Читать книгу Driveway Divatjie - Annalise Wiid - Страница 17

Оглавление

Breyton op ’n Harley


BREYTON OP ’N HARLEY


Verlede naweek het ek die voorreg gehad om Breyton Paulse te ontmoet. Nee, nie die vlugvoetige krulkopvleuel uit die Koue Bokkeveld nie. Sy straatkindgenant van Franschhoek. Hy speel vir die skool se C-span.

Saterdagmiddag drink ek en ’n vriendin ’n luilekker wyntjie onder rooi sypaadjiesambrele en praat oor ons waarde, ons keuses, ons drome … Skielik is daar twee straatseuntjies langs my. “Tannie, gee vir ons ’n geldjie,” vra die oudste een. Intelligente ogies. Nee, sê ek, ek gee nie geld nie. Hoe weet ek wat jy daarmee gaan maak? “Dan kan Tannie sommer maar vir ons kos koop,” smile die klein parmant. Waar’s jou ma? wil ek weet. “Nee, my ma en pa is weer dronk. Hulle slat mekaar.”

Ek weeg sy woorde. Stemtoon. Gesigsuitdrukkig. Dink: Hy probeer my nie manipuleer nie. Hy sê net hoe dit is. Sonder selfbejammering. ’n Blote feit. En as jy nou so laatmiddag hier rondloop, kom jy mos vanaand eers donkertyd by die huis, konfronteer ek. Wat gebeur dan? Slaan hulle jou ook? “Nee, hulle slaap mos vroeg so met die drink saam.”

Sal julle saamstap Pick n Pay toe? wil ek weet. Die tweetjies val weerskante van my in, Franschhoek se hoofstraat af. Gehawend is nie die woord nie. Die oudste ene, die woordvoerdertjie tot nou, se broek sit op genade om sy lyfie. Myle te groot. ’n Arm man het mos nie size nie. Die kleintjie se broekie is so geskeur dat ek sy boudjies dwarsdeur die rafels kan sien in ’n stofvaal onderbroekie. Sy hemp is heel, maar bitter vuil. Wat is jou naam? vra ek. “Brggheyton Paulse,” antwoord hy met ’n lang, lekker, skurwe bry.

Twee Harley-Davidsons kom straataf geknor met hul kenmerkende tok-tok-tok. Klein Breyton steek sy twee handjies voor hom uit, asof hy op so ’n fiets sit, vat die handvatsels denkbeeldig vaster en gee ’n groot brul soos hy in sy gedagtes vet gee en laat waai! Ek kan my indink hoe lekker dit vir hom sal wees om op so ’n groot ysterperd te kan klim en net te kan wegry van al die haglikheid by die huis.

By Pick n Pay besluit ek om nie sommer net die goedkoopste of maklikste uitweg te volg en vir elkeen vinnig net ’n pie te koop nie. As dit my kinders was, sou ek tien teen een gevra het: Waarvoor is julle vandag lus? Ek laat die twee slonsies dus kies wat hulle wil hê: sjokolademelk, dun gesnyde witbrood en warm braaihoender uit die glasoond. Nee, beduie die vuil vingertjie, nie daai stuk wat die vrou nou raakvat nie, die groter een langsaan met die kraakvelletjie. Hy glimlag erg tevrede toe sy die sakkie oor die toonbank vir hom aangee, asof hy ’n ryk man is met seggenskap.

Ek sê vir Breyton ek sien hy hou van die Harleys. Sal jy eendag graag self so ’n bike wil hê? vra ek. Sy glimlag lê so wyd soos die berge om sy dorp. “Natuurggghlik, Mevrggghou!” Dan, liefiekind, sal jy moet aanhou skoolgaan en hard leer, maan ek, por ek aan, sodat jy eendag ’n ordentlike werk kan kry wat goeie geld betaal. So ’n fiets is duur. Dis nie sommer soos wegneemhoender koop vir aandkos nie. Hy kyk lank na my. Weeg my woorde.

Buite die winkel kan hulle nie gou genoeg eenkant kom om te begin eet nie. Hulle prewel vinnige dankies en draf weg oor die sypaadjie. Breyton, ek sien jou eendag op jou Harley! skree ek en waai. Hy trek sy ruggie hol, gee vet en lag uit sy maag uit!

Driveway Divatjie

Подняться наверх