Читать книгу Driveway Divatjie - Annalise Wiid - Страница 10
ОглавлениеGeduldig, gedienstig ... se voet!
GEDULDIG, GEDIENSTIG ... SE VOET!
Ek staan en hop, hop, hop so op my hakke van haastigheid. Dit is hier by etenstyd rond op ’n Vrydag en ek moes net gou by die bank inhol om ’n dokument te kry. Maar van gou kan ek gerus vergeet. Die tou by navrae kronkel eindeloos deur die doolhof afsperrings en hy staan botdoodstil. Van die nege toonbanke is ook net vier beman, so hier gaan ons nog baie lank baie botstil staan. Hop, hop, hop. Makeer die pas. Ongeduldig!
“Die osse stap aan deur die stowwe,” sê sy skielik met ’n groot smile terwyl sy haar heeltemal omdraai na my toe. “Geduldig, gedienstig, gedwee,” lag ek terug. Haar hare is rooi gekleur. Haar gesig ’n uitnodiging. “Ek het op Graaff-Reinet grootgeword,” kondig sy aan nog voordat ek vra.
“Ons kan mos nie net hier staan nie. Dit is te ’n vreeslike verkwisting van kosbare leeftyd. Laat ons praat. Laat ons lag. Laat ons gedigte aanhaal en herkomste uitruil. As die krag afgaan, so what, kom ons gebruik die kerslig kreatief! Die lewe is te kort om op beswaardheid te vermors. Jy weet, my ma het twee credo’s gehad. Een daarvan was: Jy kan nie onder ’n hoenderstellasie loop sit en verwag om skoon te bly nie.”
Ek skater die hele bank vol! Die rooikopvrou spring so vinnig van topic na topic dat alles later kraaines in my kop. Van doerie tyd in haar kinderjare se geskinder as die dorpspruit skielik in die nag afkom en party manne aan die ander kant vaskeer, hoe die hele dorp dan gekwetter het oor wie watter kat waar geknyp het. “En ’n kind weet sulke goed. Mens moet hul waarnemingsvernuf nie onderskat nie. Ook nie vroue se intelligensie nie.” Tot by Abraham wat Isak moes offer. En wat dink ek daarvan en verstaan ons ooit ’n snars van wat die verhaal eintlik probeer sê?
“Jy weet,” sê sy, “mense gebruik mos lekker die Bybel nes dit hulle pas. ’n Man kan dit goed inspan as hy ’n vrou onderdanig wil hou. Wie was daai ou nou weer wat sy dogters aangebied het om die manne te paai? Lot? Ek wil hom darem ’n paar dinge loop vra. Geduldig, gedienstig, gedwee … se voet! Daar is ’n klomp goed wat ek wil vra as ek anderkant kom. Maar wat sal al die kennis my dan help? Dan is ek nie meer hier om dit toe te pas nie. Maar,” vervolg sy met ’n skalkse laggie, “watch my as ek weer verbykom!”
Sy was ’n onderwyseres. “Jong, ek kon ’n hele laerskool se dogtertjies stil kry met net een van my kyke. Nou kan ek nie eens meer ’n man en drie honde beheer nie. Ek het my touch verloor, dis duidelik. Ek is ’n Hugenoot-nasaat. Ella le Roux, née (lank uitgerekte neeeeee, soos in ’n doodsberig se née) du Toit. Vrydenkende, rebelserige bloed loop dubbeldik in ons are. Ja, ons het oorspronklik hiernatoe gekom oor ons nie saamgestem het nie. Ons is maar hollers van herkoms. Kyk nou net hoe vat ons alweer die pad Nieu-Seeland en Australië toe. Dit sit in ons gene. Ongeduldig, ongedienstig, ongedwee.
“My ma se ander credo was: Daar is iets goed in alles wat sleg is. As jy dit nie sommer met die eerste kyk kan sien nie, loop soek dit totdat jy dit kry. Dit is waar, weet jy? Kyk nou net hoe goed is hierdie waggery in vanmôre se banktou vir ons twee. Die osse staan saam in die stowwe. Geduldig, plesierig, tevree …”