Читать книгу Kinders wat moor - André le Roux - Страница 15

4. Moord begin by die huis

Оглавление

Tussen 1977 en 1986 is meer as 300 ouers elke jaar, wêreldwyd, deur hul eie kinders vermoor. Dis op 65 dae na feitlik een moord per dag. Dis boonop ou statistieke.

Jonger, plaaslike syfers skets eweneens ’n droewige prentjie. Suid-Afrika se moordsyfer is om mee te begin 5 keer hoër as die wêreldgemiddelde. Jaarliks word 33 mense per 100 000 vermoor, sowat 50 mense per dag. Volgens Crime Stats (www.crimestatssa.com) was daar 17 805 moorde in 2015 en 18 673 in 2016. En dit neem toe. In die boekjaar 2017–’18 was die syfer 56 per dag, die meeste per jaar in die afgelope 10 jaar.

In een maand, net in Mei 2019, was daar sowat 331 moorde, meer as 10 mense daagliks. En dít net in die Wes-Kaap, volgens die Wes-Kaapse departement van gesondheid (nie amptelik volgens die SAPD nie).

Die maand daarna het bendemoorde skerp toegeneem.

“Dis amper soos ’n oorlogsone, terwyl daar geen oorlog in Suid-Afrika is nie,” het die minister van polisie gesê.

Die BBC het inderdaad gevra of Suid-Afrika se moordsyfer met ’n oorlogsone vergelyk kan word. Die antwoord was nee, maar in sekere gebiede wel, soos in Philippi-Oos in die Wes-Kaap, Madeira in die Oos-Kaap, en Pietermaritzburg.

Volgens die 2018–’19-syfers het die 33 per 100 000 mense vermoor, toegeneem tot 36,4 per 100 000. Dis ’n toename van 3,4% – van 20 336 tot 21 022 slagoffers. Poging tot moord het ook gestyg van 18 233 tot 18 980 en aanranding met die opset om ernstig te beseer van 167 352 tot 170 979.

’n Unisa-navorser het bevind party misdadigers voer tot 107 misdade uit voordat hulle aangekeer word.

Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) het daarop gewys dat meer as ’n halfmiljoen mense sedert die einde van apartheid vermoor is, byna ’n miljoen verkrag.

Die SAIRV het die misdaad vergelyk met ’n lae-intensiteit-burgeroorlog wat plek-plek vergelyk kan word met die oorloggeteisterde Sirië. Dis ook wat die BBC in die vorige jaar (2017–’18) bevind het.

As deel van die eerste Wêreldkinderstudie in 2015 is bevind kinders in die Wes-Kaap voel onveiliger in hul woonbuurte as kinders in Israel en Ethiopië. Volgens die Global Peace Index was Suid-Afrika in 2019 die 37ste onveiligste land ter wêreld – uit 163 lande – onder meer weens toegang tot wapens en “politieke angs”.

Terug in 2015 was kinders jonger as 17 verantwoordelik vir 800 misdade in die land. Net in Gauteng het kinders tussen 10 en 17 jaar 49 moorde gepleeg. In 2018–’19 was dit veel meer – 736 moorde uit die 21 022 is deur kinders gepleeg.

Volgens Statistieke Suid-Afrika (2013) word ’n kwart van alle moorde in die land deur ’n familielid of gesinslid gepleeg.

Moord begin by die huis.

Kinders wat moor

Подняться наверх