Читать книгу Kinders wat moor - André le Roux - Страница 12

1. In hul kinderdae

Оглавление

Marlene Lehnberg

Sy is uiters konserwatief en streng grootgemaak. Mooi, jonk, naïef en onskuldig. Haar ouers was onbetrokke, volgens die misdaadprofielsamesteller Micki Pistorius. Hulle het ook nie later haar hofsaak bygewoon nie.

Christiaan van der Linde was vir Marlene ’n vaderfiguur, en sy was 16, 17 toe hul verhouding seksueel geword het. Hy het haar “Sweets” genoem.

Vroeër in haar lewe was Marlene baie godsdienstig, skryf Pistorius, en baie kerkvas, ook as Sondagskoolonderwyseres. Sy is op 16 uit die skool en op 17 het sy alle godsdiensbande verbreek en in haar vrye tyd as kelnerin en naakmodel gewerk. Op 19 word sy swanger met Van der Linde se kind, maar het kort daarna ’n miskraam.

Marlene het Marthinus Choegoe, die “hinkende huurling”, by die Rooi Kruis-kinderhospitaal in Kaapstad ontmoet waar sy gewerk het. Hy het sy been in ’n motorongeluk verloor en sy het hom onder meer ’n beenprostese, ’n motor, seks en ’n radio belowe. Hy wou nie die moord pleeg nie, het hy getuig, en wou Van der Linde se vrou gaan waarsku, maar Susanna het hom weggejaag.

Hy’s deur Marlene met ’n rewolwer in die hand gedwing om Susanna se “lugpyp toe te druk”.

’n Jong wit vrou, in ’n minirok met platformskoene en ’n donkerbril, in die hof saam met ’n bruin man? Baie sensasioneel in ’n land van apartheid. Meer as 1 000 nuuskieriges het daagliks tydens die verhoor in en om die hofsaal in Kaapstad saamgedrom.

Die regter het die saak as “vreemd en bisar” beskryf.

Volgens Pistorius het Marlene nooit insig in haar misdaad ontwikkel nie en het geglo haar straf was “onregverdig”.

“Ek dink nog steeds ek is nie skuldig aan die daad nie,” het sy tydens vonnisoplegging gesê.

Sy het almal behalwe haarself die skuld gegee. Sy is ’n narsis en selfsugtig, meen Pistorius.

(Van der Linde is nooit aangekla van medepligtigheid nie, maar toe hy in die teenwoordigheid van die polisie sy vrou moes uitken, het hy haar liggaam doodluiters met sy voet gelig.)

Marlene is die doodstraf opgelê, in daardie stadium die jongste vrou in die land om skuldig bevind te word aan moord. Sy was 19. Haar vonnis is later op appèl tot 20 jaar versag waarvan sy 11 jaar uitgedien het.

Sy het ’n skoonheidsalon in Johannesburg oopgemaak.

Charmaine Phillips en Pieter Grundlingh

Charmaine het Pieter ontmoet toe sy dagga vir haar pa by hom wou koop.

Pieter laat tatoeëer sy naam op Charmaine se maag om te wys sy is sy eiendom. Hy was obsessief jaloers op haar. Hy rand haar aan. Sy vlug na haar broer op Vryheid, maar Pieter gaan haal haar.

Twee jaar later begin hulle moor. Teen dié tyd was hul gesigte op die destydse TV-program Police File.

Charmaine raak maklik geïrriteerd, met ’n honger, huilende baba in die motor. Later in die hof sou sy op fotograwe en hofpersoneel spoeg en vloek. In die tronk het sy haar eie bende gestig en lede het tatoeëermerke gekry.

Charmaine se pa, Leo (Hoppy) Phillips, was ’n sterk dwelmgebruiker en psigopaat (Micki Pistorius sê hy was ’n skisofreen). Haar ma, Magdalene Bernadette, was ’n alkoholis en prostituut, geneig tot depressie met selfmoordneigings, wat ’n jong Charmaine aanskou het. Haar ma is later in ’n beskonke bakleiery met haar kêrel dood.

Hulle was sewe kinders in die huis. Charmaine beland jonk-jonk in ’n kinderhuis, daarna in pleegsorg, loop weg, word ’n straatkind in Durban waar syself ’n prostituut word.

Op 14.

Op 15 raak sy swanger. Haar kind beland in pleegsorg en is later saam met sy nuwe ouers Ierland toe.

Pieter, daarenteen, was ’n stil kind, huisvas, hardwerkend, pligsgetrou. Maar hy raak deurmekaar met verkeerde maats en beland in die tronk weens motordiefstal. Later sou die regter Charmaine se ongelukkige kinderjare waarin sy nie ’n gesonde morele oordeel kon opbou nie, in ag neem.

Grundlingh is in 1985 gehang. (Die doodstraf in Suid-Afrika is 10 jaar later afgeskaf.) Charmaine is einde 2004 op parool vrygelaat. Sy het in die tronk ’n haarkapster geword en is ná haar vrylating getroud.

Haar seun, Pietertjie, is in 2006 op 23 aan ’n oordosis heroïen of vigs dood. Nes sy ma het hy van kinderhuis tot pleegsorg geswerf. Hy het by die verkeerde maats ingeval en deurmekaar geraak met dwelms en manlike prostitusie. Só het hy die binnekant van tronke leer ken.

Charmaine was stil op die agtergrond by sy begrafnis.

Angelique Orsö en Lawrence van Blerk

Satanisme, heksery, gebroke ouerhuise en mishandeling.

Sielkundiges getuig Angelique het Lawrence oorheers en gemanipuleer, dat sy “meervoudige persoonlikheidstipes” gehad het. ’n Distriksgeneesheer het getuig: “Sy het ’n intense uitdrukking op haar gesig gehad, veral in haar oë. Dit was asof haar oë gebrand het; die pupille het ’n mens deurboor.”

Dis soos psigopate kyk.

Albei het uit gebroke huise gekom. Daar was mishandeling en Angelique is blykbaar seksueel gemolesteer. Sy het ’n denkbeeldige maatjie genaamd Julian gehad, soos sy later ook vir Lawrence sou noem.

Hul verdediging het op duiwelbesetenheid berus in die tyd toe Suid-Afrika in die greep van sogenaamde “Satan-paniek” was. Angelique het aangevoer sy is deur ’n “slegte heks” daartoe gedryf om haar ma te vermoor. Sy was self ’n heks.

Maar die hoof van psigiatrie by die Valkenberg-hospitaal in Kaapstad het getuig nie een van die twee het aan ’n geestesiekte tydens die moord gely nie.

Angelique is langer tronkstraf (11 jaar) as Lawrence (8 jaar) opgelê.

Salomé Deyzel

Salomé se pa, Solly, was werkloos en meestal dronk. Hy het Salomé op 15 uit die skool gehaal en haar laat werk as karwag en prostituut vir drankgeld vir hom. Hy het haar ook huur laat betaal.

Hy het haar begin molesteer, siende dat sy reeds ’n prostituut was …

Solly het doodgebrand nadat Salomé die petrol oor hom uitgegooi het, maar Neeltjie Reese het nog ’n ruk gelewe en kon Salomé se naam prewel.

Salomé beland in ’n plek van veiligheid, maar die saak teen haar word teruggetrek weens onvoldoende getuienis, al het sy ’n bekentenis afgelê. (Dit was ontoelaatbaar in die hof omdat dit nie in die teenwoordigheid van haar voog of regsverteenwoordiger was nie.)

Op 18 word sy weer van die moorde aangekla en skuldig bevind.

Dis duidelik dat Salomé se huislike omstandighede uiters sleg was. Haar ma, Amelia, wat eers met Solly getroud was, had ’n nuwe man in haar lewe en wou haar nie hê nie. Sy het wel die hofsaak bygewoon, maar het voor die vonnis uitgeloop, skryf die joernalis Charné Kemp.

“Waar is my ma?” het Salomé dadelik gevra nadat sy gevonnis is.

Alta Pretorius en Jaco Steyn

Hulle het albei uit disfunksionele gesinne gekom.

Alta se pa, ’n alkoholis, pleeg selfmoord toe sy 12 was, en sy begin dagga rook. Later gebruik albei tieners sterker dwelms. Alta het dit geniet om mense, soos sy dit gestel het, te “mind fuck”. Albei tieners was arrogant en manipulerend en albei beland in jeugsentrums.

In 10 jaar was Alta in agt verskillende skole, Jaco is uit sewe skole geskors, die eerste keer in graad 2 omdat hy geld gesteel het.

“Tel tot drie,” sê Jaco.

Toe steek hulle haar ma meer as 20 keer waar sy voor die TV aan die slaap geraak het.

Santa Pretorius pleit om haar lewe, maar Jaco wurg haar met ’n skoenveter om seker te maak sy’s dood. Hulle wou haar lyk opsaag en in die toilet afspoel, maar Jaco sê later hy was “te lui” om dit te doen.

Ná die moord steel hulle ’n vriend se vuurwapen en gebruik dit om ’n motor te kaap. Hulle gaan hul gang in ’n woonstel in Sunnyside, met haar ma se lyk steeds in die sitkamer.

In die hofuitspraak het die regter gesê ongebreidelde seks, dwelms en alkohol het ’n groot rol gespeel in die jongmense se verhouding. Hulle het geen respek vir enige vorm van gesag gehad nie. Al was Jaco amper twee jaar ouer as Alta, was sy die intelligente, manipulerende een.

Volgens ’n psigiatriese verslag het sy narsistiese persoonlikheidstrekke gehad en Jaco se gedrag was antisosiaal (psigopaties).

Phoenix Racing Cloud Theron en Kyle Maspero

Phoenix (“Racy”) Theron se huislike omstandighede was eweneens swak.

In Mei 2014 het sy ter versagting in die hof getuig hoe sy die eerste drie jaar van haar lewe saam met haar ouers in ’n perdekar die land deurkruis het. Hulle was hippies wat marionette vir ’n inkomste verkoop het. Hulle het dwelms gebruik. Later het sy saam met haar ma in motors, busse, bouvalle en woonwaens gewoon.

Phoenix is seksueel misbruik vandat sy 6 jaar oud was, later deur haar ouma se kêrel. Haar ma het haar en haar sussie en broer verwaarloos. Sy moes leer om kos te steel omdat daar gereeld nie kos in die huis was nie. Haar ma sou vir dae of weke net verdwyn.

In ’n stadium is Phoenix weggestuur om by haar pa, Ivan, te gaan woon. Elk van die drie kinders het ’n ander pa gehad, het Ivan gesê.

Haar ma was gekant teen haar verhouding met Kyle Maspero. Phoenix het swanger geraak en het ’n aborsie ondergaan.

Charial, haar jonger halfsussie (9), is nooit skool toe gestuur nie en haar sosiale vaardighede was swak. Sy sou “gromgeluide” maak. Phoenix het haar later self skool toe geneem. Sy wou haar sussie beskerm en uit haar ma se sorg neem. (Nadat haar ma “verdwyn” het, het sy inderdaad toesig oor Charial gekry.)

Kort voor die moord was daar blykbaar ’n argument, juis omdat die sussie nie by ’n skool ingeskryf was nie. Sy sal net wegloop, het Rosemary gesê. Haar ma se geestestoestand het gewissel van helder en sjarmant tot smalend en gemeen, het Phoenix getuig. Daar was woedeuitbarstings en geweld.

“Ons het buite die huis gaan dagga rook en bespiegel dat die kind se lewe beter sou wees as sy (hul ma) nie daar was nie.”

Volgens die pleitverduideliking het Phoenix vir Kyle gesê om haar ma met ’n graaf dood te slaan, maar “dit sal mensliker wees as ons haar verwurg omdat sy haar bewussyn sal verloor en nie sal ly nie”.

Sy het haar ma se aandag afgelei deur haar ’n drukkie te gee sodat Kyle haar van agter kon bekruip en verwurg. Nadat hulle haar doodgemaak en as vermis aangegee het, het hulle op Facebook aangekondig hulle is getroud.

Op die Facebook-blad, “In Loving Memory of Rosemary Theron”, skryf ’n kennis sy was altyd ’n “sorgsame, liefdevolle en geduldige ma” met “baie gelag, drukkies en vreugde”.

Phoenix dien tans ’n vonnis van effektief 15 jaar uit. Die saak teen die vriend Godfrey Scheepers, wat gehelp het om die lyk te verskuif, is voorlopig teruggetrek.

Kyle se huislike omstandighede was ook nie goed nie. Sy ouers is geskei toe hy nog ’n baba was. Sy ouma het vir ’n paar jaar na hom omgesien omdat sy ma ’n “onstabiele leefstyl” gehad het. Hy het minimale kontak met sy pa gehad. Sy ma is oorlede toe hy 7 was en hy is deur haar kêrel aangeneem.

Op 10 is hy weggestuur na ’n tante in Johannesburg omdat hy ’n brand by bure se huis gestig het. Hy het “abnormale gedrag” begin openbaar. Hy het begin steel en is uit die een skool ná die ander gesit weens dwelms. Hy het nie net tik gerook nie, maar ook begin om dit te verkoop.

Kyle is vir sielkundige waarneming gestuur. Hy het aangevoer hy het breinskade opgedoen weens herhaalde dwelmmisbruik en sukkel om die feite van die moord te onthou. Maar volgens ’n psigiatriese verslag is sy onvermoë om te onthou nie toe te skryf aan enige psigiatriese of patologiese rede nie en is hy geskik om verhoor te word. Hy het skuld beken en is tot effektief 13 jaar tronkstraf gevonnis.

Chané van Heerden en Maartens van der Merwe

Maartens van der Merwe was ’n eensame kind.

Hy was 5 toe hy ’n draak met die aarde in sy hand sien staan het. Later sou hy ’n dosyn mense sien terwyl daar net ’n paar is. Hy kon nie onderskei tussen die werklike mense en die ander nie.

Hy’t ander hallusinasies gekry. ’n Vrou genaamd Lily was altyd by hom. ’n Vriend sou later vir hom sê dis eintlik Lilith, ’n demoon.

Hy het homself begin sny. Tot op 10 het hy sy bed natgemaak. Daar was stemme in sy kop. Dit het hom spesiaal laat voel, nie bang nie. Op 14 is hy as ’n skisofreen gediagnoseer.

In die hof het hy verduidelik dit was moeilik en ongemaklik vir hom “om in hierdie lewe te wees”. Die hof het bevind hy was ten tyde van die moord “psigies gesond” nadat hy drie keer geevalueer is, hoewel daar meningsverskil hieroor was.

Chané van Heerden, wat apart verhoor is, het geen berou getoon nie.

“Ek weet ek moet skuldig voel omdat almal so sê. Almal verwag dit van my. Ek probeer self skuldig voel, maar ek kan nie.”

’n Bepalende psigopatiese trek.

Sy was klein en tenger, sowat 52 kg. Maartens was haar Dark Prince, sy was sy Godin. Later het hy Dexter geword en sy Lumen, na aanleiding van die TV-reeks oor ’n reeksmoordenaar, ’n onderwerp waaroor etlike boeke in hul woonstel gevind is, ook Stephen King-boeke. Hulle was gefassineer deur reeksmoordenaars.

Saam het hulle die okkulte bestudeer. ’n Bekende Satanjagter en polisieman uit daardie tyd, Danie Krügel, het die moord op die jong elektrisiën in die begraafplaas as Satanisties beskryf, maar die destydse forensiese- polisiesielkundige Gérard Labuschagne, het getuig dit was ’n “sielkundig gemotiveerde misdaad”.

In die hof is aangevoer Chané moet as ’n reeksmoordenaar behandel word. Die senior staatsaanklaer het haar beskryf as ’n monster wat weer en weer sal doodmaak. Hy’t die hof gevra om haar tot “gevaarlike misdadiger” (’n regsterm) te verklaar. Kenners was dit eens dat die twee weer sou moor.

Nadat hulle aangekeer is, het Chané baie kalm hul slagoffer se ledemate uit die vrieskas gehaal, tussen gevriesde vleis en groente, en aan speurders oorhandig, skryf die joernalis Jana van der Merwe. Daar was onder meer ’n makabere masker van Michael van Eck se gesig, die mond toegewerk met naald en gare, en die ooglede weg.

“Sy gesig,” het Chané verduidelik en dit aangegee. Sy’t nog iets uit die vrieskas gehaal: “Sy oë en ore.”

Sy het ’n bandopname van haarself op haar selfoon gemaak terwyl sy Michael se gesig afgesny het. Volgens die forensiese sielkundige en kriminoloog prof. Dap Louw, destyds hoof van die Universiteit van die Vrystaat se sielkundedepartement, is moorde waar die slagoffer se vel afgesny word skaars.

Geld wat hulle by Michael gevat het, is in hul woonstel gekry. Maartens het aan die speurders verduidelik hulle wou grawe koop “vir volgende keer”.

“Dis nie maklik om ’n gat te grawe met ’n soplepel nie, jy weet?”

Chané het as kind “vreemd” opgetree en het met seks en dwelms geëksperimenteer. Sy was ’n eenkantkind wat al hoe meer afgesonderd en verwerp gevoel het. Op 15 het sy ’n seksuele verhouding met ’n 22-jarige selferkende Satanis aangeknoop, wat haar van haar familie vervreem het.

Haar blonde hare het sy swart gekleur.

Chané se ouerhuis was nie stabiel nie. Haar ma het onbepland swanger geraak en met Chané se geboorte wou sy nie haar jongste kind vashou nie. Haar ma se tweede man, ’n majoor in die weermag, het haar en haar ma aangerand. Haar verhouding met haar biologiese pa was wel goed, skryf Van der Merwe.

Hoewel Chané en Maartens albei uit disfunksionele gesinne gekom het, het Louw bevind hul familieagtergrond het nie enige relevante effek gehad op hoekom hulle die moord gepleeg het nie.

Haar “oorgelowige” oupa het haar as demonies besete beskryf en het haar voor in die kerk laat staan sodat gemeentelede vir haar kon bid terwyl hy die duiwels uit haar dryf.

Sy was in daardie stadium net 8.

Chané het haar poppe met skoenveters vasgebind en geblinddoek omdat haar ma vir haar gesê het die poppe word snags wakker. Die poppe in die nag het haar vreesbevange gemaak.

Ná die moord het haar pa haar gevra: “Hoekom het jy dit gedoen? Hoekom het jy dit gedoen?”

“Dit was iets wat ek wou doen sedert ek 3 jaar oud was,” het Van der Merwe haar aangehaal. “Ek wou dit doen, ek het dit gedoen, en ek sal dit weer doen.”

Later, uit die tronk, sou sy Michael se ma se vraag “hoekom?” beantwoord met: “Ek was dood van binne.”

Die eerste nag in haar tronksel het sy ’n blikbeker met haar kaal hande stukkend geskeur en haar bene gesny. Die snyery het al vroeër begin. Sy het ook vir Maartens gesny tydens seks, wat hy “knife play” genoem het.

Louw het Chané in die hof as die “tipiese meisie van langsaan” beskryf, baie aangenaam en eerlik, maar hy kon nie met sekerheid vasstel of sy ’n psigopaat is nie. Sy het wel psigopatiese eienskappe getoon. Die psigiater Merryll Vorster het wel bevind sy’s ’n psigopaat.

Ook Maartens het psigopatiese eienskappe gehad.

Hulle het mekaar op ’n sosiale kletsgroep raakgeloop en het mekaar die eerste keer in die Welkom-begraafplaas ontmoet … net twee dae voor die moord. In die hof het Maartens gesê hulle was nie ’n goeie invloed op mekaar nie en hulle sou nie op hul eie die moord gepleeg het nie.

Ná net vier dae in die hof is Chané tot gevaarlike misdadiger verklaar, wat ’n onbepaalde tronkvonnis beteken en dat sy ná 20 jaar, in November 2031, weer in die hof moet verskyn vir evaluasie.

Sy was nou 21.

Maartens is lewenslank tronk toe gestuur.

Hy was nou 26 en sal in 2037 kan aansoek doen om parool.

Uit selfs net ’n paar gevallestudies soos hierbo, en soos sal blyk uit ander gevalle, is die gemene delers gou duidelik: Onbetrokke ouers, swak of onstabiele huislike omstandighede, disfunksionele gesinne, kinderverwaarlosing en mishandeling, kleindiefstal, verkeerde maats (portuurdruk), geestesprobleme soos skisofrenie en psigopatie, jaloesie, alkohol- en dwelmmisbruik, seksuele molestering en geweld.

Tot Satanisme en die okkulte.

Kinders wat moor

Подняться наверх