Читать книгу Met liefde wat saamgaan en ander stories - Annalise Wiid - Страница 15

11. Uit die boks uit

Оглавление

“So gaan sluit ek toe mos by die VLV aan toe ons hier op die dorp intrek.” Sy gooi die woorde ligweg oor haar skouer, soos ’n afdroogdoek, en strek vooroor om die boontjiesop in die ysterpot te roer. Terselfdertyd kry sy met die ander hand bestanddele bymekaar vir die kaaskoek wat sy gou in die oond wil druk. Ek beskou haar oor my beker oggendkoffie en dink: Soos jý tekere gaan, sal jy selfs die voorste VLV- vrou ’n go gee!

“Jy weet, my ma was mos nie juis ’n kombuismens nie. Sy’t mos liewer tuin gemaak en sommer net melktert by die tuisnywerheid gaan koop. So, wat weet ek nou van die VLV se hoë standaarde en dinge.” Woerts klap sy die oonddeur toe terwyl sy in dieselfde beweging weer die sop roer.

“En toe het hulle die eerste keer dat ek soontoe gaan ’n koekbakkompetisie. Ek vat ’n sjokoladekoek wat ek so mooi moontlik gemaak het, en daar wen ek die prys! Beste koek van die lot. Kan jy dit nou oorvertel?” Sy vou skoon dubbeld soos sy haar van voor af weer verkneukel oor dié lekkerkry.

“Toe sê die voorsitter mos ons moet ons resepte saambring na die volgende vergadering toe en daar daag ek op met die Ina Paarman-boksie. Ek het nie geweet hulle is so erg oor oorspronklike resepte nie. En ek hét nogal een probeer vat, hoor. Ek wou dit van die boks af skryf, maar daar is net ingredients en nie hoeveelhede nie. Toe vat ek maar net die boks. Nou is ek in die notule!” Ek verstik in my koffie soos ek lag. Kan my net voorstel watter skok en ontsteltenis en konsternasie dié onskuldige koekboksie ontketen het. “Húlle het nie gedink dis snaaks nie,” sê sy met ’n verleë laggie.

Uit die boks uit. Nee, dit is nie altyd snaaks nie. Dit kan deksels steurend wees, onverhoeds, vreeslik verontrustend. Want dit skok. Dit daag uit. Of irriteer. Veral as dit jou uit jou gemaklike groefie dwing. Tog kán dit ook skreeusnaaks wees en aardskuddend wonderlik. Dit kan jou rillings langs jou ruggraat af gee en jou in ’n splinternuwe wentelbaan in woer. Veral as dit soos ’n jack-in-a-box skielik en uitgelate en onmanierlik dawerend in jou gesig kom lag. Skrik of saamlag word bepaal deur hoe jou boks lyk. Hoe heilig jy dit ag. En hoe noodsaaklik dit vir jou sielerus is.

Onthou, daar is drie soorte “uit die boks uit”. Een is die koek-soort. Van veilig leef volgens vooraf verpakte resepte. Of dit nou in die kombuis, in die kantoor of in die kerk is. Dié soort volg, sonder dink, bloot net die aanwysings. Hulle verkies gewoonlik antwoorde bó vrae. ’n Kalm see bo golwe. Hulle vat voorspelbaarheid vóór verandering. Flop proof. Maar op die lange duur dalk effe vervelend?

Dan is daar die oninperkbare soort wat immer ongerus voel oor grense. Wat kettings breek en konvensies afgooi. Wat floreer op vrae. Wat gedurig wonder: Hoekom? En wat dan? En wat nog? En hoekom nie? Wat wyer en dieper dink en delf en karring as hulle koek-eweknieë. Veilig-speel is selde ’n opsie. Hulle fokus op verder en vorentoe en vinniger. Hulle omskep ’n Ina Paarman-resep in ’n Hilda-van-7de-Laan-konkoksie. Want wat van net nog ’n knippie van dié of ’n skeppie van daai – net vir ’n bietjie skop? Opwindend. High risk.

En dan is daar die asemwegslaan-soort verrassings uit die boks uit. Bykans onbetaalbaar; verkieslik blink en blitsig. Of edelsteen-klein, en die boks(ie) behoort toegestrik te wees met ’n baie bloedrooi lint.

Met liefde wat saamgaan en ander stories

Подняться наверх