Читать книгу Driveway Divatjie - Annalise Wiid - Страница 16

Оглавление

Om ’n fees te berei


OM ’N FEES TE BEREI


Slegs Elsa se kaaskoek sal goed genoeg wees. Die vanilla-ene wat my jare gelede so verruk het. Langs haar ronde kombuistafel met die blou ruitjiesdoek het dit droomgladde musiek gemaak in my mond. Sedertdien het my tong nog nêrens haar resep se gelyke raakgeproe nie. Komende naweek beplan ons ’n fees. ’n Groot, hartlike, heerlike vriend-en-familie-fees. Ons vier ’n man se lewe! Slegs Elsa se kreunlekker kaaskoek is goed genoeg.

Ek bak dosyne miniatuurweergawetjies van haar oorspronklike grote; sit hulle in partytjiebont bakkies; spuitversier elkeen se roomkleur wangetjie met gesmelte sjokolade en lê ’n lagrooi someraarbei liggies op elkeen neer.

Laataand val ek, platmoeg soos flop soufflé, in die bed. Alles pyn: rug, voete, kop. Ek bak nie meer so maklik en sonder lyfskade soos vroeër nie. Maar wat maak dit nou saak? Dit verminder die plesier en tevredenheid van voorberei nie met ’n milligram nie. Daar is darem net iets onoortrefliks lekker aan so ’n regmaak vir ’n fees. Ons is ’n hele span pelle wat saamwerk. Dié een sorg vir slaai, daai een vir vleis. ’n Ander reël glase en drinkgoed, nog een bring blomme en braaihout. Natuurlik gaan ons braai! Om groot, gesellige, gemeensame vure sal ons kringetjiestaan en baie lag. Iemand sal hordes kerse aansteek, en olielampies, wat in ons glinsteroë gaan weerkaats. Nog een sal musiek maak wat ons gaan meevoer na ons jong jare se deurnagdanse.

Feesvoorbereiding se groot genot lê in die aanloop, die afwagting, die uitsien … Opwinding wat jy kan ruik in die lug – warm, behaaglike vanilla. Behalwe vir die spyskaart en die verloop van die aand, bestee ons ure aan die gastelys, soos om ’n vuurtjie. Nie omdat ons wonder wie ons moet nooi en wie nié. Oor ons ons vooraf reeds verkneukel in elke genooide se karakter en sy koms. Hulle is almal sulke lekker mense! Ons ken hulle so goed dat ons ons vooraf al kan verbeel hoe hulle die aand gaan geniet. Maar hulle ken nie almal mekaar nie. En ons krul by voorbaat op van binnelekker om te dink hoe hul wedersydse ontdekkings van mekaar hul lewens gaan verryk.

Ek sal my kamera saamvat en vriesfoto’s neem van elke geliefde gesig. Om die oomblikke van nostalgie, uitgelatenheid, ontroering en onverdunde vreugde vir ewig te bewaar. Ons gaan fenomenale verbintenisse vier!

Met die regmakery vir ons eie fees hoor ek Jesus se woorde destyds aan sy vriende weer so helder in my hart: Gaan na die huis van so en so en gaan berei vir ons die paasmaaltyd … Hulle het waarskynlik gedink dit sal maar weer ’n tradisionele paasete wees soos hulle dit gewoond geraak het deur baie jare se presiese herhaling. Hulle verwag die vasgestelde liturgie wat eeue lank al aankom, wat hulle al amper agterstevoor uit die kop kan opsê. Maar toe verras Jesus hulle. Terwyl hulle die tafel voorberei, berei Hy ’n onverwagte, onvergeetlike fees voor: ’n Fees met eggo’s tot in die ewigheid …

Aan tafel breek Hy toe die brood, soos hulle gewoond is, maar daar kom nuwe, varswarm woorde uit sy mond, nie die verwagte, oeroue oorbekendes nie: “Neem, eet; dit is my liggaam … wat vir julle gegee word.”1 En met die beker skink Hy woorde wat hul ganse godsdiensbelewing tot tóé geheel en al onderstebo draai: “Neem dit en gee dit vir mekaar aan … Drink almal daaruit, want dit is my bloed.”2 Vergifnis. Verbondenheid. Verbond!

Dit was daardie aand, toe die laaste pasgaviering die eerste nagmaalfees geword het, dat Hy gesê het: “Ek het baie daarna uitgesien om hierdie paasmaaltyd saam met julle te eet voordat Ek ly.”3

1 Matt 26:26 en Luk 22:19

2 Luk 22:17 en Matt 26:26

3 Luk 22:15, kursivering deur Annalise Wiid

Driveway Divatjie

Подняться наверх