Читать книгу Met liefde wat saamgaan en ander stories - Annalise Wiid - Страница 10

6. Genade se gelukkige gesig

Оглавление

Só gelukkig is ’n mens nie aldag nie – dat jy betyds en duidelik gewaarsku word oor ’n spoedlokval en dat jy ’n sak vol verlore geld … Wag, wag, wag, ek loop myself nou vooruit. Laat ek eerste vertel van die tydige spietkop-waarskuwing: Beaufort-Wes is berug vir sy spoedkameras, dit weet ons almal. Ook dat hulle jou vir so ver teen 60 kilometer per uur laat ry dat jy soms weer skoon vergeet van die beperking en dat jou voet algaande weer slapper en swaarder raak. En dan klits daai bloubaadjies jou!

So kruie ek een middag die dorp in. Rondkyk-rondkyk na die hordes gaste- en slaghuise en daarom effe spoed-onbedag. Skielik spring ’n man reg voor my kar in. Gelukkig nie die spietkop nie, maar ’n goed gekletterde local. Hy swaai sy arms woes. Beduie vir my: Kyk, kyk hier reg langs die pad onder die boom, verskuil in die skadukol – hier sit die spietkop, kamera en al. Ek vang die verraaide verkeersman se oog. Hy is nie kwaad nie. Hy lag.


Die storie van die sak vol geld is ’n ander een. Dié hoor ek toe ons langbeen op ’n plaasstoep buite Sutherland sit. Johan vertel hoe sy jonger suster, wat in die Strand woon, haar kar verkoop het. Sommerso uit die hand uit. Die koper bring vir haar die R20 000 kontant in ’n plastieksak toe hy die aand die kar kom haal. Sy, dierbaar en goedgelowig, tel dit nie eens nie. Vat dit net so.

Die volgende oggend stuur sy hulle ouer suster met die geld bank toe. In die sak met die klomp kontant sit sy ’n inbetaalstrokie – volledig ingevul met, onder andere, haar naam en telefoonnommer as verwysing. Ousus gaan egter toe nie dadelik bank toe nie. Op pad soontoe loer sy eers by ’n blommewinkel in, maar die plastieksak is veilig oor haar arm gehaak.

Toe sy ’n rukkie later by die bank kom, besef sy skok-skielik: Die sak is weg! Dit hang nie meer aan haar arm nie! Sy vlieg terug blomwinkel toe. Ja, sê die vrou wat daar werk, sy onthou die dame het ’n plastieksak by haar gehad. Maar, nee, sy het dit nooit in die winkel afgehaal of neergesit nie. En sy het beslis weer daarmee by die winkel uitgeloop.

Ousus soek haar simpel. Oral. Sypaadjie-langs, haar hele roete. Die sak is skoonveld. Wat nou? Hoe sê jy vir jou kleinsus jy het haar R20 000 per ongeluk verloor? Toe sy die naarwordnuus uiteindelik aanhoor, vertel Kleinsus, het sy net gebid: Here, hou my kalm.

Toe SMS ’n vrou: “Bel my dringend in verband met pakkie.” Kleinsus het dadelik geskakel; afgespreek waar en wanneer sy en die vrou mekaar sal ontmoet. Die wag vóór daardie oomblik was by senutergend verby. Sy het nooit sélf die geld getel nie. Wie sê die koper het haar nie reeds verkul met te min nie? Hoe bewys sy dit as daar van die geld weg is? Sê nou die vreemde SMS-vrou daag eenvoudig net nie op nie?

Maar sy het gekom. Die Moslemvrou wat die vorige maand haar werk verloor het. Vir wie R20 000 pasella-in-’n-plastieksak soos die jackpot moes gevoel het. Wat só graag die geld wou hou. Maar haar ma het gesê: “Nee, my kind, die geld behoort nie aan ons nie.” En sy het dit alles teruggebring. Elke sent. Die volle bedrag was in daardie sak.

So gelukkig is ’n mens beslis nie aldag nie. Dat ’n besope man jou vrolik wys waar die bloubaadjie sit, is een ding. Dat ’n medemens se gewete jou genade word, is ’n ander. Dat eerlikheid ’n hoër waarde het as honger, en ander meer as self.

Met liefde wat saamgaan en ander stories

Подняться наверх