Читать книгу Met liefde wat saamgaan en ander stories - Annalise Wiid - Страница 6

2. As die kwilt te klein is

Оглавление

Om tweede te wees. Hanna. Liefde wat laat gaan

Hoe lief kan jy hê?

Ek vermoed sy het baie daaroor nagedink. Gewonder: Waar lê haar limiete? Hoe hoog sal sy kan reik? Hoe ver sal sy kan gaan? Hoe lank sal sy kan uithou? Hoe diep sal sy dalk nog in haar hart-myn moet delf? As dit miskien eendag van haar gevra word, hoeveel sal sy bereid wees om op te offer?

Hoe lief kan ’n mens hê? Vir ’n lang tyd het sy nie besef dat dít wat sy nog altyd as die hoogste en die beste beskou het, maar bloot die begin was nie. Net die eerste skynsel silwer lig voordat die volmaan groot, verruklik en oorweldigend agter die berg uitkom. Daar het baie meer in haar geskuil as wat sy kon vermoed.

“Daar was ’n man.” So begin haar storie. “Daar was ’n man, en daar was twéé vroue.” Enige storie wat só begin, is byna gewaarborg om te eindig met “en daar was ’n groot gemors”. Veral as daar nog kinders ook in die prentjie is. Daar was, ja. Kinders. En daar was ’n groot gemors. Maar daar was ook groot liefde. Van die vrou met die groot gees. Haar naam was Hanna.


“Daar was ’n man uit Ramatajim …” So begin die eeue-oue verhaal van 1 Samuel in die Bybel. As dit nou gesê het “daar was ’n man uit Pretoria-Oos” of “Putsonderwater” of “Genadendal”, sou dit ons dalk kon help om die man ’n bietjie te plaas. Ons sou ons iets van sy omgewing of waarskynlike omstandighede of dalk iets van sy familieverband kon voorstel. ’n Pleknaam soos Ramatajim help ons niks; nie soos dit die oorspronklike lesers sou help nie. Ons moet dus maar staatmaak op die bietjie wat ons uit die Bybelteks van dié man kan agterkom.

Die man se naam was Elkana en hy was oënskynlik ’n goeie man. Hy was lief vir Hanna; dit weet ons. En hoewel dit nie ewe duidelik uitgespel word nie, was sy sekerlik vir hom ook lief. Hy was goed vir haar. Hy was ook gelowig en het getrou die rituele uitgevoer wat sy geloof van hom gevra het. Hy het “elke jaar uit sy stad uit na Silo toe gegaan om te aanbid en aan die Here die Almagtige offers te bring” (1 Sam 1:3). Standvastige man, dus. Tradisievas en betroubaar; daarom dalk ook ’n bietjie voorspelbaar. Hy was die soort soort man van wie ’n mens meestal weet wat om te verwag. Dit verbaas ’n mens ook nie dat hy effens onbeholpe was met die taai toffies van huismoles nie.

Want sien: Daar was ’n man, en daar was twéé vroue. En met dié twee vroue was daar baie drama. Albei was sý vroue. Nie die een ná die ander nie.

Gelyktydig. Onthou poligamie was in hulle tyd die heersende kultuur. Dit was heeltemal aanvaarbaar. Niks ongewoon nie.

Tog het die probleem nie soseer by die “gelyk” gelê nie. Dit was eintlik by die “ongelyk” waar die groot moeilikheid gekom het: Hanna word eerste genoem, sy was dus die eerste vrou. Daarom, volgens hulle kultuur was sy geregtig op meer status en voorregte. Peninna was die tweede vrou, ondergeskik aan Hanna in die rangorde van die huishouding. Maar Peninna het kinders gehad, by die dosyne. Hanna het geen kinders gehad nie. So, al was Hanna die eerste vrou in die huwelikshiëargie, het haar onvrugbaarheid haar sleg tweede laat kom in statuur en waarde. Heeltyd. Vir baie lank.

En sy kon daar niks aan doen nie. Die hemel weet, sy kon op hierdie Godsaarde net mooi niks daaraan doen nie. Maak nie saak hoeveel hulle probeer het nie; hoe sy gewens, gesmag en gehuil het nie; hoeveel goedbedoelde raad van hoeveel jammerhartige vriendinne sy gevolg het nie. Niks het gehelp nie. Sy kon eenvoudig nie swanger raak nie, en sy het geweet die dorheid was in haar lyf. Dit was nie Elkana nie. Hy kon dan by Peninna die een kind ná die ander verwek. Net háár buik was bot. Hopeloos ontoereikend. Traag. Onwillig. Toe. Sy kon nie aan die hoogste standaard en verwagting van vrouwees in haar kultuur voldoen nie. Dit moes haar by tye rasend gehad het.

Dan was Peninna ook nog so ’n geniepsige vrou. ’n Mens sou haar ook Pynnina kon noem. Of selfs Pynnetta, want sy het net pyn veroorsaak en vererger so ver sy gaan! Peninna het letterlik Hanna se hartseer uitgebuit. “Sy het haar baie gespot en verneder,” word ons vertel. Om te spot, is reeds onaanvaarbaar. Maar om met iemand wat minder as jy het se grootste verdriet te spot, is verregaande. Peninna was oneindig gemeen en vermoedelik ook jaloers.

Die Bybelverhaal maak dit duidelik dat Elkana lief was vir Hanna. Hoe hy oor Peninna gevoel het, weet ons nie; daar word niks van gesê nie. Miskien is dit insiggewend dat sy liefde vir Hanna juis so duidelik genoem word. Elke jaar wanneer hy gaan offer het, het hy “dele van die offermaaltyd aan sy vrou Peninna en al haar seuns en dogters gegee. Alhoewel hy vir Hanna liefgehad het,” so word uitdruklik vertel, “kon hy vir haar elke keer net een deel gee, want die Here het haar kinderloos laat bly.” Asof Elkana graag vir Hanna meer sou wou gee, maar nie kon nie.

Ons weet ten minste hy het nie vir Peninna afgeskeep nie. Sy en die kinders het hulle volle deel gekry, elke keer. Maar miskien het Peninna gevoel sy kom tweede wat Elkana se liefde betref. Miskien het sy net soos Hanna, maar om heel ander redes, gevoel sy is ontoereikend en magteloos om haar situasie te verander. Miskien was “al haar seuns en dogters” ál wat sy gehad het om haar eiewaarde te onderskryf.


“Al Peninna se seuns en dogters” – hoe moes hierdie woorde nie Hanna se hart uitmekaargeskeur het nie. Hoe swaar moes dit nie vir haar gewees het nie: die oorvloed vreugde, woeligheid en kinderpret – oral om haar, maar nooit haar eie nie. Keer op keer leef sy saam met Peninna deur nog ’n swangerskap, nog ’n geboorte, nog ’n rondte oe’s en aa’s van almal wat die nuwe babatjie kom bewonder. Dag ná dag sien sy hoe Peninna die kinders vergiftig met haar wrede geaardheid, en Hanna kan niks anders doen as om dit net te verduur nie. “Want die Here het haar kinderloos laat bly.”

Want die Here … Hoe moes hiérdie woorde nie deur haar siel gesny het nie! “Want die Here …” Haar Verlosser, haar Voorsiener. Die Een wat met ’n enkele woord haar situasie kan omkeer en ’n laggende babatjie in haar skoot kan lê. Die Here, die Gewer van elke goeie gawe, het gekies om haar kinderloos te hou. Hoe magteloos, hoe uitgelewer dink jy het hierdie woorde haar laat voel? Dit was so sonder moontlike teenspraak; so finaal. In daardie oertyd, sonder die wonderlike kennis en hulp van die moderne mediese wetenskap, was dit gelowige mense se enigste verklaring vir kinderloosheid. Daar was nie ’n dokter wat Hanna kon ondersoek om die fisieke redes vas te stel of te behandel nie. Dit was net die Here. Die Almagtige. Hy was die enigste verklaring. En Hy was klaarblyklik so onwillig soos haar baarmoeder. Hoe sou Hanna daaroor gedink het? Hoeveel vrae en pyn was daar dalk in haar gemoed oor hierdie God wat doelbewus kies om te weerhou waarna sy so smag?

Intussen het Peninna, die oorvloedige wat so baie gekry het – baie kinders, baie offervleis, baie aansien – blykbaar ook algaande ’n groter kop gekry, en ongelukkig nie ’n groter of ’n sagter hart nie. Dit is moeilik om haar te verstaan en nog moeiliker om van haar te hou. Sy was net te aaklig, met dié siek behae om Hanna te spot en te verneder: “Want die Here, want die Here, wêla-ke-pêla, Hanna, die Here hou jou leeg.” Natuurlik het dit seergemaak. Verskriklik seer! By die huis ook, maar veral met die jaarlikse offers by die tempel waar ’n mens vir die Here se goedhartigheid kom vra. Waar ’n mens juis kom rus soek vir jou gehawende siel. En troos. Of ten minste dan net vrede – met die Here en met mekaar. Dáár kry Hanna elke keer net meer sout in haar wonde.

“Hoe lief kan jy hê ?” moes, sover dit Peninna aangaan, ’n enorme uitdaging gewees het. Jaar na jaar na jaar het Peninna met die spottery aangehou. Elke jaar met ’n nuwe kleintjie op haar heup. En elke jaar het Hanna, met ’n groter leegte in haar binneste, gelowig saam kom offer. Met haar siel elke jaar nóg meer aan flarde geskeur. Peninna het so met haar aangegaan dat Hanna “gehuil het en nie wou eet nie”. Sy kon dit net nie meer uithou nie.

Dan sê Elkana vir haar: “Hanna, waarom huil jy? Waarom eet jy nie en waarom is jy hartseer? Is ek nie vir jou meer werd as tien seuns nie?” Die stomme man. Hy probeer troos. Hy het haar so opreg lief. Maar verstaan hy dan nie? Was dit hoegenaamd nodig om te vra? Kan hy dan nie sien nie? Hoor hy nie? Kan hy regtig nie insien hoe verneder en verpletter sy voel nie? En hoekom kry hy nie ’n slag vir Peninna voor stok nie? wonder ’n mens. Miskien het hy probeer en dit het nie gehelp nie. Dalk het dit net sake vererger?

Arme Elkana het dan seker ook maar met sy eie onvermoë gestoei. Hoewel hy Peninna maklik genoeg en gereeld genoeg kon swanger maak, was al sy liefde nie genoeg om Hanna se hart heel of vol te maak nie. Of om die onmin tussen sy twee vroue te keer of te stop nie. Ook hy moes dikwels gewonder het: Hoekom, Here? Hoekom só? Kan U nie maar ’n bietjie help nie? Hoekom hou U dan vir Hanna kinderloos?

Vir al drie van hulle, maar veral vir Hanna, moes dit gevoel het soos om ’n baie koue nag deur te bring onder ’n kwilt wat te klein is. ’n Deel van jou steek heeltyd uit en dreig om te vries. Te min. Te min. Heeltyd te min. Hanna het ten diepste so onvervuld bly voel, ten spyte van Elkana se hartgrondige liefde. Sy moes so moeg gewees het van Peninna se nonsens, en so vol vrae oor God se langdurige en onverklaarbaar afsydige stilte – met ’n diep, diep verlange dat Hy moes ingryp.


Op ’n keer ná die offermaaltyd, toe sy weer net een deel gekry het, het Hanna opgestaan en gaan bid. Hoe verstommend dat sy, ná alles, nog wil bid! ’n Mens wonder: Ná die hoeveelste keer was dit? Waar lê breekpunt? Want dit weet ons: Liefde, en veral die gebrek daaraan of die gestoei daarom, kan ’n mens tot breekpunt bring. Daar kom net ’n onverwagse oomblik dat jy ewe skielik knak. Hanna was bitter hartseer.

Tog het haar breekpunt haar nie net laat knak nie; dit het haar ook laat opstaan. Sy het onbedaarlik gehuil en haar hart eenvoudig voor die Here gaan oopgooi. Stemloos. Net haar lippe het geprewel. “Asseblief, Here,” het sy gesmeek, “ek wil met U ’n ooreenkoms maak. Ek bargain nou met U, die Almagtige: Ek belowe, as U my ellende sal raaksien en vir my ’n seun gee, gee ek hom vir U terug – sy lewe lank.”

Dat sy byvoorbaat bereid is om die seun weer af te staan, laat my wonder: Gaan dit dalk oor meer as wat ’n mens op die oog af vermoed? Oor meer as net om ’n kind in haar arms te hou en haar vrugbaarheid te bevestig? En Peninna se spottery te beïndig? Hanna se ellende en begeerte lê moontlik nog dieper as dit. Miskien gaan dit ten diepste nie oor hê nie, maar oor gee. Daardie oer moeder-ding: Om geboorte, om lewe te kan gee. En haar begeerte daarna is so intens dat sy bereid is om dié lewe dan weer aan die Lewe self terug te gee.

Hoe ook al, Hanna was waaghalsig desperaat. En ná alles, ná jare se stilte, hoop sy steeds dat die Here sal hoor. En hierdie keer sal antwoord.

Hoe erg dan dat die priester, Eli, in hierdie oomblikke van intense smart dink sy is dronk. Hy jaag haar weg: “Loop word eers nugter!” Hy wat die vrou in haar geweldige stryd geestelik moet begelei; hy wat haar behoort te troos en ondersteun, lees haar so verkeerd, behandel haar so verkeerd, dat sy nog die ekstra pyn en vernedering ook moet verduur om haar “groot smart en leed” aan hom te moet verduidelik.


En toe verander alles. Toe kom Samuel. Haar eie liewe klein wonderwerk, Sammy. In ons suidelike halfrond sou hy ’n September-baba gewees het, want: “By die wisseling van die jaar was Hanna swanger. Sy het ’n seun in die wêreld gebring en uitgeroep: ‘Sy naam is Samuel: van die Here het ek hom afgesmeek!’” Samuel. Voortaan sou die naam, elke keer wanneer sy dit hoor of sê, vir Hanna troos en herinner: God is die bron van sy lewe.

Haar opwinding was seker sonder perke. Sy kon nou self ervaar hoe eindeloos ’n vrou se hart kan verruim wanneer sy ma word. Sy moes oorstelp gewees het! Die Here het gehoor, gesien, geweet, verstaan en gereageer. Hy het haar, die een wat altyd tweede moes staan en minderwaardig gevoel het, belangrik genoeg geag om haar op die wonderlikste denkbare manier te antwoord. Hy het haar opregte geloof tegemoetgekom. Hy het haar vrouehart opgevang en ten diepste vervul. En die ekstra bonus was ’n blaaskans van Peninna se nimmereindigende venyn.

So het die kleine Samuel se lewe begin: Hy is afgesmeek, gevoed, gespeen en ge-Silo. Aanvanklik, wanneer Elkana met Peninna en haar kinders Silo toe is vir die jaarlikse offer, het Hanna saam met Samuel tuisgebly. “Laat ek hom net eers voed en speen, dan sal ek hom tempel toe neem,” het Hanna gevra. En Elkana het begrypend ingestem.

Dink net hoe spesiaal daardie alleentye saam met haar Samueltjie vir haar moes gewees het. Net hulle twee, op hulle eie, terwyl die ander almal gaan offer. Hoe sou sy dit nie in haar hart wou ingraveer nie – elke sekonde saam met die klein liefie. Die klank van sy stem, sy laggie, die kleur van sy oë. Die manier waarop hy na haar kyk; hoe hy frons as hy hard konsentreer. Hoe die son in sy hare blink. Hoe sy handjies lyk en voel. Al hierdie dinge, en nog soveel meer, elke wonderlike stukkie van sy menswees, moes sy in haar hart opgaar en bewaar. Haar tyd saam met hom was so min. Die immerteenwoordige te klein kwilt van te min.

Wat sou sy alles in daardie kort tydjies saam in hom wou deponeer? Hoe pak ’n mens verhoudingspadkos as jy vermoed daar lê vir jou kind ’n lang alleenpad voor? Wat sou sy alles vir haar seuntjie wou leer? Wat was die belangrikste, die kosbaarste, om in hom vas te lê vir die tye vorentoe wanneer sy ver van hom af sou wees? Wat kon sy nou vir hom gee wat hy met hom kon saamneem vir die tye wanneer sy nie by hom sou wees om raad te gee en wysheid uit te deel nie? Nie sou kon bykom om te help wanneer hy dalk sukkel nie?

Uiteindelik is sy met Samuel Silo toe – met ’n baie gul offer vir die Here: ’n driejaaroue bul, 16 kilogram meel en ’n kruik wyn. En haar moederhart. Die bul, brood en die wyn was kleingeld in vergelyking daarmee. Dit was haar hart op daardie altaar. Tog moes sy haar belofte hou en haar kind laat gaan. ’n Mens wonder: Is daardie offerbulletjie dalk in dieselfde jaar as Samuel gebore? Sou Hanna hulle saam sien groei het, met die altyd teenwoordige wete: Binnekort, binne té kort, moet ek die pad Silo toe aanpak om my kind daar te los.

Die Hebreeuse uitspraak vir Hanna is met ’n G. Ghanna. Ons sou haar Gaan-na kon noem, ja, want sy moes laat gaan. En sy moes self gaan, op maniere en na plekke wat sy in haar wildste drome op haar huweliksdag nooit kon vermoed het nie. Hoe ver sou dit wees na Silo? Hoe swaar moes dit nie gewees het nie om Samuel “as klein seuntjie” weg te bring en by daardie Eli-man te los? Die afgestompte, ongevoelige priester wat nie meer die verskil tussen desperaat en dronk, tussen bid en brabbel kon onderskei nie. Dit kon nie juis gerusstellend wees om jou klein seuntjie in sý hande te laat nie. Hanna se dapper, gelowige hart was waarskynlik weereens aan skerwe.

Tog aanbid sy die Here die dag toe sy haar kind vir Hom gaan teruggee. Dit is verstommend. Sy sê: “Ek jubel in die Here, ek is sterk in die Here.” Sy sê ook ’n hele paar harde goed wat onrusbarend baie na “wêla-ke-pêla, Peninna” klink. Ons moet egter in ag neem dat Hanna nie ’n Christen was nie. Sy was ’n gelowige, ja, maar in die Ou-Testamentiese tyd toe reëls soos ’n oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand nog gegeld het. Van Jesus se radikaal sagte en genadige woorde dat ons ons vyande moet liefhê en hulle moet seën, het Hanna nog niks geweet nie. Ons mag haar dus nie daarvolgens oordeel nie.

Dat sy hoegenaamd kon sterk wees en jubel in die Here op die dag wat sy haar kind moes afstaan, is onverklaarbaar vir enigeen wat nog nie self iets soortgelyks ervaar het nie. Hoe kan ’n mens op só ’n plek, waar jy jou hart se punt moet afsny, sing? Hoe is dit moontlik om só sterk te staan? En wat beteken dit om dit “in die Here” te doen? Jubel sy oor die Here? Of beteken “in die Here” iets anders? Met krag en inspirasie wat groter is as haar eie? Miskien lê iets van die geheimenis daarvan opgesluit in haar woorde: “Hy laat die geringes uit die stof opstaan … Hy skenk hulle ’n ereplek” (1 Sam 2:8).

’n Mens hoor eggo’s en verstaan iets van haar eie pynlike, wonderlike ervaring hierin. Sy, wat vir so lank tweede was – wat so geringgeag is deur Peninna en haar gesig so dikwels in die stof gevryf gehad het – het uiteindelik ’n eerste prys, ’n ereplek gekry toe Samuel gebore is. Dit moes Hanna se hoop en vertroue in ’n lewende God, wat medelye het met mense, herstel en beklemtoon het. Dit moes ook haar hoop op en vertroue in Hom aangevuur het vir die toekoms – dat Hy ook dan sal sorg; dat Hy daar sal wees, wat ook al gebeur. The Message-vertaling klink so: “He rekindles burned-out lives with fresh hope, restoring dignity and respect to their lives – a place in the sun!” Wie dít soos Hanna ervaar, kry dit reg om in die donkerste plekke te sing.


Samuel het grootgeword en die Here gedien. Miskien het dít Hanna se voortdurende troos geword, en ook ’n bevestiging dat sy reg gedoen het. Haar kind het die rol vervul waarvoor sy hom afgestaan het. Hanna het later nog drie seuns en twee dogters gehad. Hulle het sekerlik gehelp om haar hart en lewe weer voller te maak. Tog sou niks en niemand ooit Samuel se plek in haar hart kon vul of vervang nie.


Hoe lief kon sy hê? Hanna het geleer dat sy kon aanhou liefhê – oor tyd, afstand en skeiding heen. Dat sy vindingryk haar liefde met haar kind kon laat saamgaan, selfs al kon sy nie fisiek by hom wees nie. Elke jaar het sy vir hom ’n mantel gemaak wat sy vir hom saamgeneem het as hulle in Silo gaan offer. Stel jou voor hoe sy daaraan sit en werk by die huis – elke stekie ’n gebed, ’n uitspel van haar liefde vir hom, van haar onophoudelike verlange. Maar nou ’n ander verlange as voorheen. Toe het sy ook verlang na wat sy nie gehad het nie, maar sonder om die vervulling te ken. Nou het sy verlang met die soet kennis van hoe wonderlik dit kan wees.

Sy het haar hart jaar ná jaar in daardie manteltjies ingewerk. Sy sou natuurlik elke keer moes skat: Hoeveel het hy gegroei in die jaar? Hoe lank is sy arms nou? Hoeveel breër sy skouertjies as verlede jaar hierdie tyd? En hoe het sy haarself dan daaraan getroos: Vir nog ’n jaar sal hy homself kan toevou in my liefde. Elke keer wanneer hy die handgemaakte mantel aantrek, trek hy die versekering aan: My ma sal my nie vergeet nie; sy dra my altyd in haar hart.

Hoe lief kon sy hê! Daar was inderdaad méér in Hanna as wat sy aanvanklik kon vermoed of verstaan. Daar is altyd meer in ons ook. Hoe langer ons lewe, hoe meer kans het ons om te groei in liefhê se Goddelike afmetings. Wyer. Verder. Hoër. Dieper. Meer.


Hoe lief kan jy hê? Hanna se verhaal van verlange, vervulling en verlies raak ons intens. Ons moet so baie laat gaan. Kinders. Lewensmaats. Ouers. Soms meer as een kort na mekaar. Of gelyktydig. Laat gaan het mos baie gesigte. Soms het dit te doen met afstand of dood. Soms met vryheid. En grootword. ’n Mens kan ’n kind laat gaan, selfs al bly hy nog onder jou dak.

Soms vra of eis die lewe ook dat jy iets anders laat gaan. Miskien jou werk, of jou droom. Jou vermoë om iets te doen of te skep; iets wat jou lewe definieer en sin daaraan gee. Dalk iets of iemand wat jou identiteit vorm en jou ten diepste vervul. En die verlies daarvan, wanneer jy daardie mens of belewenis moet laat gaan, sal jou swaar tref. Dit sal beteken dat jy nie net die verlede laat gaan nie. Ook die toekoms. Jou drome van hoe dit kan wees. Jou redelike verwagtings en uitsien na wat goed en selfs wonderlik sou kon wees. Miskien is dit een van die redes hoekom ouers so intens treur wanneer hulle kinders sterf.

Wat vir ons die grootste ekstase bring, stel gewoonlik ook die hoogste eise aan ons liefde. En wat ons hart die stukkendste kan breek, is immers ook dit wat ons op die diepste moontlike maniere verruk en vervul. Om jou hande dáárvan te lig en te laat gaan … Ons weet. Ons verstaan Hanna se storie maar te goed.

Soms moet ons selfs vir God op ’n manier “laat gaan”, veral soos ons dink Hy behoort te wees of hoe ons wens Hy was. Daardie kinderdae-Jesus wat maklik was om in te glo, want Hy was so eenvoudig en goed, so eendimensioneel: kwaad vir die baddies, lief vir die goodies. Met ’n gepaste wonderwerk weggesteek in sy Almags-hoed, gereed vir elke moontlike dilemma. Of dalk die teenoorgestelde: ’n Fronsende kwaai Koning-diktator met streng reëls en helse swaar strawwe. Eendimensioneel en skrikwekkend. Selfs weersinwekkend. Maar iewers langs die pad word elke gelowige, soos Hanna, gekonfronteer met God se komplekse andersheid, sy swye en sy onverklaarbaarheid. Met ongekaarte grys areas van die lewe en van geloof waarvoor daar nie sommer maklike, eenvoudige antwoorde is nie. En waar ongemaklike vrae meer en werkliker is as ou sekerhede. Wat ons verstaan van God betref, sal, en behoort die kwilt altyd te klein te wees. Te min. Te min begrip vir hoe en wie Hy is. En veral ook te min verstaan van ons mens-waarde in sy oë.

Dit is soms, dikwels, vir ons nodig om ’n bietjie wyer-te-waag en te laat gaan sodat ons op nuwe maniere kan vind. In sulke gevalle is laat gaan nie noodwendig sleg nie. Die nuwe-vind kan op ander maniere wonderlik wees; meer bevrydend as die ou-weet. Veral as die nuwe-vind en wyer-waag die kwilt van liefde en genade – waaronder jyself skuil en waarmee jy ander toemaak – groter en omvattender maak.

Wat gebeur in ’n mens as jy laat gaan? Wat gebeur byvoorbeeld met jou liefde – as jou kind sterf, of as iemand kosbaar weggaan of aanbeweeg? Word jou liefde vir daardie persoon minder? Word dit meer? Of word dit anders? Kan opregte liefde – vir God of mens – ooit ophou of wegraak? Of bly dit onuitroeibaar?

Wat verhoed dat ’n mens laat gaan, laat los, jou hande lig en vrylaat wanneer jy moet? Is dit vrees? En indien so, waarvoor, vir wie? Of is dit dalk die gerusstellende groef van gewoonte wat jou keer om te waag? Dalk is dit die onuitgedaagde gevaar van vooropgestelde idees. Miskien is dit die gekneldheid van te klein drome. ’n Gebrek aan waagmoed, geloof, vertroue – in God, of in jouself, of in die persoon wat jy laat gaan. Ook hier is die beeld van ’n te klein kwilt toepaslik. Of dalk is dit omdat jy, soos Hanna, uiteindelik, na baie jare se soek en smag uiteindelik vervuld voel, asof die kwilt uiteindelik groot en warm genoeg is!

Om dan dié mees vervullende weer af te staan, wanneer jy reeds die pyn van ontbering so goed ken en so lank moes verduur: dít vra ’n groot gees en ’n nóg groter liefde. Groter, dikwels, as wat jy dink jy kan wees.

Hoe lief kan jy hê? Weet jy? Hoe sal enige mens weet voordat jy tot jou uiterstes gestrek word? Verby jou eie selfopgelegde, onontginde grense. Verby die grense wat ander se inperkende voorwaardes en verwagtings om jou span. Verby die grense van vandag, en soos dit nou is. Of nog altyd was. Tot by ’n “laat gaan” waar jy God en mens meer, anders, dieper, vreesloser, standhoudender, en met onbevange oorgawe lief kan hê.

Met liefde wat saamgaan en ander stories

Подняться наверх