Читать книгу Kinders wat moor - André le Roux - Страница 19

3. Die depressiewe ma

Оглавление

As jy ’n baba is en jy kan jou ma kies, moenie ’n depressiewe ma kies nie.

Wanneer baba-rotte kleintyd – in die eerste 12 uur ná geboorte – baie deur die ma gelek en vertroetel word (grooming), is hulle later sosiaal beter aangepas as kleintjies wat nie gekoester is nie. Twee jaar later het die rotte nuwe, vreemde situasies baie beter hanteer.

En hul stresvlakke was vir die res van hul lewe laer.

Gekoesterde baba-rotte was ook nuuskieriger en het hul omgewing met meer selfvertroue verken, sê die joernalis Paul Tough. Hulle het beter gevaar in doolhoftoetse, het meer selfbeheer gehad, was minder aggressief. Hulle het selfs ’n beter aptyt gehad, was gesonder en het langer geleef.

Dieselfde geld vir resus-apies wat reeds vóór geboorte aan die ma se stres blootgestel was.

“Navorsing met primate dui daarop dat prenatale stres waarskynlik ’n faktor is wat kinders vatbaar maak vir ’n ‘moeilike’ temperament,” skryf Robin Karr-Morse en Meredith Wiley.

Navorsers aan die Universiteit van Wisconsin se destydse Harlow Primate Laboratory het bevind prenatale stres loop later uit op aandagsteurings, verminderde kognitiewe vermoëns en neuromotorprobleme in die resus-apies. Die apies se babas weeg minder by geboorte en hulle slaap meer. Hulle toon ook meer stres wanneer hulle van hul ma weggevat word.

Ongewenste swangerskap is ook stresvol. En wanneer die ma die baba nie wil hê nie, het die baba van die begin af meer stres, reeds in die baarmoeder. Dit kan noodlottig wees. Karr-Morse en Wiley sê in navorsing met 8 000 swanger vroue is bevind kinders wat verwerp word, is 2,4 keer meer geneig om in die eerste maand van hul lewe te sterf. (Dis ’n 240% groter kans!)

En die ma se depressie kan dieselfde rampspoedige impak op die baba se brein hê as mishandeling of verwaarlosing. Wanneer die ma afwesig is en nie op die baba se behoeftes ingestel is nie, is die baba se brein aan sy eie lot oorgelaat. Dit maak die baba angstig of bevrees. Die brein se veg-of-vlug-reaksie word oorweldig en die baba kan nie emosioneel gesond op die angstigheid reageer nie.

“Dis die definisie van emosionele trauma,” sê Karr-Morse en Wiley.

Boonop is babas uitputtend en die ma kan op haar beurt oorweldig voel. Vra enige ma, veral enkelma’s.

Sowat 13% van alle ma’s kry nageboortelike (postpartum- of postnatale) depressie. Die beste aanduiding dat dit kan gebeur, is wanneer die ma voorheen depressief was.

Die befaamde Amerikaanse pediater-skrywer T. Berry Brazelton het veral gekyk na die interaksie tussen ma’s en babas op 2 of 3 maande. Sy Neonatal Behavioral Assessment Scale (NBAS) beoordeel die baba se fisieke reaksies en dui emosionele en individuele verskille aan. Op dié manier skets hy ’n “portret” van die baba se ontwikkeling en gedrag wat die ouers kan help om hul verhouding met die baba te verbeter.

’n Baba het reeds etlike vaardighede net ná geboorte, het Brazelton gesê.

“’n Pasgeborene het 9 maande se ondervinding.”

Al sy sintuie is reeds ontwikkel. Karr-Morse en Wiley som dit op:

Tas: Teen 17 weke kan die fetus al aanraking voel. Op 2 maande sal die fetus skop en terugtrek wanneer hy gestamp word, en op 4 maande trek hy ’n gesig wanneer sy kopvel gekielie word. Hy skop sterk wanneer die ma koue water drink.

Smaak: Teen 15 weke kan sy smaakknoppies onderskei tussen verskillende chemiese smake in die vrugwater.

Gehoor: Teen 24 weke kan die fetus die ma se stem hoor en ook die pa s’n as hy naby is. Die baba sal ook net ná geboorte Ma en Pa se stemme kan onderskei van ander stemme. Of hulle probeer hul ore beskerm teen ultraklank.

Sig: Brazelton het self aangetoon fetusse is sensitief vir lig vanaf 16 weke. ’n Skerp lig op die ma se buik laat die fetus skrik en terugdeins. Party hou selfs ’n beskermende handjie voor die oë.

Ondertussen is die fetus natuurlik ook besig om motories en emosioneel te ontwikkel. Wanneer die baba dus gebore word, is hy as ’t ware klaar gereed om die wêreld in die oë te kyk.

Want hy weet reeds baie … en stel baie daarin belang om allerhande nuwe dinge te sien en te ondersoek. Die wêreld is ’n interessante plek.

Rondom 1 jaar begin die baba met ’n vingertjie na voorwerpe wys, en kyk na voorwerpe wat vir hom uitgewys word. Hy volg jou oë om te kyk waarna jy kyk. Die outismekenner Simon Baron-Cohen noem dit ons “eye-direction detector”.

En babas kan gedagtes lees! Hulle weet goed wat in ’n grootmens se kop aangaan.

Kyk in twee bokse, in die een met ’n uitdrukking van genot op jou gesig, in die ander een met ’n uitdrukking van afsku. Skuif die twee bokse tot voor die baba. Die baba steek sy handjie in die eerste boks, en maak nie eens die tweede boks oop nie, ’n eksperiment deur die sielkundige Alison Gopnik.

Net so weet babas wat om met ’n bepaalde voorwerp te doen deur te kyk wat grootmense daarmee doen. Só weet hulle presies wat om met ’n telefoon te maak.

Gopnik en ander sê ook in die eerste 9 maande ná geboorte kan die baba tussen stemtone en gesigsuitdrukkings onderskei, hetsy kwaai, gelukkig of hartseer. Selfs ’n maand oue baba kan gesigsuitdrukkings naboots. Steek maar net jou tong vir die baba uit en kyk hoe sy tongetjie uitkom. Een navorser het vasgestel pasgebore babas, net 42 minute oud, is reeds na-apers.

Terloops, pasgebore babas wat nog nooit ’n spieël gesien het nie weet goed hul tong sit in hul mond, nie daarbuite nie. Ons almal het ’n “innerlike gevoel” van ons eie liggaam.

“Nog voor babas kan praat, kan hulle kommunikeer,” sê Gopnik.

Sy beskryf ’n eksperiment waarin babas van 18 maande verder gaan as om net na te aap. Die navorser tik met sy voorkop op ’n boks, wat ’n lig in die boks laat aangaan. ’n Week later sien die baba weer die boks. En tik die boks met sy voorkop om die lig te laat aangaan.

Maar dan is die navorser se arms toegedraai in ’n kombers. Die navorser tik weer met sy voorkop, maar dié keer gebruik die baba sy hande om op die boks te tik! Hy het uitgewerk jy sou jou hande gebruik het as jy kon, as jou hande nie vasgewikkel was in ’n kombers nie.

Terselfdertyd het hy iets van oorsaak en gevolg geleer.

Die baba is ’n sosiale organisme wat kommunikeer deur sy gedrag, wat vir Brazelton ’n rasionele taal is. Byvoorbeeld, die baba huil om reaksie uit sy versorger te kry. Hy reageer op tekens rondom hom, soos die ouers (ma) se gesigsuitdrukkings.

Maar hoe gemaak as jou ma se gesig uitdrukkingloos is, soos wanneer sy depressief is?

Die Stilgesig-eksperiment

Thomas Berry Brazelton het reeds in die 1970’s saam met die sielkundige Edward Tronick aangedui hoe belangrik die kommunikasie tussen baba en versorger is met The Still Face Experiment (ook op YouTube), al kan die baba nog nie praat nie.

(Dis ’n ietwat gemene eksperiment, so moenie dit by die huis probeer nie.)

Die ma speel en gesels met die baba in sy stoeltjie. Sy lag en koer. Die baba lag en koer terug, wys met ’n vingertjie oor die ma se skouer na iets interessants. Die baba is kloek-kloek tevrede.

Dan draai die ma haar kop weg en wanneer sy ná ’n rukkie terugkyk na die baba is haar gesig uitdrukkingloos en strak. Sy doen en sê niks en onttrek haar emosioneel van die baba. Die baba probeer die interaksie herstel met ’n glimlag. Hy steek sy armpies uit na die ma, maar die ma se gesig bly onverstoord. Feitlik onmiddellik is die baba ontsteld. Hy frons, draai weg en begin huil, lyk bang, wriemel in sy stoeltjie en skop sy beentjies.

Sodra die ma weer aandag aan hom gee, is hy dadelik sy ou tevrede self.

Sulke kinders sukkel later om emosies in gesigte te herken, veral kinders wat mishandel is. Hulle sien geen gesigsuitdrukking nie. Of hulle sien woede waar daar nie is nie.

En wanneer die situasie omgekeer is en dis die ma wat die baba se bewegings naboots, speel die baba saam. Hy maak allerhande wilde gebare om te kyk of die ma regtig al hierdie ongewone bewegings gaan naboots.

Dit kan natuurlik ook die pa wees wat aandag weerhou. Brazelton het agtergekom pa’s se interaksie met hul baba is anders as die ma s’n. Die pa se bewegings is meer stamperig, die ma s’n vloeiender. En die baba boots dié twee “style” na. Brazelton het gesê hy kan sien wie speel met die baba, die ma of die pa, deur net na die baba se bewegings te kyk.

Probleme ontstaan wanneer die ma depressief is en nie soveel emosionele aandag aan die kind gee nie. Die baba bly dus vir lang tye ontsteld en ontevrede. Seuntjies reageer fisiek heftiger as dogtertjies, wat geneig is om eerder te onttrek.

Tronick het aan The Washington Post gesê wat vir hom die interessantste was, is dat die baba nie ophou om die ma se aandag te probeer terugkry nie. Hulle gaan deur herhaalde siklusse van probeer, wegdraai en ontsteld wees, weer probeer, wegdraai, weer probeer.

Maar as dit te lank aanhou, gee hulle moed op. Hulle sak letterlik ineen in hul stoeltjie en probeer hulself troos deur hul duim of rugkant van hul hand te suig. En hulle probeer nie weer aandag kry nie. Dit help tog nie.

Dis wanneer die baba se stresvlakke en hartklop verhoog.

Babas wat nie gereeld aangeraak word nie, het later ’n agterstand in die lewe. Kinders wat hulp of troos van ’n versorger nodig het en dit nié kry nie, tussen 6 maande en 3 jaar, kan later rebels en afsydig word en as volwassenes sukkel om standvastige emosionele verhoudings te vorm.

Enige kind het baie troos nodig.

Die Amerikaanse neurowetenskaplike Saul Schanberg het bevind aanraking stuur ’n stroom groeihormone deur die baba-rot, wat verantwoordelik is vir normale ontwikkeling. Vat die ma weg, en die baba se groei word belemmer. Sit die ma terug, en groei gaan ongehinderd en normaal voort.

Dit steun gehegtheidsteorie netjies.

Schanberg en Tiffany Field, hoogleraar in pediatrie en direkteur van die Touch Research Institute aan die Universiteit van Miami se mediese skool, het in die laat 1980’s na vroeggebore babas gekyk om te sien of menslike kontak ’n verskil maak, nie noodwendig gehegtheid nie.

’n Groep studente het die vroeggebore babas vir 15 minute op ’n slag, drie keer per dag, in hul broeikaste behoorlik gevryf, stadig en ferm, terwyl hulle hul armpies en beentjies liggies strek.

Aanraking.

Die vroeggebore babas wat op dié manier aangeraak is, vir net 10 dae, het 50% vinniger gegroei. Hulle was wakkerder en het meer en makliker beweeg. Hulle kon ook gemiddeld 6 dae vroeër ontslaan word as die ander babas. ’n Jaar later was hul kognitiewe en motoriese vaardighede beter. Hulle het sterker en gesonder gelyk as die babas wat nie gevryf is nie.

Dié soort terapie vir vroeggebore babas en babas met ’n lae geboortegewig is vandag standaard.

Field bestudeer kinderontwikkeling en ma’s met nageboortelike depressie. Dis waar die probleem inkom: Depressiewe ma’s raak nie so baie aan hul baba nie en is afsydig. Wanneer die ma se depressie ná 6 maande opklaar, word die baba nie negatief beïnvloed nie, maar wel wanneer die depressie in die baba se eerste 3 jaar voortduur (persistent depressive disorder).

Dit help wel as die tweede versorger, die pa of ouma of wie ook al, nie ook depressief is nie.

In The Noonday Demon – An Anatomy of Depression sê die skrywer, joernalis en sielkunde-hoogleraar Andrew Solomon die vroegste voorkoms van depressie by kinders word gevind by babas so jonk soos 3 maande wie se ma ook depressief is. Hulle weerspieël die ma se buie.

“Selfs 10 jaar later het sulke kinders beduidende sosiale probleme en die risiko vir depressie is 3 keer groter, en 5 keer groter vir panieksteurings en alkoholafhanklikheid.”

Sulke kinders kan ook aandaggebrekprobleme, skeidingsangs, paranoia en gedragsteurings hê. Hulle het allerhande gesondheidsklagtes soos maagpyn, hoofpyn, asma en allergieë. Hulle raak makliker siek.

Navorsers van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het na 17 verskillende studies gekyk en bevind 20% van kinders wie se ma depressief is, het ’n 40% groter kans om ondergewig te wees, 32% om onvoldoende te groei. Die rede is vermoedelik omdat depressiewe ma’s vir korter tye borsvoed en nie so ingestel is op die baba se behoeftes nie.

Want sy’s depressief.

Meer as 14 000 ma’s en hul jong kinders van 11 ontwikkelende lande, waaronder Suid-Afrika, het aan ’n studie deelgeneem waarin bevind is in hierdie lande sukkel 15% tot 57% van ma’s met nageboortelike depressie. Geboorte op sigself krap die ma se hormone om.

Wanneer ’n ma ’n vrolike kinderliedjie vir haar baba sing, reageer die baba met genotlike geluidjies, skryf die sielkundige en wetenskapjoernalis Daniel Goleman. Maar wanneer ’n depressiewe ma die liedjie monotoon en op ’n laer noot sing, reageer die baba met tekens van ongemak. Die ma se emosies is negatief.

Daar is bevind depressiewe ma’s kyk meer weg van hul babas as ander ma’s, raak meer kere kwaad en is nie so koesterend nie. Die baba reageer tipies deur te huil of te onttrek. Hy maak minder oogkontak. Die baba ontwikkel ’n gebrekkige sin van self en voel magteloos, onseker of gefrustreerd.

Dis sogenaamde mood contagion, wat ook tussen volwassenes plaasvind, want ander mense se buie is aansteeklik. Goleman noem dit ’n “depressed loop” tussen ma en baba. Hierdie babas het meer streshormone en laer vlakke van dopamien en serotonien, breinoordragstowwe wat met depressie verbind word.

Die ma kan dus haar depressie sosiaal aan haar baba oordra. Dit skep uiteraard ook probleme met binding tussen ma en kind.

Dis hoekom jong kinders in ’n weeshuis dikwels ’n agterstand het. Hul versorgers wissel en dit kan later gehegtheidsprobleme veroorsaak, het John Bowlby gesê. Wanneer sulke kinders se versorgers té veel wissel, sukkel die kinders om dieper verhoudings te vorm.

Vroeër was die kindersterftesyfer in weeshuise hoër as die norm.

Kinders wat moor

Подняться наверх