Читать книгу Kinders wat moor - André le Roux - Страница 6

1. Die moordenaar wat sy duim suig

Оглавление

Die moord het wêreldwyd opslae gemaak, ook in Suid-Afrika. Tot vandag toe.

Jon Venables en Robert Thompson was albei 10. Hul slagoffer was die 2-jarige James Bulger, net ’n maand voor sy derde verjaardag.

Dit was 12 Februarie 1993. Merseyside, voorstedelike Liverpool, Engeland.

Die een oomblik was James met sy blou oë en byna-blonde hare nog by sy jong ma, Denise (25), wat vleis in ’n slaghuis in ’n winkelsentrum koop, die volgende oomblik was hy weg. Hy was in daardie stadium haar enigste kind.

“Hy was reg daar by my linkerheup,” vertel Denise Bulger. (Later Denise Fergus, haar huwelik het ná die dood van James verbrokkel.)

“Ek het vir hom geglimlag en my sak van my skouer afgehaal en my beursie uitgehaal. Toe ek die beursie oopmaak, het ek afgekyk en James was nie daar nie.”

’n Uitgebreide soektog is dadelik begin, maar 4 minute 20 sekondes later, volgens die tydsaanduiding op sekuriteitskameras, was die twee seuns met James by die winkelsentrum uit. ’n Treffende, aangrypende toneeltjie wat op een kamera vasgevang is, is onmiddellik die wêreld ingestuur. Twee seuntjies loop by die sentrum uit met ’n veel kleiner seuntjie, heel tevrede, aan die hand. Hulle lyk soos drie onskuldige boeties op pad huis toe, die ouer twee beskermend teenoor die jongste enetjie.

Maar hulle was nie boeties nie. Die twee ouer seuns, skoolmaats, was ook nie beskermend nie. Hulle was besig om James te ontvoer.

“Jy maak jou kinders groot om versigtig te wees vir vreemde mans, nie ander seuns nie,” skryf Fergus in haar boek oor die moord.

Die seuns het begin loop, amper doelloos.

“Kom ons laat hom buite wegraak,” het Jon vir Robert gesê, “sodat hy in die straat omgery kan word.” (Volgens Jon was dit Robert wat die voorstel gemaak het.)

Langs ’n kanaal het hulle James opgetel en op sy kop laat val. Hy’t beserings aan sy gesig opgedoen. Toe, 4 km verder, het hulle hom bult-op tot by ’n treinspoor geneem, op hom gespring, hom geskop en gemartel deur onder meer blou verf in sy linkeroog te gooi, blykbaar onder aanstigting van Jon.

Jon het gesê dis Robert wat die meeste geskop het, hyself het net een of twee keer geskop.

Toe het hulle hul jong slagoffer met bakstene gegooi en ’n geroeste ysterpaal van 10 kg op sy kop laat val. ’n Patoloog het getuig daar was 10 skedelbreuke, altesaam 42 beserings, waarvan nie een as die noodlottige besering bepaal kon word nie.

Die trein, het die kinders boonop geweet, sou binnekort kom. Robert het die treinrooster uit sy kop geken.

James was dood voordat die trein oor hom gery het. Sy verminkte lyfie is twee dae later langs die treinspoor gevind. Volgens sy ma was James, ironies, dol op enigiets oor treine.

In die dae ná die moord het Robert ’n enkele roos gekoop om by die ander blomme vir James teen ’n grondwal neer te sit. Jon het skielik in die nuus belanggestel. Hy wou weet of die twee seuns wat van die moord verdink word al gekry is.

“Sy arme ma,” het hy gesê. En nadat hy uiteindelik sy aandeel in die moord erken het, het hy gevra: “Wat van sy ma, sal jy vir haar sê ek is jammer?”

Op skool was Jon ’n probleemkind met “bisarre” en antisosiale gedrag. Sy klasonderwyser het vertel hoe hy in sy skoolbank vorentoe en agtertoe gewieg het en vreemde geluide gemaak het. Hy sou om en om teen die mure van die klaskamer loop en prente afruk of stoele rondgooi.

Outisties, hiperaktief.

Hy’t nie veel oogkontak gemaak nie. Sy humeur was kort en hy was aggressief. Sy huiswerkboeke was leeg.

Hy is geboelie, volgens die joernalis David James Smith, ook geboelie deur Robert. Maar Jon was self ook die boelie. Per geleentheid het hy homself gesny.

Ouers het begin kla oor sy ontwrigtende gedrag. Hy’t ’n skoolmaat met ’n houtliniaal gewurg. Hy is na ’n ander skool verskuif waar hy Robert ontmoet het. Hulle was in dieselfde klas, albei ’n jaar teruggehou.

Volgens ’n skoolmaat was hulle soos ’n bende. ’n Ander maat het vertel hulle het hom gevra om saam met hulle stokkies te draai en of hy lid wou word van hul bende, want hulle gaan iemand doodmaak.

Op die noodlottige dag het Jon en Robert stokkiesgedraai, soos dikwels voorheen. Uit 140 dae was hulle 50 dae nie by die skool nie.

Dié dag het hulle verskeie items uit winkels in die sentrum gesteel, waaronder die blou verf en ook batterye. Van die gesteelde items het hulle bloot weggegooi om plek te maak in hul sakke vir nog. Hulle het ’n bejaarde vrou getreiter. Voor James het hulle ’n ander seuntjie, ook 2 jaar oud, geteiken, maar dié seuntjie se ma het hulle gesien en kon betyds keer.

Tydens ondervraging het hulle alles ontken en toe die skuld op mekaar gepak. Wanneer hulle ongemaklike vrae moes beantwoord, het hulle begin huil, veral Jon, wat dan op sy ma se skoot geklim het. Robert het sy duim gesuig, ’n gewoonte wat hy eers op 14 sou afleer.

Hy’s ’n sissie, het Jon gesê.

Die seuns is as volwassenes verhoor, wat omstredenheid uitgelok het, maar psigiaters het bevind hulle kon tussen reg en verkeerd onderskei, en om ’n kind van sy ma weg te neem en dood te maak, is “ernstig verkeerd”.

’n Spesiale platform is in die hof gebou sodat hulle, klein van postuur, bo-oor die relings van die beskuldigdebank kon sien. Robert was “Kind A” en Jon “Kind B”.

Albei is skuldig bevind aan ontvoering en moord. Hulle is gevonnis tot aanhouding in ’n plek van veiligheid, aanvanklik tot hulle 18 sou word. Hulle is in 2001 ná minder as 8 jaar vrygelaat met nuwe identiteite en in ’n soort getuiebeskermingsprogram geplaas.

Robert en Jon was die jongste veroordeelde moordenaars in die geskiedenis van moderne Engeland.

Maar by verre nie die enigste nie.

Smith het nog 33 Britse moorde deur kinders tussen 1847 en 1992 opgeteken, waarby 41 kinders betrokke was. Hul ouderdomme het gewissel van 13 tot so jonk soos 4 en 3. Laasgenoemde was twee boeties wat in 1968 ’n 7 maande oue baba doodgeslaan het. Hulle was te jonk om vervolg te word en die baba se dood is as ’n “ongeluk” aangedui.

In die baba se oë was twee oorkrabbetjies gedruk.

Kinders wat moor

Подняться наверх