Читать книгу Met liefde wat saamgaan en ander stories - Annalise Wiid - Страница 8

4. Troos my met ’n teddie

Оглавление

Onverwags, een aand in die Baai, sit tannie Monica weer my kindertydteddie op my onthou-skoot neer: my swartsnoetbeertjie met die begrypende blink ogies, die styfgestopte boeppensie en die sagte, gladde leerpootjies wat ek soms vasgehou het soos ’n maatjie se hand.

Monica is nie regtig ’n tannie nie, al raak-raak sy aan 80. Die ewige kind in haar lag vir die ouderdom; speel in haar stem wat sag is en vol troos, nes haar beertjies. Sy maak hulle met die hand. Deesdae net vir die kerk se kermis of vir die een of ander verdienstelike fondsinsameling. Maar vroeër jare, toe haar hande nog sterker kon vat en haar oë nog fyner kon kyk, het sy teddies gemaak vir getraumatiseerde kinders en verrinneweerde vroue.

Seker so 15 jaar gelede sleep Monica se suster haar saam na ’n beertjie-maak-klas by ’n teddiewinkel. Sommer vir die lekker. Twee agtereenvolgende Saterdae. Van toe af was daar geen keer nie; die gogga het gebyt. Sy het ontwerpersteddies van duur ingevoerde Duitse materiaal begin maak. Elk met sy eie naam, gevoel en karakter. Tabitha, Bileam, Richard. Benson was ’n biker met ’n leerbaadjie en ’n attitude. Outback Aussie was ’n edelsteendelwer Down Under, kompleet met sy kurkprophoedjie en sy stapstok oor die skouer. Ag, en die ou sagte, ligte enetjie was Emily. Monica vertel met soveel liefde van hulle dat my ore eintlik hulle troetellyfies in haar woorde voel.

’n Vriendin wat by Rape Crisis werk, het vir Monica vertel van die swaarkry van getraumatiseerde kinders. Vroue ook. Wat kan ek doen om te help? wou Monica weet. Maak vir my bere, was die antwoord. Die gevolg was ’n hele klomp terapie-teddies. Veilige vashoubeertjies waarmee ’n bang kindjie kan speel en vir wie ’n mens alles kan vertel wat met jou gebeur het, amper sonder dat jy agterkom jy het nou uiteindelik daaroor begin praat. Want dit is so moeilik om die regte woorde te kry wanneer ’n mens die slegte goed vir grootmense moet oorvertel of probeer verduidelik wat met jou gebeur het. Maar ’n beertjie hoor en verstaan en troos en gee nie om vir gebreekte woorde nie.

Ook vroue wat slagoffers was van gesinsgeweld of verkragting het baat gevind by ’n beertjie. Party van hulle kon daarmee weer iets van ’n lankverlore onskuld en geborgenheid teen hulle vasdruk; ander kon die onverwoordbare teen ’n venynlose teddielyfie uitstamel of uitskreeu.

Daar was eenkeer ’n man, vertel Monica, ’n hawelose gestremde man. Hulle het haar eendag gebel en gevra of sy sou omgee as hulle vir hom ook ’n beertjie gee. Agterna laat weet hulle hoe verstom hy gevra het: Is it really mine? May I keep it for good?

Dan was daar ook die bejaarde weduwee Joubert wat sonder kind of kraai agterbly. Toe hulle vir haar ’n teddie gee, het sy weer iets om vas te hou; gesels sy land en sand met hom. Vernoem hom selfs na haar oorlede man, soos ’n kleinkind.

Ja, erken Monica, sý gesels ook met die beertjies. Terwyl sy hulle maak, ontwikkel elkeen sy eie karakter onder haar hande. Die neusie sit dalk net so effe skeef, of die oortjies spits so kordaat, ene persoonlikheid. Ek weet, ek weet. Ek onthou dan my eie teddie so goed! Hy was perfek. Al was sy een arm ’n bietjie stram en sy pels al kol-kol skif gespeel.

Dié dat ek die dag toe ek my ma se make-up beetkry, maar liewer op my sussie se teddie geoefen het as op my eie. Net ingeval die blou oë en rooi lippe hom so vreemd sou maak dat hy my nie meer kon troos nie.

Met liefde wat saamgaan en ander stories

Подняться наверх