Читать книгу Met liefde wat saamgaan en ander stories - Annalise Wiid - Страница 16

12. Dans op jou eie wysie

Оглавление

“Hoe maak jy ’n CD?” vra mense my dikwels. Ek antwoord gewoonlik: “Op honderd-en-een maniere.” Want CD-maak is baie soos dans, en dans … wel, dans is ’n versamelwoord. Dit omarm ploeter en plesier, sowel as professioneel. Jy kry toekatyd se skoffel in die plaasskuur met stof en strooibale. En jy kry deesdae se bondelstaan waar lywe losweg heen en weer wieg met die arms wat swaai. Jy kry krom vooroorskouertjies wat met knak-knieë en ’n doellyn-kyk in die oë om en om aan die buitekant van die baan motor. Jy kry swierige, smeulende glipgladde glyers. Jy kry ongemaklike stram laaistokke. Jy kry slap jelliebene.

Skud en skommel. Ruk en rol. Sommige is ongekunsteld. Sommige is elegant. Jy kry ontspanners. En jy kry inspanners. Jy kry live bands. Jy kry elektroniese geblikte DJ-musiek. Sakkie-sakkie, twist, samba, tango. Ag, eintlik dans elke ou maar op sy eie wysie.

Vir my is songs skryf soos swangerskap. Iets groei oor ’n lang tyd in jou. Op ’n dag skop ’n gedagte, ’n paar mooi woorde, ’n melodielyntjie skielik hier binne jou. Jy voed en beskerm dit met jou tyd en aandag. Met ure voor die klavier of agter die kitaar. Met die mildelikheid van woordeboeke, gebede en vrye-teuels verbeelding. Mettertyd kry die lied lyf. Kry dit gesig en karakter. Word woorde en wysie één. En jy weet: jy is deel van die skeppingsproses. Jy is broeiplek en kanaal. Maar lewe, dit wat uit jou gebore word om op sy eie te kan staan, bly ’n wonderwerk. Jy verstom jou, want jy besef: jy word gevorm, verryk en selfs ook verander deur dit wat in jou gevorm word.

Dan bel jy op ’n waaghalsige dag jou vriend, die Verwerker. Begaafde musikant. Vertroueling. En jy sê die hartstoppende, wildkloppende vryval woorde: “Ek wil weer opneem.”

Julle sit koppe bymekaar oor tempo en trant. Watter instrumente gaan die beste werk by watter song. Hierdie song smeek vir kitare, daai een kry beslis klavier. Wat van viool by die blommelied? En vir die verlanglied dalk daardie klein traporreltjie met die treurige hees stemmetjie. Die een song kán nie sonder tromme nie. ’n Ander een móét eenvoudig agtergrondstemme ook hê.

Ná al die vooraf beplanning stap jy die ateljee baie opgewonde en ’n bietjie benoud binne. Wat in jou gegroei het, gaan uiteindelik gebore word. En dáár, met die eerste suiwer noot, oorspoel ’n onbeskryflike lekkerte jou. Jy drink uit ’n feëfontein wat nóú sjokolade, netnou sjampanje, nóú koffie, netnou karamel spuit. Bietjie vir bietjie, laag op laag kry die songs gestalte. Alles word nie sommer gelyk opgeneem nie. Eers die basisinstrument wat die lied gaan dra. Dan die stem. Daarna die ander instrumente wat aanvul en inkleur. Die man met die viool toor ragfyn spinsuikerdraadjies uit die wonderfontein. ’n Vrou se warm Afrika-stem pols gesmelte goud soos lawa daaruit. Die bekwame tromspeler laat skiet vrolike perkussie soos popcorn en sherbet-borrels. Die klavier ritsel blink rivierlopies, die kitare kabbel heuningwyn.

Ons vang al die fonteinklanke sorgvuldig op. Meng dit noukeurig en geduldig totdat elke noot en nuanse volkome gemaklik voel met mekaar. Kies ’n boeiende titel; ontwerp ’n treffende omslag – amper soos ’n baba wat ’n mooi-in-die-mond-naam kry. En die kordaatste babygrow waarop jy jou hande kan lê.

Hoe maak jy ’n CD? Net soos jy leef: Jy omhels wat vir jou gegee word. Jy eien en ontgin, bewerk en koester alles. En só word jy weer op jou beurt ’n gawe, ’n geskenk aan jou Skepper en sy skepping terwyl jy eenvoudig, dankbaar en onbevange op jou eie wysie dans.

Met liefde wat saamgaan en ander stories

Подняться наверх