Читать книгу Met liefde wat saamgaan en ander stories - Annalise Wiid - Страница 4

Voorwoord

Оглавление

Nakkie het ’n kwilt gemaak. Ek het nog ’n foto van haar hande wat daaraan werk. Oor haar skouer geneem. Naby fokus. Net die twee mooi hande wat, sorgsaam, woorde op ’n lappie borduur. Dit was ’n laatmiddag in Mei. Op die stoep van ’n ou sandsteenhuis in die Oos-Vrystaat. Die lig was sagte goud.

Nakkie het ’n jaar lank aan die kwilt gewerk. Dit was haar eerste een. Elke steek is met die hand gemaak. Geen masjienhulp of kortpaaie nie. Tydsaam. Rustig. Sekuur. Nakkie vertel hoe die kwiltmakery haar stekie vir stekie deur ’n moeilike jaar van verlies en verlange gehelp het. Soos tree vir bang tree deur ’n donker bos, of teen ’n moegmaaksteilte uit. Elke steek was eintlik ’n gebed. Klein, gelowige skuifeltjies vorentoe.

Sy kom sprei die pronkstuk voor my oop. Ek snak. Dit is so pragtig!

Ek komplimenteer haar met haar deursettingsvermoë en kreatiwiteit, en haar moed om haar droefheid in iets so asemrowend te omskep. Terwyl ek nog so tekere gaan oor hoe wonderlik dit is, val sy my in die rede: “Dit is vir jou,” sê sy.

Net dit.

Wat? Ek verloor my woorde. My draad. My stem. My selfbeheersing. Oorstelp begin ek sommer huil. Gee sy haar harde werk, dié belangrike getuienis van haar geloofsreis, sommer net so vir my? Hoe kan sy dit laat gaan? Ons ken mekaar dan skaars? Sien mekaar hoogstens een naweek per jaar wanneer ons Oos-Vrystaat toe vlug vir ’n retreat.

“Ja,” sê sy eenvoudig, “ek wil jou toevou in liefde.”

Beeldskoon is dié wonderlike, onverdiende kwilt; die lewenslap.

’n Skuiling. ’n Heiligheid. Kombers-kerk. So warm. So genadig.


Hierdie boek laslap twee van my groot liefdes aan-mekaar: rubrieke wat ek vir die tydskrif LiG skryf, en die verstommend praktiese verhoudingswaardes uit kosbare ou Bybelverhale wat ek tydens kampe en retreats met mense deel. In Met Liefde wat saamgaan skryf ek oor die verhale van Hanna, Samuel en Eli, en hoe God daarmee verweef. Die eerste keer dat ek dit met ’n gehoor gedeel het, was tydens ’n retreat wat ek vir die tydskrif Lééf in die Oos-Vrystaat aangebied het na aanleiding van Nakkie se asemrowende kwilt … Die liefde wat sy daarmee vir my aangegee het, was my inspirasie om die lappieskombers van verhoudings in die Samuel verhaal te ondersoek. En dit aan die raakpunte in ons eie lewe vas te werk.

Dankie, LiG. Dankie, Lééf. Dankie, Nakkie. Dankie aan elkeen wat wetend of onwetend bygedra het tot die woorde wat ek skryf. Julle wat my lewe kleur met julle menswees. En veral julle wat julle liefde soos ’n mantel om my vou. Baie dankie ook aan Lux Verbi, en by name Susan Jordaan, wat kies om nog ’n ent op die skryfpad met my saam te stap.

Annalise Wiid

Julie 2016, Somerset-Wes

Met liefde wat saamgaan en ander stories

Подняться наверх