Geen dissiplinêre probleme, aggressie, kriminele gedrag of vuurwapenverwante insidente nie. Net ’n plaasseun.

Wie se skuld was die Griekwastad-moorde dan?

Die Waterkloof-4

Verbeel jou jy staan in die beskuldigdebank. Jy word aangekla van iets so ernstigs soos moord, wat jou vir lank in die tronk kan laat beland. Die landdros vra jou ’n vraag.

En jy antwoord: “Praat jy met my?”

Christoff Becker, Gert van Schalkwyk, Frikkie du Preez en Reinach Tiedt het in 2001 ’n man onder ’n sambreel langs die straat aangerand. (“Stop! Daar’s ’n kaffer.”)

Christoff was 16.

Gert was 16.

Frikkie was 16.

Reinach was 15.

Die aand was egter nog lank nie verby nie. Toe skop hulle ’n ander jong swart man in ’n park dood, “soos ’n mens ’n rugbybal place”. Hulle het hom ook met ’n hamer en steakmesse aangerand.

Rykmanskinders van Waterkloof, Pretoria. Aantreklik, gespierd, flambojant, ontwerpersklere, vol selfvertroue, laggend op pad hof toe. Hulle drup van meerderwaardigheid en arrogansie, veral Christoff: “Praat jy met my?”

Die vier beskuldigdes het in 2003 die eerste keer in die hof verskyn. Die saak duur van Julie 2004 tot Januarie 2007, en die landdros noem dit ’n rassemoord en verwys na Christoff se “verstommende verwaandheid”.

“Dis ’n wrede moord gepleeg deur vier lafaards wat tot op hede nog geen berou getoon het nie.”

Die kinders tree op asof hulle glanspersone is.

In ’n selfoonvideo wat van Christoff en Frikkie du Preez voor hul paroolvrylating vroeg in 2014 gemaak is, paradeer hulle met bierbottels en wegneemetes. Christoff oefen sy spiere. Volgens prof. Anni Hesselink van Unisa se departement kriminologie en sekuriteitswetenskap sê hul houding: “Kyk hoe cool is ek, kyk hoe belangrik is ek, kyk hoe sexy is ek en kyk hoe goed manipuleer ek.”

Nes narsiste …

Volgens Hesselink het hulle geen insig getoon in die erns van hul misdade nie, selfs nie ná 7 jaar in die tronk nie. In maatskaplike werkers se paroolprofielverslae toe aansoek einde 2011 gedoen is dat Reinach en Gert se straf in korrektiewe toesig omgeskakel word, is gesê dié twee het steeds nie geglo hulle het moord gepleeg nie. Hulle het volgehou die man wie se lyk die polisie gekry het, was nie hul vermeende slagoffer nie.

Christoff en Frikkie is net 5 dae nadat hulle op parool vrygelaat is, teruggestuur tronk toe oor die selfoonvideo. Christoff is 10 maande later in Desember 2014 weer op parool vrygelaat en Frikkie 3 dae later.

Voor Christoff se tweede vrylating is hy wéér met ’n selfoon betrap.

Die moord op die hawelose man was ’n sogenaamde thrill killing, moord vir die blote opwinding en pret daarvan. Of pret wat skeefloop.

“Pretmoordenaars” kan aan allerlei geestesteurings ly en is gewoonlik manlike tieners. Of hulle moor bloot omdat hulle “verveeld” is, soos psigopate.

Henri van Breda

Daar was sprake van dagga en daar was obseniteite, wat op gedragsprobleme kon dui.

Maar andersins was Henri van Breda ’n intelligente, opgevoede jong fisika-student, ’n ywerige kosmaker wat ook aan ’n sjefskool in die Kaap gestudeer het. Al probleem: Hy’t gehakkel.

Die oggend van 27 Januarie 2015 het hy sy ouers, Martin (54) en Teresa (55), asook sy broer, Rudi (22), in die nag in hul huis op die luukse veiligheidslandgoed De Zalze buite Stellenbosch met ’n byl doodgekap. Sy suster, Marli, was net 16 en het die aanval oorleef, maar sy het geheueverlies oorgehou.

Henri was 20.

Sy verweer was dat ’n laggende man, “soos ’n maniak”, met handskoene en ’n klapmus die gesin met die byl aangeval het. Eers het hy gesê daar was twee aanvallers, maar later net die laggende een.

Hy het sy bewussyn verloor toe hy op die trappe geval het, wat verklaar sou kon word deur ’n epileptiese aanval, is deur ’n neuroloog in die hof aangevoer. Die aanval kon ook sy geheue aangetas het. Die beserings wat hyself opgedoen het, was gering en selftoegedien, het die staat aangevoer. (Die regter het dit in sy uitspraak aanvaar.)

Henri het “bygekom” toe dit reeds lig was buite, 2 uur en 40 minute later. Hy het kombuis toe gegaan en drie sigarette gerook “om kalm te raak” voordat hy eers sy destydse meisie gebel het en toe die nooddienste. Volgens die nooddiensoperateur was hy kalm. Dit het geklink of hy giggel toe hy sê: “Daar is bloed wat uit hul koppe kom.”

Die oproep het amper ’n halfuur geduur, asof daar geen dringendheid was om hulp te kry nie – terwyl Marli nog beweeg het.

’n Inwoner van die landgoed het gesê Henri was die oggend ná die moorde asof in ’n dwaal.

“Dit het gelyk asof hy nie omgee nie. Ons moes vra: ‘Waarom is ’n seun wat so pas sy ouers en broer verloor het, en sy suster is ernstig beseer, nie histeries, nie geruk nie, net emosieloos?’”

’n Huishulp het gesê: “Hy was ver, ver weg. Sy oë het hierdie snaakse kyk gehad.”

Uiteraard subjektiewe waarnemings en nie noodwendig geldig nie.

’n Ander huishulp het aan die Rapport-joernalis Julian Jansen vertel hoe hy vroeër seksuele obseniteite teenoor haar in die straat geskree het, waarna ’n veiligheidswag vir haar gesê het: “Antie, jy moet jou nie aan hom steur nie, hy was nog altyd ’n malletjie.”

’n Sakevrou van Stellenbosch het ook vertel hoe Henri en sy vriende op ’n dag by ’n winkelsentrum buite die dorp opgedaag en moles gemaak het. Henri het soos ’n besetene tekere gegaan en “op die liederlikste rympie” gedans. Hy het homself ook ontbloot en aan meisies gesê wat hy aan hulle gaan doen, in dieselfde obsene terme as aan die huishulp.

Dis nie duidelik wat aanleiding tot sulke gedrag sou kon gee nie, want die Van Breda-gesin was klaarblyklik standvastig en gelukkig en Henri se kinderjare in Pretoria ook. Die gesin het ’n aantal jare in Australië gewoon waar Martin sakebelange gehad het en waar Henri en sy broer studeer het. Hulle het in 2014 teruggekeer en op Stellenbosch gaan woon.

Martin was ’n suksesvolle sakeman in die eiendomsbedryf en in private onderwys. Sy boedel was na raming sowat R200 miljoen werd. Teresa was op haar beurt baie betrokke by die gemeenskap en haar kinders. Familie en vriende se reaksie toe Henri in hegtenis geneem is, was voorspelbaar: Dit kan nie wees nie.

“Never, nie Henri nie,” het Rika du Toit, sy bejaarde ouma aan moederskant, gesê. Sy het na hom verwys as die “liefdevolste” van al haar kleinkinders. ’n Week voor die hofuitspraak het hy vir haar in ’n ouetehuis in Kempton Park gaan kuier. Hy’t haar van sy onskuld verseker en sy het hom geglo.

Sy ouma het laat blyk dat Rudi vir Martin die “perfekte seun” was, maar hy’t altyd “neergesien” op Henri.

Maar volgens Martin se broer André was dit nie so nie. Martin was nie ’n tiran nie. Daar was nie onenigheid in die Van Breda-huis nie. Hy het dit as “liefdevol” beskryf. Al drie die kinders was jongmense met goeie maniere en ’n goeie opvoeding.

Rudi en Marli het wel meer “vaderlike liefde en aandag” gekry, meen André se tweelingbroer, Bailey, terwyl Teresa Henri baie ondersteun het. Martin was blykbaar geïrriteerd omdat Henri hakkel. Later ook omdat hy nie meer op universiteit was nie en by die huis rondgehang het.

Daar was sprake dat Henri ’n dwelmprobleem gehad het, reeds as tiener in Pretoria, en dat hy dagga en ook tik gebruik het waarvoor hy volgens gerugte in ’n kliniek in Bellville buite Kaapstad opgeneem is.

Hy het glo op universiteit in Melbourne probleme gekry juis oor dwelms. ’n Familielid het later bevestig dat hy inderdaad uit die universiteit geskors is, skryf Jansen. Sy bynaam daar was glo “Druggie”.

Sy ouers het blykbaar van sy dwelmmisbruik geweet, wat tot konfrontasie gelei het. André het aan Jansen gesê hy en Bailey dink Henri het die pad byster geraak met dwelms.

“Ek dink daardie Maandag het sy pa net sy voet finaal neergesit. Teresa het ook vir Henri gesê sy gaan nie meer vir hom geld gee nie. Sy ouers het geweet hy gebruik die geld om dwelms te koop.”

Henri en sy nuwe meisie, Daniellé Janse van Rensburg, is inderdaad in 2016 weens die besit van dagga in hegtenis geneem, maar die saak is kort voor die begin van die moordverhoor teruggetrek. (Om met dagga betrap te word terwyl jy verhoorafwagtend is op aanklagte van moord?)

Daar was nie tekens van dwelms in Henri se bloed die nag van die moorde nie.

Hy glo Henri had wel ’n dwelmprobleem, het André gesê, wat spanning en teleurstelling in die huis veroorsaak het. Volgens André het Martin destyds kommentaar gelewer op Don Steenkamp en die Griekwastad-moorde: “Hou daai kind permanent uit die samelewing uit.”

’n Anonieme vriendin van sy ouers het Henri as ’n “vreemde eenkantkind” beskryf, en ’n “anderste seun”. ’n Boesemvriendin van Teresa het hom ook as stil en eenkant beskryf, ’n middelkind wat nie maklik vriende gemaak het nie.

“Ek het honderde foto’s van ons kinderpartytjies,” het sy vir Jansen vertel. “Daarop sit al die kinders om die tafel. Maar Henri sit eenkant op die grond. So op sy eie.”

Haar persoonlike mening was dat Henri die moorde uit jaloesie gepleeg het, dat hy jaloers was op sy broer en suster, ook op sy pa se sukses. En dat hy daarom na dwelms gegryp het.

Die staatsaanklaer, adv. Susan Galloway, het in ’n program op 60 Minutes Australia gesê sy dink die oomblik toe Martin daardie nag sien wat aangaan, was daar geen manier dat Henri kon ophou nie tensy hy sou erken hy het so pas sy broer doodgemaak.

Vir haar was dit dus nie duidelik of hy uit die staanspoor sy hele gesin wou uitwis nie.

Hy hakkel en mompel wanneer hy onder druk is. Hy het as kind spraakterapie hiervoor ontvang. Sy ma se suster Leenta Nel het aan Huisgenoot gesê: “Hy is ’n introvert en baie skaam, en wanneer hy jou nie ken nie, hakkel hy. Dit was van kleins af so. Dis hoekom mense dink hy het gelag toe hy die nooddienste ná die moorde gebel het.”

As kind beskryf Nel hom as ’n saggeaarde blondekopseuntjie wat dadelik in jou hart gekruip het. Het my suster dan ’n moordenaar grootgemaak? het sy wel gewonder. Maar sy het deurentyd in sy onskuld geglo.

“Selfs as ek sou wonder of Henri skuldig kan wees, weet ek dit was definitief nie die Henri wat ek ken nie.”

Aan 60 Minutes het sy gesê sy glo dit was ’n “set up”.

Ook Daniellé het geglo Henri met sy “sagte hart” is nie in staat tot moord nie. Hy’s “die liefde van my lewe”. Hy is glad nie selfsugtig nie en hy dink altyd eers aan ander mense voor hy aan homself dink. Aan 60 Minutes het sy gesê sy sal net glo hy het die moorde gepleeg as hy self vir haar so sê, of as daar “werklike bewyse” na vore kom.

Op die vraag of sy hom dan nie in die oë gekyk en gevra het of hy sy gesin doodgekap het nie, het sy geantwoord: “Nee, nie so nie.”

Vir haar het sy storie sin gemaak, “selfs sonder enige bewyse”.

Teresa se ander suster, Narita du Toit, het gesê Henri is ’n “lieflingseun wat nooit so iets sou kon doen nie”. Sy het die gerugte van dwelms afgemaak as “snert”. Hy het wel vir ’n breinskandering in Melbourne gegaan, maar dit was weens hoofpyne en die skandering het niks opgelewer nie, hoewel daar ook in die Australiese media bespiegel is oor ’n moontlike breingewas, wat tot impulsiewe gedrag sou kon lei.

Sy ouers was glo bekommerd oor hom, maar Teresa het nooit enige probleme met Henri teenoor Du Toit opgehaal nie. In die hof is breedvoerig uit ’n voorvonnisverslag van ’n maatskaplike werker aangehaal oor die noue band tussen Henri en sy ma. Sy het snags by hom gesit wanneer hy nie kon slaap nie.

Sy was sy “primêre gehegtheidsfiguur” en daarom sou hy nie sy ma doodgemaak het nie, het die verdediging aangevoer.

Volgens die voorvonnisverslag ter strafversagting had Henri nie gedragsteurings as kind gehad nie, ook nie antisosiale persoonlikheidsteuring (psigopatie) as volwassene nie. Hy was nie “emosioneel afgetrokke” tydens berading nie.

Die staatsaanklaer het hom beskryf as “koelbloedig”.

In sy uitspraak het regter Siraj Desai melding gemaak van “’n hoë graad van onbeheerde geweld”, dit was “oormatig en sinloos”, en dat die “barbaarse” aanval uit woede was. ’n Paramedikus het getuig die moordtoneel was die ergste wat hy in sy loopbaan van 39 jaar gesien het.

“Hierdie aanvalle toon ’n hoë vlak van innerlike wreedheid en ’n ongeëwenaarde vlak van verontagsaming van die welstand van jou eie familie,” het die regter gesê.

In die hof was Henri altyd netjies, elke dag in ’n pak en kleurryke das. Maar nadat die saak ná byna twee maande in Februarie 2018 hervat is, het hy in die hof opgedaag met ’n kaalgeskeerde kop. (Wat het hy gedink? Tydens uitspraak in die hof was sy hare borselkop, sy baard net effens langer. Aan joernaliste het hy gesê hy het sy hare afgeskeer om water te bespaar, te midde van ’n droogte in die Wes-Kaap en elders. Sy baard het hy vroeër afgeskeer, ’n skoongesig jong man.)

Dis nie in die hof opgehaal nie, maar volgens ’n forensiese verslag het hy die aand voor die moorde op ’n selfoon gesoek na besonderhede oor die Amerikaanse moordenaar Christopher Porco, skaars 21, asook hoe lank dit neem vir iemand om dood te bloei. Porco het sy ouers in 2004 in Delmar, New York, met ’n byl aangeval. Sy pa is dood, maar sy ma, erg vermink, het dit oorleef. Nadat Porco vir 50 jaar tronk toe gestuur is, het sy ma steeds in sy onskuld geglo.

Teen einde Mei 2018 het die regter Henri se verweer volledig verwerp en hom skuldig bevind op al die aanklagte teen hom – die moord op sy ouers en broer, poging tot moord op sy suster en regsverydeling. Henri het sy vonnis oënskynlik emosieloos aangehoor.

Die regter het hom as ’n “buitengewoon onindrukwekkende” getuie bestempel, met ’n vreemde gebrek aan empatie vir sy slagoffers. Hy het sy weergawe van gebeure aangepas soos die hofsaak gevorder het.

Minder as ’n maand later is Henri 3 keer lewenslank tronk toe gestuur.

“Ek is onskuldig. Ek hoop dat julle dit ook só sal sien,” het hy ná die vonnis aan sy twee ooms gesê.

Hy was nou 23.

Kinders wat moor

Подняться наверх