Читать книгу Driveway Divatjie - Annalise Wiid - Страница 4

Оглавление

Voorwoord

VOORWOORD

Liewe Leser,

Ek wonder hoe jy oor Valentine’s Day voel? Is jy een van die gelukkiges wat elke jaar blomme kry? Nie sommer ’n voorafverpakte kettingwinkelbos nie – langsteel-, spesiaal uitgesoekte, vars geplukte, bloemistoegedraaide rooi rose; die grootste denkbare arms vol bos. En sjokolade – ingevoer, van die allerduurste; en dan ook nie sommer ’n enkele plak nie, nee – verpak in ’n boks wat jy altyd wil bêre, toegestrik met smeulrooi lint wat fyn voel onder jou vingers. En daarby ’n hartklopversnellende kaartjie – met die hand geskryf, natuurlik, met vulpenink – vol digterlike liefdeswoorde, deur jou unieke en verleidelike menswees geïnspireer; woorde wat eenvoudig onkeerbaar uit jou geliefde se ontroerde hart gevloei het.

Of is jy een van die minder gelukkiges wat op stamelings (of erger nog, stiltes), knakstingel-asters en skewe snytjies brood moet oorleef? So vermoed, ja. Verreweg die meeste van ons was nog nooit aan die ontvangkant van sulke oordrewe Hollywood-weergawes van Valentine’s Day nie. Moet sê, ek dink dit sal nogal lekker wees, baie lekker – mits dit uit opregtheid kom. Of, nee, al kom dit ook uit aangeplaktheid … Maar ag wat, dis ook net een dag in ’n jaar. En al die baie ekstra romerige sjokolade sal mens tog net vreeslik vet maak en rose vrek ook so gou in Februarie.

Maar die woorde! Soet, mooi woorde kan mens mos raam of in jou Bybel bêre of teen jou hart vasdruk. Hulle las niks by jou heupmaat nie en verwelk ook nie weens die geringste bietjie hitte nie. Woorde van liefde en waardering kan koel skadu’s gooi oor ’n songeskroeide gemoed en ’n volmaan laat skyn in ’n hart wat onontwykbare donkertes moet deur. Opregte, fyn gekose, koesterwoorde kan vaaltes kleur en droogtes breek.

Weet jy, liewe leser, hoe spesiaal jy vir ons is? Weet jy hoeveel ure en ure het ek geswoeg – weke, maande lank – om die regte woorde te vind om met jou te kommunikeer? Het jy enige idee met hoeveel toewyding hierdie boek beplan, bedink, geskryf en geproeflees is? Vir jou! Woorde wat jou sal goed doen. Woorde wat jou lewe sal verryk. Woorde wat jou sal laat voel jy word verstaan en waardeer. Woorde wat jou Lig sal bring.

En dan, om die woorde aan te vul, weet jy hoe ek en die produksiespan ure lank gesoek het na presies die regte voorblad – kleure, foto, lettertipes en na die mees gepaste resepte – wat my woorde aan jou sal ondersteun en verryk?

Verstaan jy hoe belangrik jy is? Hierdie hele boek draai om jou. Woord vir woord. Letterlik.

Liewe leser, jy’s ons Valentine!

Annalise Wiid

Driveway Divatjie

Подняться наверх