Читать книгу Met liefde wat saamgaan en ander stories - Annalise Wiid - Страница 7

3. Iewers is Dawie

Оглавление

Hulle het min foto’s van hom. Seker oor hulle nooit verwag het dat hulle hom so finaal sou verloor nie. As hulle dit vooruit kon weet, sou hulle hom sekerlik uit elke moontlike hoek en in elke moontlike bui afgeneem het. Maar nou ja, dit was lank voor digitaal en geld was so skraps.

Op een van haar foto’s, die ene wat sy self geneem het, sit hy – iewers op ’n Bolandse plaaswerf met bloekoms – op ’n rooibruin perd. Hyself dra ’n geelbruin broek en ’n sjokoladebruin trui. Die baie bruine laat dit byna soos ’n sepia-kunswerk lyk, verewig, soos ’n standbeeld: regoprug-generaaltjie op sy ros. Die foto is van die sykant geneem. Die perd kyk stiksienig vorentoe. Hý draai sy nek en kyk reguit, ernstig na die kamera; na haar. Voor dié lewende bruin beeld poseer hulle ousus en niggies in ’n ry.

Op haar ander foto, die familiefoto, sit hy kruisbeen heel voor. Oë toegeskreef teen die lig. Blink polshorlosie trots na die kamera gedraai. ’n Verjaardagpresent. Sy skat hom op so tien jaar. Dit moes dan kort voor sy groot weggaan gewees het.

Haar ma bewaar ’n vergroting van hom in ’n laai saam met vergrotings van haar en haar suster. Voltallig, die drie kinders.

Hulle het min foto’s van hom, maar in haar kop het sy baie kiekies gebêre: sy eerste, huiwerige instap in hulle huis. Was hy toe maar net vyf? Die maer witkop dingetjie? Ogies uitsonderlik groen; nuuskierig, waaksaam. Jare later was hulle vol verwarring, verskeurdheid, ontnugtering. En haar ma s’n vol pyn.

Sy het nog ’n onthoufoto van sy handjies, skurf van speel in die sand met klippies en stokkies. Daar was nie juis speelgoed by kinderhuise daai jare nie. Wat hy by húlle gekry het, of dit nou ’n karretjie of ’n koekie was, het hy dadelik gehol en onder sy kopkussing gaan wegsteek. Bang iemand vat dit.

Sy onthou sy sproetjies. Dit het hom gelyktydig onskuldig én onnutsig laat lyk. Sy haasbekkie en effe oneweredige tandjies. En later, toe hy begin rek, die bleek beentjies met die te groot knieë. Sy onthou hoe hulle in die tuin speel – aan-aan en wegkruipertjie en cowboys en kroeks – en hoe hulle lag. Hoe hulle instorm kombuis toe vir rooi koeldrank. Dan weer uit tuin toe … Die deur wat dawerend agter hulle klap.

Sy het ’n hartfoto van haar ma wat langs hom op die bed sit, skuins gestut teen ’n kussing, en vir hom slaaptydstories lees. Hy en Ma by die eetkamertafel, hulle twee koppe oor die wiskunde gebuig. Hy en Ma voor die klavier terwyl hulle “Chopsticks” speel.

Hy en Pa wat die blou Peugeot was. Hy en Pa wat bal skop en krieket oefen. En foto’s van hulle hele gesin saam wat snap speel of rummy; vetkoek eet op die wildtuinvakansie. Hulle lag op die meeste van haar foto’s. Die enigste kwaaifoto is die ene waar sy hom aan die ore beet het en sy kop teen die badkamerteëls kap – sy was so woedend; sy het gedink haar ma het vir hom liewer geword as vir haar. Sy het nie verstaan nie. Haar ander bakleifoto’s is weg. Sy moes hulle opgeskeur het in haar kop toe hy weg is. ’n Mens kies om liewer die lekker te hou, soos die kere wat hy vir rukkies kon, wou terugkom. Elmboë op die kombuistafel, koffie en beskuit soos altyd, terwyl hy vertel van die skool, die army, sy planne …

Hy het verlede week 50 geword. Iewers. Hulle het ’n groot bos rose gekoop, alles onthou, en hom gedenk.

Met liefde wat saamgaan en ander stories

Подняться наверх