Читать книгу Met liefde wat saamgaan en ander stories - Annalise Wiid - Страница 5

1. Lieflap-laslap

Оглавление

Stel jou dié foto voor: ’n kerksaaltjie by die see. Op die blink houtvloer lê drie halfklaar laslapkomberse. Oopgesprei. Een oorwegend pienk, een hoofsaaklik blou, en een helder en bandeloos bont. ’n Uitspattige bymekaarkom van patrone en kleure in ’n oë-betowering. Elke blokkie is ’n klein landskap – beplant met stories, besproei met emosie, bevrug met ’n mens se léwe. Stel jou dit voor. En anderkant die drie komberse-in-wording staan ’n tiental tafels; op elkeen ’n naaimasjien, ’n skêr, ’n stapel lappies en ’n paar knap hande wat dit liefderyk bewerk.

Stel jou dié foto voor: Op die stoep, teen die lang skadusy van die saalkerkie, sit die lappiesvroue elfuur die oggend elkeen met ’n beker tee. Die gesels zirrr net so onafgebroke soos hulle masjiene wat heeldag stik. Die vroue lag baie. Binne, langs die eenvoudige houtpreekstoel, staan ’n tweeliter-roomysbak halfvol fudge, ’n koekblik wat later eers oopgemaak gaan word en ’n Pyrex-tertbak waarin nog net ’n paar krummels lê.

Stel jou dié foto voor: ’n laslap-drasak in wit en blou. Stewig. Duursaam. Prakties. Alles wat vir vroue onontbeerlik is, sal hierin ’n gawe lêplek kan kry. Selfoon hier. Beursie daar. Bril en pille. ID en lisensie in die wegsteek-binnesakkie. ’n Mens sal krisisse kan oorleef en noodhulp toepas, selfs vliegtuigkapings kan voorkom met só ’n sak by jou. Op die buitekant van die sak is hierdie woorde geborduur: Daar’s altyd tyd vir blomme pluk. Dié sak sal jou nie net deurdra nie; hy sal jou sinvol help lééf. Binne-in is ’n klein lap-briefie vasgewerk: Alta. My vriendin van amper 60 jaar. Met liefde gemaak. Daleen. ’n Sak vol eindelose dankbaarheid.

Stel jou dié foto voor: ’n ouma besig om ’n lappiesboek vir haar kleinkinders te maak. Op een blad sit ’n rooi liewenheersbesie. Sy ronde ruggie kan ooprits. Daarbinne sal nuuskierige vingertjies hande vol viltblomme kry. Dié kan hulle op die volgende blad aan lang groen lapstingels vasknoop. Met die omblaai wag ’n parmantige onderbaadjie met vetergaatjies waardeur hulle ’n toutjie kan ryg … Dis ’n boek vol liefde en lekkerte en leersaamheid. ’n Boek vir volgende geslagte om te erf en mee te speel en te onthou. ’n Boek gemaak van oorskietlappies; oorblystukkies lewe uit ’n vorige geslag.

Stel jou dié foto voor: Teen skemertyd, ná ’n heerlike paar dae van meet en pas, stryk en stik, praat en luister, uitruil en aangee, sit die vroue saam op die stoep van ’n strandhuis. Hulle kyk uit oor die gul baai; eet ’n eenvoudige maaltyd, gemarineer in tevredenheid. Stel jou hulle gemoedelikheid voor. Die verbondenheid. Onvervangbare kameraadskap. En hulle verskeidenheid. In ouderdom en ervaring. In status en styl. In vermoë en versugtinge. Uiteenlopend. Kontrasterend. Teenstrydig. Bypassend. Aanvullend. ’n Kwilt van mens-mooi!

Stel jou nou dié foto voor: Een van die vroue (haar ongeveer 60 somers ’n laslap-landskap van hul eie) vertel, met sigbare ontroering, van haar dogter. Sy, wat delikate verhoudings suksesvol oor die skerp klippe van kleur-, kultuur- en meningsverskille bestuur, kom onlangs huis toe om te kom sê: Mamma, ek het jou van kleins af dopgehou as ek op jou naaldwerkkamer se vloer gespeel het. Die manier – die liefde en die sorgsaamheid, die rustige uitsoek en pas, omruil en weer probeer, rafelrandjies afwerk, sykantjies vaswerk en afvalstukkies sinvol saamvoeg – die doodgewone deeglikheid en toewyding waarmee jy al die jare met jou lappies gewerk het, was, is my inspirasie en my hulp.

Stel jou net dié foto voor!

Met liefde wat saamgaan en ander stories

Подняться наверх