Читать книгу Kinders wat moor - André le Roux - Страница 8

3. Hoe jonk is jonk?

Оглавление

In Maart 1929 het twee seuntjies stry gekry oor ’n stuk afvalyster.

Dit was op ’n arm mynwerkersdorpie genaamd Paintsville, Kentucky, kort voor die aandelebeurs ineengetuimel het. Die stuk afvalyster sou ’n welkome paar sent by ’n skrootwerf oplewer. Cecil van Hoose het die stuk yster by Carl Mahan afgevat en hulle het handgemeen geraak.

Cecil was 8, Carl 6.

Carl het huis toe gehardloop, op ’n stoel geklim om sy pa se haelgeweer by te kom. Hy is terug na Cecil.

“Ek gaan jou skiet!” het hy geskree.

Wat hy terstond gedoen het.

Al was hy net 6 is Carl aangekla van moord. Tydens die verhoor van net een dag het hy meestal op ’n tafel gelê en slaap. Ná minder as 30 minute het die jurie hom skuldig bevind aan manslag. Die regter het hom vir 15 jaar na ’n verbeteringskool gestuur.

Daar was openbare protes, vir en teen die uitspraak. Die prokureur-generaal van Kentucky het die vonnis tersyde gestel en Carl in die sorg van sy ouers vrygelaat.

•Jare later, in Februarie 2000, in Michigan, het dit weer gebeur toe ’n graadeentjie ’n klasmaat (6) met ’n familielid se vuurwapen doodgeskiet het ten aanskoue van hul onderwyser en ander kinders. Die vorige dag het die maatjie op hom geskree omdat hy op haar lessenaar gespoeg het.

Hoewel hy die moord vir minstens ’n dag lank “beplan” het, is ’n 19-jarige familievriend aangekla van onopsetlike manslag omdat hy die gelaaide geweer gelos het waar die seuntjie dit kon kry.

•Kalifornië, Augustus 2000. ’n Seuntjie van 3 word deur sy 5-jarige niggie en 6-jarige sussie met ’n kussing versmoor terwyl die kinders in hul ouma se agterplaas speel. Hulle het eers probeer om sy kop in ’n modderpoel te druk, maar hy’t losgekom en gehardloop.

Hulle was vinniger as hy. Albei die meisies het bo-op hom gaan sit, die een om sy bene vas te hou en die ander een op die kussing oor sy gesig.

Volgens die ouma het hulle “te rof” gespeel. Maar die kinders het albei gesê dit was hul bedoeling om die seuntjie dood te maak.

•In Kansas City, 2011, is die polisie laataand ontbied na ’n huis waar die liggaam van ’n baba, 18 maande oud, in ’n bad water gedryf het. Die baba en nog ’n dogtertjie was in die sorg van ’n 16-jarige baba-oppasser met “verstandelike probleme”. Sy het blykbaar die water in die bad gelos nadat die kinders gebad het. Tydens die verdrinking het sy geslaap.

Almal het gedink dit was ’n ongeluk.

Toe kom die dogtertjie, ’n familielid, vorendag met ’n bekentenis. Sy het die seuntjie badkamer toe gesleep en sy kop onder die water gehou totdat hy stil geword het.

“Hy’t net te veel gehuil,” het sy verduidelik. “Die geraas was te veel.”

Sy was 5.

Kinders wat moor

Подняться наверх