Читать книгу Kinders wat moor - André le Roux - Страница 4

1. Die Malvalekker-toets

Оглавление

Hier’s vir jou ’n malvalekker – of twee.

Dit het ’n klassieke eksperiment geword. En dis ’n vroeë aanduiding van watter kind later suksesvol in die lewe sal wees. Die kind wat ’n bietjie kan wag …

Kinders jonger as 4 is nie goed hiermee nie. Hulle wil alles nóú hê.

The Marshmallow Test was ’n blink en eenvoudige idee van die sielkundige Walter Mischel. Gee vir ’n kind ’n malvalekker en sê hy kan dit dadelik eet, of, as hy ’n rukkie wag, kry hy nog een.

Wat gaan die kind doen?

Mischel het die eksperiment in die laat 1960’s met voorskoolse kinders van die Stanford-universiteit se kleuterskool gedoen, meestal met kinders tussen 4 en 6 jaar. Om dit ’n bietjie moeiliker te maak, is die kinders in ’n leë vertrek gesit met net ’n stoel en ’n tafel waarop die malvalekker was. Geen speelgoed of allerhande interessante dinge wat die kind se aandag van die malvalekker kon aflei nie.

O, die versoeking!

Vooraf het die navorser eers die kind se vertroue gewen sodat die kind hom sou glo dat hy wel die tweede malvalekker sal kry. Indien nie, kon die kind redeneer hy moet liewer vat wat hy kan kry ingeval daai oom sy belofte verbreek. Die kind kon inderdaad die tweede malvalekker sien terwyl hy wag.

Dan verduidelik die navorser vir die kind hy moet net gou vir ’n rukkie uitgaan, maar hy kom weer terug (sê net nie hoe lank hy gaan wegbly nie, so 15, 20 minute, ’n ewigheid vir ’n kleuter). Die kind kan ook enige tyd ’n klokkie lui om die navorser vroeër terug te roep, maar dan verbeur hy sy kans op nog ’n malvalekker. Of hy kon wag tot die navorser self terugkom, waarop hy met die tweede malvalekker beloon word.

O, geduld!

Mischel en sy span het die kinders deur eenrigtingglas dopgehou en gesien hoe hulle allerhande maniere probeer vind om nie voor die versoeking te swig nie. Hulle moes kennelik hul gedagtes van die malvalekker afkry.

Dit gaan oor selfbeheer.

Party kinders kyk in die lug rond, ander maan hulself: “Nee, nee.” Of hulle maak storietjies of liedjies op. Hulle speel ernstig met die klokkie sonder om dit te lui, of hulle speel met hul tone. Hulle kriewel op die stoel, skop teen die tafel, bekyk en beloer daardie malvalekker, of maak hul oë toe, lê op hul arms en kyk weg, draai hul rug op die malvalekker, ruik daaraan, lek daaraan, trek gesigte, stoot die bordjie met die malvalekker so ver as moontlik weg, of hulle streel die malvalekker “asof dit ’n opgestopte diertjie is”. Party het selfs probeer slaap.

Of hulle kroek. Hulle hol die malvalekker uit en draai dit om sodat niemand kan sien die binnekant is weg nie.

Een dogtertjie het aan Mischel verduidelik sy het, heel vindingryk, haar verbeel die malvalekker is net ’n prentjie: “Jy kan nie ’n prentjie eet nie!”

Wanneer die navorser vooraf dié einste raad vir ’n kind gegee het – sit ’n raampie om die malvalekker en verbeel jou dis net ’n prentjie, teenoor, beskou die malvalekker as ’n malvalekker – het eersgenoemde groep gemiddeld 18 minute uitgehou teenoor die tweede groep se 6 minute. Ook kinders wat vooraf “treurig” gemaak is – “terwyl jy wag, dink aan hoe jy huil en daar’s niemand om jou te help nie” – het die malvalekker gouer geëet. (Depressiewe mense is geneig om kleiner maar onmiddellike belonings te verkies teenoor gelukkiger mense. So ook verslaafdes. Hulle kan nie wag vir ’n groter beloning nie.)

Van die honderde kinders wat getoets is, het ’n minderheid die malvalekker dadelik geëet, in net 30 sekondes. ’n Derde van die kinders het beloning lank genoeg uitgestel om die tweede malvalekker te kry.

Een navorser het op die kinders se gevoel gespeel. Hy het vir hulle ’n klein stukkie sjokolade beloof – nou – of ’n baie groter stuk 10 minute later. Aan een seuntjie het hy gevra: “Wat sal ’n intelligente kind kies?”

Die seuntjie het geantwoord daardie slim seuntjie sal wag.

“Wat sal jý doen?”

“Ek sal dit dadelik vat!”

Wat na ’n rasionele besluit klink.

Dis soos navorsers aan die Universiteit van Pennsilvanië ook gespekuleer het. ’n Sleutelfaktor in die kinders se besluit om die malvalekker te eet of nie, is die feit dat hulle nie geweet het hoe lank hulle vir die tweede een sal moet wag nie. Is dit die moeite werd om vir ewig hier te sit, of moet ek nog net ’n minuut of twee uithou?

Hoe langer jy wag vir ’n beloning, meen die navorsers, hoe verder buite jou bereik voel dit. Dit is dus ’n rasionele besluit om dit nóú te eet, nie impulsief nie. Maar dan “wen” die malvalekker …

Mischel sê om selfbeheer toe te pas moes die kinders die brein se “uitvoerende funksie” van die prefrontale korteks inspan, daardie kognitiewe vaardigheid wat ons help om ons gedagtes, impulse, optredes en emosies doelbewus te beheer, wat uiteindelik help dat ons ons doelwitte bereik.

Dit behels drie dinge:

1.Die kinders moes hul gekose doel deurentyd in gedagte hou. (“Ek gaan wag, dan kry ek twee.”)

2.Hulle moes hul vordering monitor en waar nodig aanpassings maak deur hul aandag te verskuif tussen die versoeking om te swig en die einddoel van ’n groter beloning. (“Kom ek sing ’n liedjie.”)

3.Hulle moes hul natuurlike, impulsiewe reaksies temper. (“Nee, hou jou in, moenie vat nie!”)

Wanneer jy jou gedagtes oor die malvalekker verander (“dis net ’n prentjie”), raak dit makliker om die versoeking te weerstaan en jou gedrag te verander.

“Die Malvalekker-eksperimente het my oortuig dat as mense die manier kan verander waarop hulle ’n stimulus in hul kop ervaar, kan hulle selfbeheer uitoefen,” skryf Mischel. Ons “realiteit” is immers ’n konstruksie wat elkeen vir homself skep, en ons kan dit verander. Jy kan dus jouself distansieer van ’n realiteit wat die lewe swaar maak.

Dink net anders daaroor.

Maar kleintjies sukkel daarmee. (Daar is etlike vermaaklike video’s op YouTube wat die kinders se wroegings wys. In een klim ’n dogtertjie van die stoel af en gaan loer om die deur om te kyk waar bly die tannie dan so lank – nadat sy klaar die malvalekker geëet het.)

Maar algaande, hoe ouer hulle word, kry kinders dit reg om hul impulsiwiteit te beheer en te wag vir die groter beloning. Die goeie nuus is: Kinders kan geduld geleer word.

Mischel het ook tot die slotsom gekom dit help as ’n ma nie oormatig oorheersend en beherend is nie en sensitief is vir die behoeftes van die kleuter. Dit help as die ma (of versorger) óók geduld het. Hierdie kleuters had minder stres en meer selfbeheer. Later, op 5 jaar, het hulle beter gevaar in die Malvalekker-toets.

Daar is ook ’n genderverskil. Dogtertjies kan langer wag as seuntjies.

Vra kinders so jonk soos 3 om ’n lekker op hul tong te sit en dit vir so lank as moontlik daar te hou, en dis die seuntjies wat eerste die lekker eet, sê die wêreldbekende outismekenner en sielkundige Simon Baron-Cohen. (Mans het oor die algemeen minder selfbeheer as vroue.)

Later, op skool, vaar dogtertjies ook beter as seuntjies in ’n hipotetiese keuse: R50 nou of R100 oor twee maande. Die meeste meisies, meer as die seuns, wag daardie twee maande. Wanneer die keuse nie meer bloot hipoteties is nie, maar werklik: Hou hierdie koevert met R50 daarin en kom ruil dit volgende week om vir een met R100 in, dan val die genderverskil weg.

Mischel het ’n voorloper van die Malvalekker-toets vroeër in Trinidad uitgevoer waar 7- tot 9-jariges ’n volle week moes wag vir ’n lekker wat 10 keer duurder was as die een wat hulle dadelik kon kry. Hy’t vasgestel kinders uit gesinne met twee ouers het beter gevaar as kinders uit enkelouergesinne of waar die pa afwesig was.

’n Mens sou ook dink arm kinders wat nie weet waar hul volgende bord kos vandaan gaan kom nie sal die lekker dadelik vat. Hulle vertrou dalk ook grootmense minder. Vir sommige navorsers dui dit dus nie op ’n gebrek aan selfbeheer by die kind nie, maar dis bloot ’n aanduiding van die kind se wêreldbeskouing.

Die Trinidad-kinders wat nie kon wag vir die groter beloning nie, het Mischel bevind, was meer dikwels in die moeilikheid. Hulle was jeugoortreders wat reeds met die gereg gebots het. Hulle was sosiaal minder verantwoordelik en minder ambisieus.

So gewild was die Malvalekker-toets dat kinders in New York met T-hemde loop en spog het waarop staan: Don’t Eat The Marshmallow en I Passed The Marshmallow Test.

Mischel het die eksperiment nie daar gelaat nie.

Van die 550 kinders wat hy tussen 1968 en 1974 getoets het, het hy elke dekade opgevolg om te sien hoe dit met hulle gaan. Tot sy verbasing: Dié wat op 4 of 5 jaar kon wag, het later in hul lewens in álle opsigte beter gevaar as dié wat onmiddellike bevrediging gekies het. In adolessensie was sulke kinders sosiaal beter aangepas, het beter selfbeheer in frustrerende situasies gehad, meer deursettingsvermoë, meer selfvertroue en hulle was meer optimisties. Hulle het minder toegegee aan versoekings, kon beter konsentreer en vooruit beplan, en was meer gemotiveerd.

Meer het universiteitstoelating gekry.

Rondom 25- tot 30-jarige ouderdom het hulle ’n beter opvoeding gehad. En hul gewig was ook meer ideaal. (Selfbeheer!) Hulle het ’n beter sin van selfwaarde gehad, kon doelstellings beter nastreef, het frustrasies en stres beter hanteer. Hulle het ook nie so baie riskante dwelms gebruik nie. Hul interpersoonlike verhoudings was beter, hul romantiese verhoudings stabieler. Hulle kon selfs sosiale verwerping beter hanteer.

Die waarde van ’n bietjie wilskrag toe jy nog klein was …

Breinskanderings het ook getoon hulle het beter probleemoplossingsvaardighede, kreatiewe denke en impulsbeheer gehad. Daarteenoor was daar by die kinders wat nie kon wag nie, meer aktiwiteit in dele van die brein wat te doen het met plesier en verslawings. Die beloningstelsel in dié kinders se breine het gereageer op die onmiddellike beloning, aangespoor deur die voorkoms, klank, reuk, smaak en gevoel van die objek, veral wanneer dit iets was waarvan hulle hou.

Joachim de Posada, motiveringspreker en skrywer, sê in ’n TED Talk (Technology, Entertainment and Design, www.ted.com) om vir ’n 4-jarige te sê om 15 minute te wag vir iets waarvan hy hou, is soos om vir ’n volwassene te sê ons bring die koffie oor 2 uur. Hy’t die eksperiment met Colombiaanse kinders uitgevoer en gesien 2 uit 3 het die malvalekker dadelik geëet.

Hy glo uitgestelde bevrediging – selfdissipline – is die belangrikste faktor vir sukses, ’n statisties beduidende afleiding wat Mischel ook gemaak het, en wat bevestig is deur latere toetse oor ’n breë spektrum van gemeenskappe. En nes geduld kan kinders ook uitgestelde bevrediging geleer word.

(De Posada sê die kinders wat die malvalekker uithol, sal ook sukses behaal, maar hulle moet liewer nie in die bankwese of agter ’n geldlaai werk nie!)

“Selfbeheer,” sê Mischel, “is deurslaggewend vir die suksesvolle nastreef van langtermyndoelwitte. Dis ewe noodsaaklik om die selfbeheer en empatie te ontwikkel wat nodig is om sorgsame en onderling ondersteunende verhoudings te bou.”

Selfbeheer help dat kinders nie op skool uitval of later vasval in ’n werk waarvan hulle nie hou nie. Dis onderliggend aan emosionele intelligensie, wat noodsaaklik is vir ’n vervulde lewe.

Maar Mischel het ook bevind ’n paar kinders wat nie kon wag nie, het wel later in hul lewe groter selfbeheer aangeleer, en omgekeerd. Wat belangrik bly, is die selfbeheer.

Dan kan jy jouself maar soms bederf en die malvalekker dadelik eet.

Kinders wat moor

Подняться наверх