Читать книгу Met liefde wat saamgaan en ander stories - Annalise Wiid - Страница 13

9. Drie vroue drink tee

Оглавление

Drie vroue sit om ’n tafel. Die blonde een se serp is dieselfde middernagblou as haar oë. Die tweede een se hare is ook blond, maar haar oë is bruin en bekommerd. Die derde een is maar net daar. Sy is die middelmens; die een wat die ander twee bymekaargebring het.

Hulle drink tee. Buite val die reën aanhoudend, soos kaasdoeksluiers lyk dit deur die venster. Hulle drink rooibos. Sterk. Stomend. Die koppies is fyn en wit. Die vroue sit vooroor gebuig om die houttafel. Hulle hande vou die koppies toe, soos kombersies om babas. Hulle praat oor hulle lewe.

Die blouoogvrou vertrek binnekort Nepal toe. Sy gaan berading doen met die slagoffers van ’n onlangse aardbewing. Dit was so geweldig, die aardbewing, dat die Himalajas meetbaar gesak het. Die mense daar se lewens is aan flarde. Hulle het dae, weke lank aanhoudend noodroepe uitgestuur: Kom help ons! Kom help ons!

Nou gaan sy. Onbaatsugtig. Sy kamp nie graag nie. Sy hou nie van ploeter deur vuil nie, maar dit is nie nou ter sake nie. Die mense se pleidooi om hulp is al wat tel. Sy gaan met tolke en klei met die stukkende mense werk. Sy gaan hulle deur die kurwe van verlies begelei, een-een of in kleingroepe – afhangend van die omvang van hulle trauma. Sy gaan hulle help om uitdrukking te gee aan hulle diepste, mees intense emosies; aan hulle woede, vrees, verskrikking, verlatenheid, doodsheid. Sy sal hulle saggies toevou in ’n kombersie van ek-gee-om-vir-jou-in-jou-ellende. Sy sal hulle versigtig bring tot by ’n plek waar hulle weer kan opkyk, selfs hoop. Waar hulle, getroos deur die ervaring van praat en gehoor word, gelig uit die verlamming van die aardskuddende skok, ’n nuwe tree kan gee. Kan waag om tog weer die lewe vas te gryp.

Die bruinoogvrou is ook lamgelê. Haar aarde het nie fisies geskud nie, maar daar lê baie skerwe om haar. Dit is heeltemal te veel rommel vir een mens om alleen weg te werk. Sy huil nie. Sy kla ook nie. Sy dink soms daaraan om op te gee, weg te gaan, haarself te beskerm, bieg sy, maar dan weet sy dit sal nie reg wees nie. Sy moet dit nie doen nie. Sy moet bly. Sy kan nog iets doen, móét nog iets doen. Sy weet net nie wat nie.

Die drie vroue maak nog tee. Die reën val steeds in vlae. Daar is wasem teen die ruite. Wolkies warmte teen die koue glas. Die vroue pluis die probleem praat-praat uit. Hulle wou ’n uur saam kuier. Dit word twee ure. Drie. Die blouoog vra uit, met baie deernis en begrip. Die bruinoog vertel, verduidelik, beskryf. Gee redes. Nie harde, koue feite nie. Sy deel haar emosies. Sy dink oor die hoekoms en die waaroms. Die probleem veroorsaak skade aan mense wat sy liefhet. Sy soek oplossings, maniere waarop sy die saak kan beredder. Sy wil ’n verskil maak. Sy wil dinge mooier, heler maak. Die derde vrou luister. Vra soms iets. Voeg soms iets by. Meestal luister sy net.

As jy buite in die reën gestaan het en deur die ruit kon loer, die wasem kon wegvee met jou hand, sou jy sien dat die drie vroue soms skaterlag, selfs al praat hulle so diep en ernstig oor van die verskriklikste goed wat met ’n mens kan gebeur. Jy sou ook kon sien dat hulle oë sag is van deernis. En jy sou sien dat die een, toe hulle nader na mekaar toe buig en begin bid, huil omdat sy veilig voel en verstaan word.

Met liefde wat saamgaan en ander stories

Подняться наверх