Читать книгу Driveway Divatjie - Annalise Wiid - Страница 12

Оглавление

Mens moet van geweet wees


MENS MOET VAN GEWEET WEES


Die klein liefie het net ongemerk stil geraak. Toe ons weer sien, is haar laggie weg en haar lyftaal bot. “Wat is verkeerd?” vra ons. Sy antwoord nie. Staan net op en loop uit tuin toe. Dit help nie om haar agterna te sit en te probeer uitlok om te praat nie. Sy sê eenvoudig niks. Selfs nie eens ’n roomys kry die woordstaking gesmelt nie.

Later kom sy weer in, maar loop reg tussen ons deur en trap op. Ek agterna. Wat is dan fout, skattebolkind? Jy lyk hartseer. Wat het gebeur? Ek sien hoe sy soek na woorde. “Eintlik voel ek ’n bietjie kwaad,” sê sy. Hoekom? “Want Simoné wou my nie saam met haar in die badkamer laat kom nie.”

Ek gaan sit op die bed se rand en buk vooroor sodat ek reguit en diep in haar groot, seer oë kan kyk. Het jy al gehoor van privaatheid? vra ek en begin verduidelik dat dit eintlik soms baie goed is, selfs noodsaaklik, dat mens ’n deur kan toetrek en ander mense kan uitsluit. Dat sy self ook op privaatheid en haar eie ruimte geregtig is, al is sy nog klein.

Sy knik gewigtig. Sy verstaan en dit is goed so. “Maar,” sê sy dan, “Noa was ook in die badkamer.” Toe eers verstaan ek. Dit gaan nie oor een mens se reg op privaatheid nie. Dit gaan oor twee maatjies agter ’n koue, ontoeganklike deur. En enetjie daarbuite. Jy het uitgesluit gevoel, sê ek. Toe loop haar trane.

Mens is nie gemaak om misgekyk te word nie. Mens moet van geweet wees. Nie sommer net so bolangs en vlugtig en van agter ’n toe deur nie. Mens moet ingetrek word by ’n behoortkring wat jou teenwoordigheid begeer en jou waarde onderskryf.

Verlede week bel tannie Trudie om my te groet. Sy trek die einde van die maand uit ons kompleks na ’n versorgingsoord. Vroeër jare het ons dit ’n ouetehuis genoem en die gange het na Deep Heat en valstandwater geruik. Dit is gelukkig nie meer so nie. Ten minste nie oral nie. Nie by tannie Trudie se nuwe woonplek nie. Dit is mooi en lekker daar.

Maar tog, dit is nog nie huis nie. Dit is nie bekend en vertroud en ingeleef deur die kinders se kleintyd en hul grootword en huis verlaat en deur baie jare se onbevange menswees en tuinmaak en kaggelkuiers nie. Dit is nie deurdrenk van haar man se gedurige teenwoordigheid ná aftrede nie. In die nuwe plek het sy ’n enkelkamer. Tafelmaats. Gangvriende. Vloerkennisse. En heelwat minder privaatheid. Sy sal daaraan gewoond moet raak. Aanpassings, aanpassings, aanpassings. Sy stel haar daarop in soos ’n kameralens; met doelbewuste fokus.

Ek wens haar die allerbeste toe. Praat nog ’n paar bemoedigende maar ontoereikende woordjies. Sy groet dapper: Haar oom Jannie het altyd gesê: “Jy kan nie terug nie, you’ve got to move forward.” En dit is wat sy nou gaan doen.

Dit ontroer my – dat hy nou nog, soveel jare ná sy dood, steeds haar ware noord bly, steeds vir haar die koers aandui, haar steeds bly aanspoor. En hoe haar stem steeds sag word wanneer sy sy naam sê. Die man aan wie sy behoort.

’n Paar aande later slaap die kleintjie by my oor. ’n Engeltjie in fluffy pienk pajamas. Ek kyk af op die droomlandgesiggie: Hoe wonderlik het God jou gemaak! Jy’s so ontroerend mooi, so fassinerend, so broos, so vol potensiaal! Mag jy altyd, in Hom en in jou medemens, ’n heenkome hê, ’n harttuiste, selfs in die tye dat jy noodgedwonge alleen moet loop.

Driveway Divatjie

Подняться наверх