Читать книгу Driveway Divatjie - Annalise Wiid - Страница 5
ОглавлениеIets vreeslik moois
IETS VREESLIK MOOIS
Ek het vanmiddag iets vreeslik moois gesien. Iets vreeslik hartseer: twee ou hande.
Die een maer, knobbelrig, klein en broos. Dun, benerig. Met ’n enkele ring aan die trouvinger. Die handrug blou beaard. Druifblou, skryf Eybers. Skaduweeblou. Deurskynvel. Met vlekkies wat die son onthou en sewe stories vertel van sterre en saamwees …
Die ander hand is effens groter. Hy ken die stories soos sy palm. Koester hulle. Altyd. Nou lê hy, gekneus en baie moeg, so weerloos oud op die hospitaalbed.
Hulle hou mekaar vas. Nee, eintlik het haar hand onder syne ingeskuif. Kom skuiling soek. Met ’n ingeleefde vertroudheid lank net so doodstil en tevrede onder sy hand gelê. En meer gesê as ’n leeftyd se woorde. Hy het al haar liefde en sorg deur sy vel opgeneem, soos ’n blaar die sonlig, soos grond die reën. In sy bloed, in elke sel van sy liggaam, tot in die diep saamkomplek van murg en siel. En net elke af en toe, dankbaar en lig, met sy duim oor hare gevee.
Eens was sy hande sterk en sekuur. Kon hulle vol selfvertroue om ’n gimnastiekbalk klem. Kon hulle rats en blitsig vat en vervat; opdruk, omswaai, laat los! Kon hulle motor bestuur, tent opslaan, struike snoei, gras sny … Sy sien hulle nou nog geduldig oor ’n kolf en klein seuntjiehandjies vou. Sien hulle nog sukkel met ’n eerste doekspeld en bokstertrekkie. Sien hulle nog uitgestrek in die lug om ’n gloeilamp te ruil, Kersversierings te hang, suurlemoene te pluk … Sy hande wat die swaar teeskinkbord by haar aanvat, ’n deur vir haar oophou, die hare agter haar oor invee. Sy hande wat musiek kon tower uit die stiltes van die nag.
Haar hande het vir hom die sterre gevang en die son lag-lag in sy oë kom ophang. Haar hande het klavier gespeel en blomme geplant. Babalyfies gebad en koorsvoorkoppies afgespons. Milo gemaak, koekies versier, knope aangewerk. Gordyne gehang, boekies geblaai, pleisters geplak, trane weggetroos. Gegee, gedra en gevorm. Dogtertjiehandjies leer brei, vleg, skryf en sterk word. Foto’s geneem. Baie foto’s geneem, want wat sy nie vir altyd in haar hande sou kon hou nie, wou sy vaslê om vir haar oudag-oë en haar kinders te bewaar.
Nou is dit sulke tyd. Die tyd van versorging en inkrimp. Nou speel haar hande saans Scrabble op ’n klein, klein tafeltjie. Vul blokkiesraaisels in om die brein aktief te hou. Pak nog soms ’n legkaart. Vou bewend om ’n teekoppie … Alles het anders geword.
Vanselfsprekende krag het plek gemaak vir onvermydelike afhanklikheid. Hy kan nie meer ’n mes en vurk vashou nie. Word gevoer. Opgetel. Neergesit. Uitgelewer. Oorgegee. In ander se hande. Sy word, met haar versaakte hart, in ’n rolstoel na hom toe gestoot. Die kinders moet haar kom oplaai en hospitaal toe ry. Sy dra die dae een vir een. Dapper. Bring vir hom ’n plastieksakkie met ’n appel, ’n piesang, ’n paar stukkies droëwors. Dié hou haar maer, hartseer, knobbelhandjies op haar skoot vas – al in die lang hospitaalgang af.
Daar lê ’n leeftyd se liefde in hul verstrengelde vingers op die wit hospitaallaken. Dit gaan binnekort verby wees. En tog gaan dit vir altyd bestaan.
Wat ek vandag gesien het, is vreeslik mooi. Vreeslik hartseer. En vol, vol troos.