Читать книгу Driveway Divatjie - Annalise Wiid - Страница 11

Оглавление

Boetie se rosies


BOETIE SE ROSIES


Dit was so ’n lui niksdoendag en ons het besluit om sommer ’n ent te gaan ry. Toe kom ons op die klein dorpie af. Dertig, veertig huise. ’n Kerk. Nogal groot. En ’n handelshuis. Die drankwinkel lê buite die dorp en liqour store is verkeerd gespel.

Ek het stadig straataf gekruie. Die huisies gekyk soos mens gesigte bestudeer wanneer jy iets van die mens daarbinne wil ontdek. Dit is toe dat ek die toegerankte ene sien. Net rankrose waar jy kyk. Langmanhoogte. Bo dit sien jy nog net die daknok. Van die huis sien jy niks. Net rose, rose, rose. Van daai klein pienketjies wat so styfgepak vol blaartjies is dat hulle lyk soos die tossels op my kinderdae se pantoffels. En donker, amper rooipienkes. Oper. Minder blare. Met ’n geel hartjie wat gelukkig lyk. En wittetjies. Met hier en daar so ’n ligte pienk skynsel asof hulle met rooswater bedruip is. En hulle ruik net so lekker soos vroeër jare se ouma-rose wanneer my oupa hulle teen skemertyd natgelei het.

Ek stop terstond. Laat die kar luier. “Gaan steel gou vir my ’n roos,” sê ek vir Pa, wat agter sit. “Maar as die antie in die tuin is, vra voordat jy vat,” skree ek agterna deur die venster toe hy al met Ma se knipmes in die hand by die roosheining staan.

Dit is toe nie die antie in die tuin nie, maar die oom. Hy staan vriendelik nader. Nee, wat, ons kan maar pluk, hier’s mos baie, beduie hy met ’n swaai van die kop wat die hele heining insluit. En toe ons weer sien, loop haal hy ’n graaf en kom spit vir my ’n loot of twee uit wat ek in my eie grond kan gaan druk en aan die groei kry. Sommer so kaalvoet trap hy daai skerpkant van die graaf in die klipgrond. Die roosdorings krap sy skene dat die bloed loop.

Ek wil dankie sê, maar ek weet nie mooi hoe nie. Druk maar so agteraf ’n R20-noot in Pa se hand en sê: “Gee vir die oom.” Pa maak seker die oom verstaan dis nie vir betaling nie, dis sommer net oor ons so dankbaar is vir sy vriendelikheid en mededeelsaamheid. “Nee,” sê die oom, “dis ek wat vir julle moet dankie sê,” en die klem wat hy op sy dankie lê, dra die geur van ’n hele bos ruikrose. Waarvoor, wonder ek? Vir die onverwagte gemeensaamheid?

Die tannie lê siek daar binne, vertel hy. Suiker. Ja, hy woon nog maar al die jare hier. Gebore, grootgeword, geskool, gewerk. En nou afgetree met ’n minder as niks pensioentjie. Hy het nie meer tande nie. Ek vra sy naam. Hy lyk ’n bietjie verleë. “Hulle sê sommer vir my Boetie.” Kop onderstebo. Kaalvoet in die stofstraat.

Ek vra of die handelshuis oop is. “Ja,” sê hy, “natuurlik. En hulle maak die lekkerste wors in die land! Skoon vleis. Niks gemors nie.” Trots.

Ons laai die roossteggies in die kar. Sluit en loop oor na die winkel toe. Binne ruik dit na twak, meel en paraffien. Vars uie lê in bossies, nog met die grond aan hulle. Toe ons uitkom, wag Boetie ons in. Hy’t vir ons ietsie op die kar neergesit, sê hy en loop weer weg. Dis ’n 2 l-roomysbak vol appelkose van sy eie boom. Sy enigste rykdom. Dit ontroer my. Dit sing!

Dalk het hy later die middag vir hom R20 se wors gaan koop.

Vanoggend is ek in die vars vroegdaglig uit tuin toe. Die nuut geplante rankrosies stoot sagte jonggroen blaartjies. Hulle sing!

Driveway Divatjie

Подняться наверх