Читать книгу Kinders wat moor - André le Roux - Страница 9

4. Van altyd af

Оглавление

Dit lyk asof kinders nog altyd ander kinders doodgemaak het.

In 1748 het William York hom vererg vir ’n 5-jarige dogtertjie met wie hy ’n bed in ’n weeshuis in Suffolk, Engeland, moes deel.

Hy het bekend geword as The Boy Murderer.

Hy was 10.

William het nie daarvan gehou dat die dogtertjie hul bed natgemaak het nie. ’n Stryery het gevolg en hy het haar geklap. Sy’t begin huil en buitentoe gehardloop. Hy’s agter haar aan met ’n haakstok met die doel om haar dood te maak.

Maar hy het die haak neergesit en weer in die huis ingegaan om ’n mes te kry. Hy het teruggekom en haar linkerpols reg rondom tot op die been gesny. Toe hoër op rondom haar elmboog. Daarna het hy die haak gevat en haar dy tot op die been oopgekloof.

Hy het ’n emmer water uit ’n sloot geskep om die bloed van hom af te was en sy spore netjies doodgevee.

Daarna het hy sy ontbyt gaan eet.

Later het hy verduidelik hy’t haar doodgemaak nie net omdat sy die bed natgemaak het nie, maar ook omdat sy “nukkerig” was en hy nie van haar gehou het nie.

William is ter dood veroordeel. Die regters het besluit dis die gepaste vonnis om ander 10-jariges af te skrik om nukkerige klein dogtertjies waarvan hulle nie hou nie dood te maak. Maar sy teregstelling is telkens uitgestel en hy’s vrygelaat op 18, waarna hy by die vloot aangesluit het.

In ’n blog-inskrywing oor die moord word melding gemaak van ’n 7-jarige seuntjie wat nog vroeër, in 1708, ter dood veroordeel is. Maar ook hy is op die ou end nie gehang nie, nes meer as 100 ander misdadige kinders onder 14 in die vroeë 1800’s in Engeland. Hulle is wel tronk toe gestuur en/of met ’n sweep geslaan.

In die middel 1600’s is ’n 14-jarige seun gehang nadat hy ’n baba in ’n wiegie aan die brand gesteek het.

So ver terug soos die 17de eeu …

Kinders wat moor

Подняться наверх