Читать книгу Driveway Divatjie - Annalise Wiid - Страница 9
ОглавлениеRakelings
RAKELINGS
Hy was ’n standbeeld aan die voet van die trap. Staatsteater, Pretoria. Kort voor drie op ’n Saterdagmiddag. Sy gesig uitdrukkingloos; sy hart elders. Ons stroom by hom verby – honderde haastige mense wat by die trap opbeur. Die skouspel gaan binne minute begin en ons wil voor die aanhef ons sit gemaklik kry.
Eers sien ek hom ook nie raak nie, maar dan val sy hemp my op. ’n Deftige, ryk pruimpers, met ’n swart mandarynkragie en ’n helderkeurige embleem op die roerlose, trotse bors. “I like your shirt,” sê ek skrams, sommerso in die verbygaan. “You look very smart!” Ons wissel ’n blitsige klein in-die-oë-kyk voordat ek verder trap-op gesleur word deur die stroom.
Amper bo, gryp een my skielik van agter af aan die arm. Dis my standbeeldmedemens. “Do you really like my shirt?” vra hy. “I’ll give you one after the show.”
Nou sit ek met dié teaterhemp en wonder: Hoekom? Hoekom het hy my nie maar net met ’n glimlag laat verbygaan nie? Hoekom so ver gaan om my ’n hemp present te gee? Want hy wou nie geld hê nie. O nee! Dit was ’n spontane geskenk vir ’n wildvreemde vrou wat hy bes moontlik nooit weer sal sien nie.
Kan dit wees dat hy so gewoond is aan ’n standbeeld wees – so gewoond aan onsigbaar, ontmens – dat hy lewe kry sodra hy raakgesien word, soos sprokiespeelgoed sodra middernag slaan?
Sy kom sit voor my. Bleek gesiggie. Swart, reguit hare wat sommer net hang. Dit is ná ’n optrede. Sy vra ek moet een van my boekmerke vir haar teken, asseblief. Die een met: “Hou jou kop hoog!” Ek skryf my naam met ’n Koki-pen agterop en vertel baie bondig vir haar die storie agter dié woorde: Van die jong man uit Bosnië wat met die oorlog van sy familie af weggeskeur is en hoe sy ma se laaste woorde aan hom – “hou jou kop hoog” – hom deur baie donker dieptes gedra het. Ek sien die herkenning, die vereenselwiging, die verlang, die wéét in haar hele lyf. Ek vat haar hand en sê: Miskien sê die Here vandag vir jou ook: “Hou jou kop hoog!” Ons kyk vir ’n sekond of twee dieper as net in mekaar se oë. Die volgende oomblik is sy weg. Ons kontak was vlugtig en verby. Nog ’n vrou uit die ry wagtendes kom sit voor my en vra: “Teken net gou vir my, asseblief?”
Hy staan agter my in die breekwarewinkel. Ek kom koop opskepbakke. Wik en weeg tussen twee verskillende wittes. Iemand sal my moet help kies. Ek trek sy aandag. Seker al naby 40, skat ek. Mooi mannetjie. Sagte bruin oë en ’n kuif wat astrant regop gejel is. Lagplooie om sy mond. Wat dink jy? vra ek en trek die grootste bak nader, moet ek hierdie een koop? “Ja,” sê hy met ’n laggie, “dis baie mooi.” En toe: “My naam is Willem Junior.” Sy hart is oop. Sy tong is traag. Hy het downsindroom. Die onverwagte stukkie saamwees met hom in die winkel gaan daarna ewe onverwags saam met my huis toe, leef nou in my kombuiskas, in die groot, wit opskepbak met die glasdeksel so deursigtig soos die kindman se opregtheid. Ek sal die kos wat ek daarin voorsit altyd met toewyding en liefde maak. Ter gedagtenis.
Snaaks dat so ’n terloopse aanraking met ’n naaste soms so by ’n mens kan bly. Dat so ’n amper-het-dit-nie-gebeur-nie-kennismaking so vormend, so verrykend kan wees. Dat iets so rakelings so diep kan slaan.