Читать книгу Driveway Divatjie - Annalise Wiid - Страница 13
ОглавлениеDie waarheid van ’n mens
DIE WAARHEID VAN ’N MENS
Die vrou skuil diep onder die boom teen ’n onverwagte stortbui. ’n Plastieksak oor haar kop. Arms afwerend oor haar bors gevou teen die skielike koue. Haar liggaam so roerloos soos die boomstam self. Ek ry eers verby, maar stop en draai om toe haar beeld my bewussyn volledig tref. Waarheen sou sy op pad wees toe die reën haar stuit?
“Ek moet my kind by die crèche gaan haal,” sê sy dankbaar toe sy in my kar klim. Terwyl sy die pad soontoe beduie, vertel sy die kleintjie, nou nege maande oud, is vroeggebore. Ek wag in die kar buite die speelskool. Ná ’n ruk klim sy weer in met ’n bondel komberse waaruit ’n fraai vetwanggesiggie grootoog loer. Klaar namaakgoue studs in die oortjies. Ek neem hulle die dorp in. Taxi rank toe. Daar buk die ma terug in die kar nadat sy reeds uitgeklim het. “If you hadn’t picked me up and I got soaked with rain, I would not have been able to hug my baby when I fetched her today. Thank you for your kindness.” En sy stap weer uit my lewe.
Ek sal die vrou waarskynlik nooit weer sien nie. Ek sal haar ook nooit vergeet nie. Wat is dit wat maak dat sommige mense jou dieper raak as ander? Daarop is die antwoorde seker meer as al die blare van ’n bos vol bome. Vir party sal dit voorkoms wees, vir ander humor of intellek of prestasie. Dalk waardes of moed, deursettingsvermoë of lewensuitkyk. Vir my is dit wanneer die waarheid van ’n mens voor my oopvou. Wanneer wie die mens werklik is, vir my begin blom.
Onlangs ontdek ek Leonard Cohen se DVD Songs from the Road. Grepe uit sy wêreldtoer van 2008 en 2009.
Aangrypend! Daar staan hy: nou ’n skraal, ou man – gebeeldhoude gesig wat aan my oupa Wiid herinner. Hy dra ’n pak en ’n das en het ’n hoed op die kop. Dié haal hy soms, met ouwêreldse sjarme, af uit eerbied vir sy medemusikante. Hy beweeg min; kyk skaars die gehoor in die oë. Sing dieselfde liedjies van destyds, maar nou met ’n geweldige, ingehoue intensiteit wat dermdiep uit sy eerlike deurleefdheid kom en my geheel en al oorrompel.
Snaaks, die jong Cohen het my, toe ek hom seker ’n goeie 30 jaar gelede ontdek het – nie só diep ontroer nie. Wat is dit in hom wat my nou so beetkry, so bekoor; onweerstaanbaar trek soos ’n magneet? Is dit dalk dat die ouderdom hom gestroop het tot by sy essensie; dat dit sy hart se “filigraan-grasie”, soos Olga Kirsch dig, openlik wys? “Die jare wat jou krag laat wegval ontbloot die skoonheid en gesag van eike wat blaarloos staan in die wintertyd, silhoeët-sigbaar tot aan die fynste twyg.” *Dit is so: Mens sien nou die kern van die man se menswees. Die waarheid. En dit betower.
Ek dink dit is die een element van Kersfees wat my jaar ná jaar bewoë-diep raak: God se waarheid, wat so bloot lê in die weerlose babalyfie. Sy verstommende, waaghalsige, verbeeldingryke liefde. Grensloos na alle kante toe. En soos Cohen sing: “Love is not a victory march … it’s a cold and … very lonely hallelujah,” want die skadu van die kruis val immers van die begin af reeds oor die krip. Die waarheid: God wil ons onskuld en ons ontreddering omhels.
Kersfees is ’n wit lelie; dit vou God se hart oop, die waarheid van sy wese óóp. Gun dit vir jouself om diep daaruit te drink en loop dan met die dapperte daarvan die nuwe jaar en jou eie waarheid binne.
* Olga Kirsch: “Portret”, uit: Nou spreek ek weer bekendes aan - ’n keur. 1944-1983, Human & Rousseau, 1994