Читать книгу Kinders wat moor - André le Roux - Страница 18

2. Gehegtheid en die afwesige ma

Оглавление

If a community values its children

it must cherish their parents.

– John Bowlby

Vir die kind begin dit by daardie gehegtheid of liefde. Dis as ’t ware die eerste linie van verdediging teen latere ongelukkigheid, probleme en geweld.

Of moord.

Die befaamde Britse kindersielkundige en psigoanalis John Bowlby se ma het hom net een uur per dag gesien omdat sy geglo het kinders word bederf deur te veel aandag en liefde. In die 1950’s is ouers aangeraai om nie ’n kind te veel op te tel nie en hom maar te laat huil. Fisieke kontak met babas is nadelig vir hul ontwikkeling.

Reeds in 1928 het die Amerikaanse sielkundige John B. Watson, destyds ’n gesaghebbende kenner op die gebied van kindersorg, gesê ouers moet kinders soos klein grootmense behandel. Moenie te veel drukkies en soentjies gee nie, het hy in sy hoogs gewilde Psychological Care of Infant and Child geskryf. Moet nooit dat hulle op jou skoot sit nie. As jy moet, soen hulle een keer op die voorkop wanneer hulle kom nagsê. Skud hand met hulle die volgende oggend.

As jy ’n huilende kind troos, gaan jy net sy huilgedrag versterk.

Watson was ’n “hoogs geëerde profeet in sy eie land”.

Hy’t geglo liefde is ’n gekondisioneerde reaksie. Moenie te emosioneel betrokke raak by die kind nie, want, het hy gewaarsku, die kind kan te geheg raak aan sy ma of pa.

“Sit die kind die meeste van die tyd in die agterplaas. Bou ’n heining om die agterplaas sodat die kind nie iets oorkom nie. Laat hy leer om self struikelblokke te oorkom feitlik van die oomblik van geboorte af. As jou hart te sag is en jy moet die kind dophou, maak vir jou ’n loergaatjie, sodat jy kan sien sonder om gesien te word, of gebruik ’n periskoop.”

Vele “kinderkenners” het soos Watson gedink. Deborah Blum haal dié kenners se dwalinge deur die jare aan. Soos: Babas kan nie gesigte sien nie (1942). Babas is onbewus van feitlik enigiets rondom hulle (1948). Pasgebore babas is net ’n versameling reflekse (1952). Babas sien nie kleur voor 3 jaar nie (1964). Babas is basies breinloos (1964).

Watson het selfs ernstig gewonder of kinders “individuele huise” moes hê, selfs of kinders hul ouers moes ken. Daar is ongetwyfeld baie meer wetenskaplike maniere om kinders groot te maak, wat waarskynlik beter en gelukkiger kinders sal beteken, het hy gereken.

“Want vroue het vandag (1920’s) nie genoeg om te doen nie. Hulle het las van te veel tyd, en hulle gebruik daardie tyd om hul kinders se geluk te ondermyn.”

En wat is ’n gelukkige kind?

“Dis een wat nooit huil nie tensy hy inderdaad met ’n speld gesteek word, wat eet wat voor hom neergesit word en wat slaap en rus wanneer hy in die bed gesit word om te slaap en rus.”

Watson se eie twee kinders is deur hul ma en oppassers grootgemaak.

Die goeie dr. Watson en Klein Albert

Die goeie dr. Watson was ook verantwoordelik vir die Little Albert-eksperiment in 1920, waarin hy klassieke kondisionering by mense wou toets deur die 11 maande oue Albert bang te maak vir iets waarvoor die seuntjie normaalweg nie bang sou wees nie. Sagte, wollerige diertjies soos ’n witrot of hasie.

Nie ’n mooi eksperiment nie (op YouTube) … Watson wou ’n fobie skep in ’n emosioneel heeltemal stabiele kind. Hy’t nes Pavlov met sy gekondisioneerde honde te werk gegaan.

Klein Albert was nie bang vir witrotte nie. Hy’s toegelaat om doodgelukkig met die rot te speel, maar dan, elke keer wanneer hy aan die rot raak, maak Watson ’n groot geraas met ’n hamer teen ’n staalpyp agter Albert se rug.

Natuurlik skrik Albert.

Hy begin huil en raak bang elke keer as hy die geraas hoor. Ná ’n paar keer word hy die rot gewys sonder die harde geluid. Albert probeer steeds huilend wegkom as hy die rot sien – ’n gekondisioneerde reaksie op wat aanvanklik ’n neutrale stimulus was. Hy het ook begin huil wanneer hy ’n hasie, ’n hond en ’n pelsjas sien.

Klein Albert het waarskynlik vir die res van sy lewe ’n fobie vir sagte, wollerige diere – en pelsjasse – gehad, want Watson het nie sy gekondisioneerde vrees weggeneem nie (dekondisionering), deur hom byvoorbeeld gewoond te maak aan die rot en tussen ander kinders te plaas wat nie bang is vir rotte nie. Miskien het Albert wel later in sy lewe self besef hy hoef nie bang te wees vir wollerige goed nie, ons weet nie.

Judith Rich Harris, teoretikus en sielkunde-navorser, het die eksperiment uitmekaar getrek. Navorsers wat teruggegaan het na Watson se oorspronklike eksperiment, sê sy resultate was oordrewe. Klein Albert was ’n duimsuier. Om enigsins reaksie uit hom te kry, moes die navorser sy duim uit sy mond hou.

Wanneer hulle hom in verskillende vertrekke getoets het, het hy min reaksie op die diere getoon. Hulle het alles moontlik gedoen om hom bang te maak, maar wanneer hy nie vir die rot geskrik het nie, het hulle die diertjie op sy arm of bors gesit.

Albert se reaksie was ambivalent. Ander navorsers kon ook nie ’n vreesreaksie uit ander kinders kry toe hulle die eksperiment herhaal het nie.

Maar wat het Watson nou eintlik bewys?

Wel, hy wou bewys dat ouers hul kinders se gedrag en ontwikkeling kan vorm bloot deur assosiasies tussen stimulus en reaksie te beheer. Daarom is die kind se optrede die ouers se verantwoordelikheid, want hulle bepaal die omgewing waarin die kind ontwikkel.

Kinders se gedrag is dus die ouers se toedoen.

Watson se ma was hipergodsdienstig en sy pa ’n alkoholis met ’n “wilde streep” en heelparty minnaresse. Hy’t weggeloop toe Watson 13 was. Klein Johnny Watson het sy pa se wilde streep gehad en het nie goed gevaar op skool nie. Hy is twee keer op hoërskool gearresteer vir bakleiery en die afvuur van ’n vuurwapen.

Watson was na aan sy ouers, maar hy’t nie van te veel intimiteit gehou nie. Sy lewe lank was hy bang vir die duiwel en die donker.

Hy is op 16 universiteit toe waar hy glo asosiaal, lui en opstandig was, maar hy het ’n meestersgraad behaal op 21 en was later die stigter van gedragsleer (behaviourism) in die sielkunde, wat mense se uiterlike gedrag bestudeer, nie innerlike bewussyn nie.

Hy het sy doktorstesis geskryf oor die ontwikkeling van witrotte.

Harris sê Watson wou eerder Freud verkeerd bewys. Klein Albert se reaksies was op die harde geluid, nie op iets in sy Freudiaanse onderbewuste nie.

Om ’n hond koshuis toe te stuur op 7 jaar

John Bowlby, die vierde van ses kinders, se ma het hom op 7 jaar koshuis toe gestuur, wat vir hom aaklig was.

“Ek sal nie ’n hond koshuis toe stuur op 7 jaar nie,” het hy later gesê. Hy was gelukkig genoeg om ’n paar liefdevolle kinderoppassers te hê waaraan hy geheg kon raak.

Bowlby het reeds in die 1940’s baanbrekerswerk gedoen oor die belangrikheid van die band tussen ma en kind, wat hy gehegtheidsteorie genoem het.

In wese raak alle babas geheg aan enige versorger. Die baba kan immers nie vir homself sorg nie en ná sy geboorte weet hy in elk geval nie eens wie sy ma of pa is nie. Hy het minstens een primêre versorger nodig, wat gewoonlik die ma is, maar dit kan ook enigeen wees wat die kind gereeld sien. ’n Oppasser, ouma, tante, selfs ’n ouer suster, ’n hele buurt of gemeenskap.

Solank daar iemand is vir die kind.

Hierdie gehegtheid verskil egter van baba tot baba, wat die kind se sosiale ontwikkeling kan beïnvloed.

In die 1960’s en ’70’s het die sielkundige Mary Ainsworth, wat later saam met Bowlby aan gehegtheidsteorie gewerk het, bevind dié verskille berus hoofsaaklik op hoe die kind sy vroeë versorgingsomgewing ervaar. Vroeë patrone of style van gehegtheid vorm die kind se verwagtinge van latere verhoudings, maar dit bepaal nie daardie verhoudings nie.

Byvoorbeeld, die meeste 1-jariges ondersoek hul omgewing, maar keer altyd terug na hul versorger, wat hulle as ’n veilige basis (secure base of safe base) gebruik. (Die term vir gehegtheidsteorie was eers security theory.) Die kind het dus ’n veilige gehegtheidstyl (secure attachment style). Sulke kinders weet hulle kan staatmaak op Ma se beskerming en emosionele ondersteuning. Wanneer die kind “Mááá!” roep, weet hy Ma sal kom kyk wat verkeerd is, én dit regmaak. Die kind se oorlewing hang hiervan af. Hy weet ook: Bly naby Ma en jy sal niks oorkom nie.

Harry Harlow se uil-apies het presies dieselfde opgetree. Sonder hul surrogaat-ma, nie eens hul regte ma nie, was hulle lamgelê deur vrees, het in ’n bolletjie opgekrul en hul duim gesuig.

Babas skaars ouer as 6 maande kan depressief raak as hulle te veel weg is van hul ma, sogenaamde anaklitiese depressie, eers bekend as die eensamekind-sindroom of hospitalisme, wat verwys het na babas wat weggekwyn het terwyl hulle in die hospitaal sonder hul ma was.

Dié babas het ’n ontwikkelingsagterstand (“failure to thrive”), wat later ernstige persoonlikheids- en aanpassingsprobleme vir die kind kon skep. Dis veroorsaak deur ’n gebrek aan kontak met die baba. Dit was destyds nie soseer ’n probleem in armer hospitale wat nie broeikaste kon bekostig nie – die personeel het die babas dus meer vasgehou.

Die kritieke tydperk vir gehegtheid is die eerste 2 jaar van die baba se lewe. Dit moet verkieslik in die eerste jaar gebeur, ná 2 jaar is dit te laat.

Daardie kleintjie wat so skree, doen dit om Ma te roep. Wanneer dit nie werk nie, skree hy net harder. Bowlby en Ainsworth het albei agtergekom wanneer ma’s in die eerste jaar van die kind se lewe dadelik kom wanneer die kind huil, huil die kind vorentoe baie minder as daardie kind wat aan sy eie trane oorgelaat is.

En as Ma nie kom nie, is Pa ewe goed. Vir die kind is daar ’n hiërargie van versorgers. As Ma nie kom nie en Pa ook nie, is daar nog altyd Ouma. En as Ouma ook nie naby is nie, is daar nog altyd Ousus of tannie Ans. Sogenaamde allomothers, mede-ma’s.

Soos enigeen met kinders weet, is dit nie ’n maklike taak om ’n kind groot te maak nie, al is hulle hoe oulik. Bowlby beklemtoon om na ’n baba en jong kind om te sien, is nié die werk vir ’n enkele persoon nie. Die ma het al die hulp nodig wat sy kan kry.

“Pa’s het hul nut wanneer die baba klein is,” sê Bowlby, “maar hulle speel tweede viool ná die ma. Hul primêre rol is om hul vrou emosioneel (en finansieel) te ondersteun met die grootmaak van die kind.”

’n Mening wat uiteraard kritiek uitgelok het omdat Bowlby geïmpliseer het pa’s is nie so belangrik nie en ma’s behoort nie buite die huis te werk wanneer daar eers kinders is nie. Latere eksperimente het inderdaad getoon die kind vorm ewe maklik ’n hegte band met die pa en vele ander mense in sy omgewing.

Die pa kan nie net omdraai en wegloop nie.

Die gesinsterapeut Robin Karr-Morse en Meredith Wiley, kenner van jeugmisdaad, haal syfers aan wat sê 60% van verkragters, 75% van adolessente wat van moord aangekla is en 70% van jeugdiges in staatsinrigtings het sonder ’n pa grootgeword. Navorsers was tradisioneel geneig om alle skuld by die ma te soek, maar die afwesige pa is net so afwesig soos die afwesige ma, indien nie meer so nie.

’n Onbetrokke pa is eweneens afwesig, al is dit net emosioneel.

Waar’s my pa?

Wag net eers, sê Judith Rich Harris.

Sy vra: Is kinders wat met ’n pa grootword op die lange duur beter daaraan toe as dié sonder ’n pa? En indien wel, is dit omdat hulle ’n pa gehad het?

Die kort antwoord: Dit blyk kinders word wat kinders word, met of sonder ’n pa.

Daar is wel ’n verband, maar dis nie ’n oorsaaklike verband nie, sê Harris. Dis die buurt waarin die kind grootword wat saak maak, nie die huis nie. Daarby ook hoe baie die kind rondtrek, plus lae inkomste, wat dikwels die gevolg van egskeiding is. In daardie opsig is egskeiding nie goed vir ’n kind nie, maar dis alles dinge wat buite die huis gebeur.

En Harris opper ’n ietwat skrikwekkende gedagte: Jy kan jou kind se lewe in ’n heeltemal ander rigting stuur deur net van een woonbuurt na ’n ander te trek, of deur te besluit in watter skool jy hom sit. Daarmee verander jy sy portuurgroep. Dit is die enigste langtermyninvloed wat ouers in ’n mate op hul kinders se gedrag het, sê Harris.

Volgens Karr-Morse en Wiley het studies getoon egskeiding het nie tot kriminele gedrag by kinders gelei wanneer daar emosionele en finansiële stabiliteit ná die egskeiding was nie. Trouens, wanneer die egskeiding ’n einde bring aan huishoudelike onmin en konflik vaar die kinders beter, hoewel Harris sê data bewys nie dié stelling nie. Sy sê of die ouers gedurig baklei of vir mekaar liefdesbriefies skryf, maak nie saak nie.

Die probleem kan in die kind se gene lê …

Ook die sielkundige Scott Lilienfeld sê dis ’n mite dat egskeiding ’n langtermyn- emosionele tol van kinders eis. Dit kan die stres wees. Kinders vind ’n egskeiding byna altyd stresvol, maar die stres gaan verby.

In Amerika is bevind misdaad kom die meeste voor onder seuns wat uit ’n gebroke huis kom én waar die ma ook afwesig is, met ander woorde, sy’s nie liefdevol nie.

Net 35% van kinders in Suid-Afrika word groot met hul biologiese pa in dieselfde huis, volgens ’n vaderskapverslag in 2018 deur die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN). Seuns sonder ’n pa raak hipermanlik en aggressief. Meisies se selfvertroue en verhoudings is swakker.

Plaaslik was die egskeidingskoers in 2017 1,3 per 1 000 en in amper 56% daarvan is kinders onder 18 geraak, volgens Statistieke Suid-Afrika.

Robert Sapolsky haal navorsing aan wat bevind het meisies wat deur hul pa verlaat is, of waar daar onmin in die huwelik is, word opportunisties. Hulle het geleer mans is onbetroubare ouers. Daarom doen hulle nie moeite om ’n betroubare man te soek nie. Hulle het vroeër seks, het meer seksuele maats, meer kinders en hul huwelik sal waarskynlik wankel.

Daar is ook ’n teorie, bevestig deur verskeie studies, dat sulke meisies puberteit vroeër bereik. Maar Sapolsky sê dis eerder stres en ’n onstabiele omgewing wat ovulasie vroeër aanbring. Hierdie meisies bereik puberteit net 5 maande vroeër as ander meisies, wat nie juis beduidend is nie.

Volgens die RGN-verslag woon meer as 7,5 miljoen kinders net by hul ma (daar is ’n verband tussen enkelma’s en armoede, en alles wat dáármee saamgaan), 4,6 miljoen woon nie by hul ma óf pa nie en meer as 400 000 woon by die pa, terwyl 6,3 miljoen by albei ouers woon.

Dit bring uiteraard klein kinders se gehegtheidstyl in gedrang.

Kinders wat veilig voel in ’n huis met albei ouers, kry die kans om die wêreld vanuit meer as een perspektief te ontdek. Hulle neem selfs risiko’s, want hulle weet daar is ’n veilige basis om op terug te val. Hulle begin beweeg al hoe verder weg van Ma of die versorger om die wêreld te ondersoek. Hulle bly ook langer weg voordat hulle terugkeer na hul “basis”.

Sulke kinders, wat vertroetel en beskerm word, reageer ook geredeliker wanneer hulle sien iemand anders het hulp of troos nodig. Hulle is sensitief vir ander se nood en is meer altruïsties.

Ainsworth het bevind 70% van kinders oor die algemeen het ’n veilige gehegtheidstyl.

Maar dan is daar onseker kinders (insecure style). Hulle het geleer hulle kan nie staatmaak op Ma nie en is bang om hul omgewing te ondersoek. Sulke kinders sukkel met selfvertroue en is geneig om later sosiale probleme te ontwikkel. In ekstreme gevalle lei dit tot klein psigopaatjies, ’n verskynsel wat Bowlby “affectionless psychopathy” genoem het.

Dan word dit ’n steuring (attachment disorder). Daar’s onder meer probleme met buie, met ouderdomsverwante gedrag en verhoudings met ander mense. Die kind wat verwaarloos of mishandel word, leer dat grootmense nie te vertrou is nie. Die kind verloor ook selfvertroue en belangstelling daarin om sy wêreld te verken.

Watter soort gehegtheidstyl ’n kind het, kan maklik eksperimenteel vasgestel word deur bloot te kyk hoe die kind in ’n vreemde omgewing reageer, gewoonlik tussen 12 en 18 maande wanneer gehegtheid op sy sterkste is. Wat doen die kind wanneer sy ma by die vertrek uitloop en hoe reageer hy wanneer sy terugkom?

Dis die sogenaamde Strange Situation Procedure, wat Ainsworth ontwikkel het. Of wanneer die kind alleen by ’n vreemdeling gelos word? Ainsworth het, voorspelbaar, gesien ’n kind ondersoek die speelkamer en speelgoed met baie meer ywer in die teenwoordigheid van sy ma as ’n vreemdeling.

Daar is ook angstig-ambivalente gehegtheid. Die kind kry skeidingsangs wanneer sy versorger weg is, maar voel nie beter wanneer die versorger terugkeer nie, eerder ambivalent oor die hereniging, dalk kwaad en gefrustreerd. (Bowlby vertel van die “absurd paradoksale” gedrag van ’n tiener wat sy ma doodgemaak het omdat hy “dit nie kon vat dat sy hom kon verlaat nie”.)

Terwyl skeidingsangs die gewone reaksie is op die moontlikheid van verlies, is rou die reaksie ná die verlies, skryf Bowlby, soos wanneer die kind se ma/pa permanent weggaan of sterf. Wat dikwels tot normale, verwagte en “gesonde” depressie lei. (Vroeër is geglo klein kinders is nie in staat tot rou nie.)

Die angstig-ambivalente kind ondersoek ook nie so maklik sy omgewing nie en is dikwels skrikkerig vir vreemdelinge. Sy gedrag is vreemd wanneer sy versorger na hom terugkeer. Hy lyk bang en onseker, vries, loop agteruit na sy versorger toe of draai sy kop weg. Dis teenstrydige of afwysende gedrag. Dit lyk of die kind nie negatiewe emosies kan hanteer nie en dit kan lei tot aggressiewe gedrag. Mishandelde kinders word makliker angstig-ambivalent, is bevind, en sukkel later met intieme volwasse verhoudings.

Dié gehegtheid is ook gedisorganiseerd/gedisoriënteerd, sogenaamde Tipe D-gehegtheid, wanneer daar nie veel tekens van gehegtheid by die kind is nie. Sulke kinders is gewoonlik mishandel. Hulle loop die gevaar om later geestes- en heelwat ander probleme te ontwikkel.

Of die kind se styl is angstig-vermydend. Hy vermy of ignoreer inderdaad sy versorger en toon min emosie wanneer die versorger terugkom. Wanneer hy dan opgetel word, wriemel hy om neergesit te word. Vermoedelik is dit die kind wie se behoeftes gereeld geïgnoreer word, die kind wat dink sy emosionele behoeftes tel nie.

Reeds in die 1980’s het studie ná studie getoon: Gesonde, gelukkige en selfstandige adolessente en jong volwassenes is die produk van stabiele huise waarin albei ouers baie tyd en aandag aan die kinders gee, sê Bowlby.

Die sielkundige en skrywer Steven Pinker het goeie nuus in dié verband. Hy haal syfers aan wat op gelukkige hedendaagse gesinne dui. In 1924 het net 45% van ma’s twee of meer uur per dag saam met hul kinders deurgebring (7% geen tyd nie) en net 60% van pa’s minstens een uur per dag. Teen 1999 het dit vermeerder tot onderskeidelik 71% en 83%.

“Enkel- en werkende ma’s bestee vandag inderdaad meer tyd saam met hul kinders as getroude ma’s wat nie buite die huis werk nie in 1965 gedoen het.”

Gehegtheidsteorie geld tot in die volwasse lewe en hoë ouderdom, ook in intieme verhoudings buite die huis.

Onnodig om te sê, maar Bowlby beklemtoon dit: Wanneer dinge tussen intieme maats vlot verloop, is albei gelukkig en put elkeen genot uit die verhouding. Konflik het die teenoorgestelde uitwerking. Wanneer gehegtheid skeefloop, lei dit tot angstigheid en ongelukkigheid, veral waar een die ander een verwerp. Om nie te praat van fisieke of verbale geweld nie.

Daar is bevind kinders wat grootword in ’n ongelukkige, disfunksionele huis, sal makliker buite-egtelike kinders hê, tienerma’s word, ongelukkig getroud wees en skei. Een studie het getoon swanger vroue wat voor 11 jaar van een of albei ouers geskei was, het veral huweliks- en sielkundige probleme gehad ná die baba se geboorte. Hulle het ook gesukkel met die baba se voeding en slaappatrone.

Harris stem saam met gehegtheidsteorie, maar sy glo nie dit duur voort tot in volwasse verhoudings nie, ook nie adolessente-verhoudings nie.

“Ja, die kind het geleer om sekere dinge van sy ma te verwag, maar hy sou dom wees om die verwagtinge te veralgemeen tot nuwe mense wat hy in die toekoms ontmoet.”

Vir haar is Bowlby se idee van die kind-ma-model net geldig vir die kind en ma. Dit beteken nie die kind se verhouding met sy pa, broers en susters, oppasser of maats gaan dieselfde patroon volg nie. Die ma-model voorspel nie hoe ander mense teenoor die kind gaan optree nie. Die kind neem nie sy verhouding met sy ma saam na sy verhouding met sy maats nie.

Gehegtheid aan maats kan inderdaad instaan vir swak gehegtheid aan die ma.

Kinders met gehegtheidsprobleme het dalk professionele hulp nodig, maar kenners waarsku ook teen oordiagnosering en lekeraad op die internet. Moenie gehegtheidsprobleme sien waar daar nie gehegtheidsprobleme is nie. Jy kan nie jou huidige probleme toeskryf aan ’n slegte verhouding met jou ma toe jy klein was nie. Daar is immers ook ander invloede as gehegtheid op ’n kind se ontwikkeling. Buitendien is die kans goed dat die kind wel ’n geleentheid sal kry om geheg te raak aan ’n ander volwassene as die ma fisiek of andersins nie beskikbaar was nie.

Kenners het ook nog nie uitsluitsel oor presies wanneer gebrekkige gehegtheid ’n steuring word nie.

Reaktiewe gehegtheidsteuring (reactive attachment disorder of RAD) word wel as ’n steuring beskou, volgens die 5de uitgawe van die American Psychiatric Association se Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders (DSM-5). Die Wêreldgesondheidsorganisasie se ICD-10 (die 10de hersiening van die International Classification of Diseases, of vollediger: International Statistical Classification of Diseases and Related Health Problems) beskou dit eweneens as ’n steuring.

Reaktiewe steuring begin by kinders jonger as 5 jaar, maar dis gelukkig skaars.

Die DSM lys die volgende kenmerke: Die kind soek weinig of minimaal troos wanneer hy ongelukkig is, hy reageer nie op vertroosting nie, toon minimale sosiale en emosionele reaksies op ander, het beperkte emosies, met episodes van onverklaarbare geïrriteerdheid, hartseer of vrees selfs in niebedreigende interaksies met versorgers.

Sulke kinders is dikwels verwaarloos, versorgers het gewissel en die kind het onvoldoende aandag gekry.

Onvoldoende aandag is ook wat kan – gáán – gebeur wanneer die baba se ma depressief is.

Kinders wat moor

Подняться наверх