Читать книгу Met liefde wat saamgaan en ander stories - Annalise Wiid - Страница 14

10. Sela. Skink die wyn

Оглавление

Elke September begin al wat ’n mens is mos diet. Aaklige woord, diet. Het in my tienerjare laas met oorgawe my tande daarin geslaan. Deesdae klink dit vir my altevol na vloek. Selfs in suiwer Afrikaans. Dieet. Ga! Dit proe nie lekker nie. Dit is bowendien slegs bevoorregtes se geil luukse. Armes eet net wat hulle het, of ly honger. Die naaste wat ek daaraan kom, is “bietjie briek aandraai”. Ook dié dat ek dik is.

Hoe kan ’n mens dit nou ook hou met MasterChef en Koekedoor wat voortdurend jou smaaklus prikkel en jou met die jongste superchef-sensasie betower? En moenie vergeet van die liplekkende Nigella of naakte, rof en tjommel Jamie se verleidelike smulgoed nie.

Nee wat, maeres kan maar suikervry en koolhidraat-loos se lof tot in ewigheid besing. Op ’n klein kalorie-besparende vleisie en hope groengoed met ’n slegs-soggens se handjievol bessies sal jy my nie sommer betrap nie. Hoe sal ek dan nou kan lééf sonder perskes en papajas? En mango’s? Ag, alles wat oranje is! Pampoene is dan so verruklik; of dit nou vaalskil of knoetsvel is, boer of Hubbard, dié kleurryke trooskos sal ek nooit as te nimmer kan vermy of ontbeer nie.

Ook nie patat of aartappels nie. Ek eet hulle mos nou nie elke dag soos stapelvoedsel, of by die stapels nie. Maar patat in die skil gebak met net olyfolie en growwe sout, saam met ’n stuk gebraaide snoek, is suiwer saligheid. Moenie vir my kom vertel fyngemaakte, maar steeds effe skurf-van-tekstuur blomkool is beter as ware-Jakob-mash nie. Kapokaartappels klink mos sommer na wolkerige wit, romerige sagtheid – asof jou mond daarin wil speel, soos ’n uitgelate kind in warm sneeu.

Bloedrooi beet, pers pruimedante, sappige pere en kraakpit-mielies of somersoet appels – daarvan praat ek nie eens nie. Oor af en toe se mosbolletjies, kaiingbrood of koeksisters sal ek maar skelm swyg, en net fluister van fluweel-in-die-mond-sjokolade en gladgekookte karamelkondensmelk. Ag, waar balanseer die skaal tog tussen gesond en lekker?

Sien, ek is ’n skaamtelose smulpaap. En dan nog nuuskierig ook. Al wat geur en smaak het, wil ek proe. Vlieënde, swemmende, vierpoot- of twee-beenskepsels sal ek aandurf. Het selfs al dié wat ’n silwer spoortjie los gesample, maar besluit dis bloot baie duur knoffelbotter. Net by die kruipendes hou ek liefs verby. Die enigste ding met baie pote wat ek in my mond sit, moet uit die see kom.

Die hele hemelse reënboog van vrugte tot fyngebak, van skaaptjop tot safgekookte sêmp-en-sous lok my uit. Gekerrie, gepekel, gerook, bring maar. Uitlands of inheems, eksoties of ordinêr, opgerol, platgedruk of ingeryg. Gekerf, gekrui, gebak, gebrou. Net nie by die emmer- of wavrag vol nie. Ek hoor maar immer Ma se manende lyf-raad uit my kinderdae: “Hou net matigheid voor oë, my kind. Met álles, nie net met kos nie.”

Maar dit werk ook net soms. By vars vye beteuel ek myself beswaarlik, en ek het lankal besluit: Ek is eerder groot, gesond en gelukkig as in ’n brandmaer mode-formaat van myself ingefolter. As ek daardie dun paaltjie wil haal, sal ek permanent befoeterd en besete aan die gym wees. My lyf en my gemoed verkies stap, nie draf nie; vars lug, nie binnenshuise sweetwalms nie. Ek is nou maar eenmaal nie ’n voorbladmeisie nie; eerder ’n dubbel-middelblad. Sela. Skink die wyn!

NS: Liewe Suurlemoen, Seldery, Spinasie, Blaarslaai, Brokkoli en Brusselse spruitjies, ek geniet julle ook. Ek salueer julle hoogaangeskrewe, wyd beproefde verslankingsbydraes. Dis nie dat ek julle verafsku of wil vermy nie. Julle lyk net soveel lekkerder, soos lente-op-’n-bord, langs salmpienk, oranje, rooi en moerbeipers.

Met liefde wat saamgaan en ander stories

Подняться наверх