Читать книгу Kinders wat moor - André le Roux - Страница 17

1. My ma is van draad gemaak

Оглавление

If monkeys have taught us anything,

it’s that you’ve got to learn how to love

before you learn how to live.

– Harry Harlow

Êrens loop dinge skeef in die moordkind se lewe. Maar êrens moes dit, vanselfsprekend, begin het.

By die ma?

Sigmund Freud het geglo ’n kind klou aan sy ma of versorger as bron van kos. “Cupboard love,” het hy dit genoem. Maar die sielkundige Harry Harlow het hom en sy eie tydgenote verkeerd bewys.

Hy het piepklein uil-apies (macaque monkeys) van hul ma’s weggevat en in hokke gesit saam met surrogaatma’s, gemaak van draad. Klinies, koud en hard. Party draadma’s het ’n bottel melk vasgehou en ander was oorgetrek met sagte handdoekstof, maar sonder die bottel melk. ’n Gloeilampie agter die materiaal-ma het hitte uitgestraal.

Watter “ma” sou die baba-apies verkies?

Natuurlik die materiaal-ma. Harlow het dié ma beskryf as: “Sag, warm, teer, ’n ma met oneindige geduld, ’n ma wat 24 uur per dag beskikbaar was, ’n ma wat nooit geraas het nie.”

Sy was soos ’n trooskombersie, al kon die apies nie by haar kos kry nie. Die harde ma met die bottel is net vinnig opgesoek om gou te drink. Ook wanneer die apies skrikgemaak is, het hulle beskerming gesoek by die sagte ma. Trouens, al die draadma’s het herkenbare gesigte gehad en elke apie het gewoond geraak aan ’n spesifieke ma, wat hy bo al die ander sagte draadma’s verkies het.

Apies wat net ’n draadma sonder materiaal gehad het se spysvertering het gelol en hulle het gereeld diarree gehad. Hulle was gestres. Maar Harlow het agtergekom ’n sagte draadma is ook nie ’n plaasvervanger vir ’n regte ma nie. Al die apies wat van hul ma’s weggeneem is, was in die moeilikheid.

Daar was nie interaksie nie. Die apies het hul draadma’s vasgehou en drukkies gegee, maar niks terugontvang nie.

Nét ’n ma was ook nie goed genoeg nie. Die apies wat met ’n ma, maar sonder maats grootgeword het, het tekens van angs en aggressie getoon. Want alle sosiale diere wil speel. Vir Harlow is speel met maats ’n “prototipe” vir latere volwasse interaksie.

Hy het ’n ma (biologies, nie ’n draadma nie) en haar kleintjie vir 6 maande van ander apies geskei. Die baba was dus net op sy ma aangewese, sonder maats. Hulle het obsessief geraak en skaam. Selfs toe hulle later tussen maats teruggesit is, wou hulle nie speel nie. Hulle het aggressief gereageer.

Die neurowetenskaplike en primatoloog, en streskenner, Robert Sapolsky haal ’n psigiater aan wat sê die teenoorgestelde van speel, is nie werk nie. Dis depressie.

Harlow het die twee soorte draadma’s nie net as laboratoriumskeppings beskou nie, skryf Deborah Blum, Pulitzerpryswenner-joernalis wat Harlow se eksperimente en biografie gedokumenteer het. Vir hom het die ma’s twee verskillende ouerskapstyle van werklike mens-ma’s verteenwoordig.

Die apies het ook ’n draadma gekies wat effens warmer was as kamertemperatuur teenoor ma’s onder kamertemperatuur. Hitte is immers nodig om lewe aan die gang te hou.

Later het Harlow die apies vir jare in isolasie gehou, wat eties nie vandag toegelaat sou word nie, synde doelbewuste moederlike ontneming (maternal deprivation). Die apies het, soos verwag kon word, baie “vreemd” en selfs versteurd anderkant uitgekom. Wanneer hulle uit isolasie gehaal is, het hulle emosionele skok getoon. Een apie het ná 3 maande in isolasie geweier om te eet en is ’n paar dae later dood. Hy het uit ’n “put van wanhoop” gekom en was in menslike terme depressief.

Dit het duidelik geblyk: ’n Apie kan van melk alleen nie lewe nie. ’n Ma se geborgenheid is selfs belangriker. Harlow het afgelei dit was nie op sigself die kosvoorsiening deur die ma wat die band versterk het nie, maar die lyflike kontak wat daarmee saamgaan. “Contact comfort,” het hy dit genoem. Wanneer die materiaal-ma ook kos voorsien het, was die binding des te sterker.

Dit het bekend geword as gehegtheidsteorie (attachment theory).

Harlow het gehegtheid eenvoudig “liefde” genoem, want wat hy in werklikheid by sy apies getoets het, was die behoefte aan moederliefde, iets wat sy tydgenote geglo het nie wetenskaplik bestudeer kan word nie.

Darem te sentimenteel, sien?

Kinders wat moor

Подняться наверх