Читать книгу Driveway Divatjie - Annalise Wiid - Страница 6

Оглавление

Die tyd


DIE TYD


Die tyd trap silwer spore in jou hare

Die tyd lag in lyntjies om jou oë

Die tyd strooi sterstof oor ons saamweesjare

Die tyd vlieg!

Geruisloser nou as vroeër.

Die tyd

bind ons vaster, maak ons vryer,

kraak ons maskers,

lig ons sluiers.

Die tyd veredel ons:

Ons is ryper nou, meer beleë

Jou smaak lê deesdae anders op my tong

As toe jou jongwynwysies my kop kon draai

Wie het toe kon dink dat ons tot hier sou kom!

Die tyd trap silwer spore …

Die tyd

bind ons vaster, maak ons vryer,

kraak ons maskers,

lig ons sluiers

Die tyd verteder ons:

Ons is ryper nou, meer beleë

Jou smaak lê deesdae sagter op my tong

As toe jou vonkelwynwysies my kop kon draai

Het jy ooit kon droom dat ons tot hier sou kom?

Die tyd gooi silwer draaie …

Sluipstil, silwer draaie …

En hy bind ons immer vaster, maak ons vryer,

kraak ons maskers,

skeur ons sluiers

en hy vermurwe ons.

Ons is ryper nou, veel meer beleë

Jou smaak lê nou selfs soeter op my tong

En jou heuningwynwysies laat my kop steeds draai …

Hoeveel tyd het ons …

… voor die einde kom?

Die tyd sleep sy silwer spore deur jou hare

Die tyd keep skrikwekkend om jou mond

Die tyd lê ’n sterkrans op ons saamweesjare

Die tyd vlieg!

Geruisloos, meedoënloos nou …

© Annalise Wiid op haar CD Nkosi is Hier

Driveway Divatjie

Подняться наверх