Читать книгу 'n Luiperd in my bed - Annelize Slabbert - Страница 11
4.
ОглавлениеWind van voor
VRYDAGMIDDAE was ons gunstelingtyd. Ná die week se rondjaag tussen Lalapanzi, ons onderskeie werksplekke, die kinders se tandartsafsprake en naskoolse bedrywighede, het die naweek met lekker plaasdinge voorgelê.
Een somermiddag ry ek met my Italiaanse sportmotor uit Doornfontein weg. Dis natuurlik net onervare amateur-boere wat sal droom om met ’n motor wat vir Europese snelweë ontwerp is die hobbelrige klippaaie tussen die kleinhoewes en skooltjie by Hennopsrivier te navigeer. Maar ons is nog nuut en vol drome, en vasberade om die uitdagings van die plaaslewe die hoof te bied met ’n jappie-gesindheid van “stylvol ten alle koste” en “die indruk wat jy skep, tel”.
Na die noorde was daardie dag ’n dik bank loodswaar wolke. Net duskant Lonehill het die wind opgestoot terwyl nog donker wolke voor die son inskuif en die eerste plomp druppels op die voorruit neerval. ’n Hoëveldse storm was met mening op pad. By Fourways het swaar reën reeds begin val. Hoe nader ek deur die digte reënvlae aan die plaas kom, hoe erger het die wind gewaai. Ligte haelkorrels het die bakwerk van die Lancia begin tref. Met die afdraai van die teerpad, op die laaste been tot by Lalapanzi, was dit gou vir my duidelik die grondpaadjie het in ’n rivier verander. Die roete na die plaas het die kontoere van die rivier gevolg en natuurlik het die walle water ’n reguit pad na die rivier gevind, bo-oor die skraal paadjie wat my moes huis toe neem.
My grootste bekommernis was dat die rivier sou afkom en die brug na ons huis oorspoel. Met die laaste draai voor die brug het die dapper Italiaanse karretjie, wat diep deur die kolkende modderwater moes beur, haar stert angswekkend na links geswaai. Ek was oortuig die motor gaan in die rivier beland, met my binne-in. Maar met groot moeite kon ek die neus van my motor weer teen die aankomende stroom water instuur. Net om te sien dat die laagwaterbrug onbegaanbaar was.
Drastiese uitdagings verg drastiese stappe en ek was reg vir die toets van alle tye. Teen ’n klipperige opdraande uit het ek die Lancia gemaneuvreer om op ’n gelykte buite bereik van die stromende rivierwater te kom. My Italiaanse skoene het ek netjies op die sitplek langs my gesit, ingeval die water onder die deur insypel en die vorm van die skoene onnodig verander. Gelukkig was dit my dag vir ’n kort rompie, weliswaar ietwat aan die nou kant, maar ver beter as ’n langbroek.
Oor die brug, deur die dik laag rooi modder, met die rivier wat om my bobene raas, het ek gebeur, my hare ’n nat mop om my gesig en my tas ’n baie swak sambreel om darem genoeg reën uit my oë te hou om die oorkantse oewer te sien.
Eers in die huis, was my verligting groot toe ek al die koppe tel: die honde, katte, kinders en man was almal veilig, die skape in die kraal. Almal was natuurlik wagtend op die Ma van die Huis vir diverse vreugdes soos pannekoek en Vet’s Choice.
Regdeur die Vrydagnag het die reën op die teëldak geklater tot ek teen vieruur uiteindelik ingedommel het. Sonskyn en vrolike voëlliedjies toe ek wakker word. Gerard was op die trap, op pad na ons kamer, en ek kon koppies en teelepels hoor klingel.
“Vrou.”
My oë was nog wasig van die slaap en my ore nog ingestem op reën.
“Vrou.”
Was ek nog net deur die blare, of was daar ’n noot van effense histerie in Gerard se stem?
“Vrou. Drink jou koffie. Moenie opstaan nie. Moet veral nie ondertoe gaan nie. DRINK EERS KOFFIE!!!”
Wat my ná twee sterk koppies koffie sou begroet, was die gevolg van die ligging van ons popspeel- A-raamhuisie ten opsigte van die skaapkraal. Laasgenoemde was naamlik 50 meter van die huis teen ’n steilte gebou en dus sowat vyf meter hoër as die werf. En die huis.
In die Nag van Reënvloede het die vloerbedekking van die skaapkraal – met ander woorde, mis, mis en nog mis – afgespoel na ons huis. Só sterk was die strome water wat binne ’n uur teen die afdraand afgevloei het dat mis, gras, takke en blare die dreineringstelsel rondom die huis verstop het. Daarna het die geurige mengsel in verstommende hoeveelhede onder die deure ingesypel. Die sit- en eetkamer, matte en al, was ’n pappery van modder-en-mis.
Dit was ’n Saterdagoggend. Gerard moes gaan pille smous. Ek moes by die plaasskool se kermis agter die pannekoektafel gaan staan. En die plaas was nou nie juis om die hoek van ’n flinke tapytdiens nie. Die realiteit van ’n lewe so ver van dienste wat in die stad algemeen aanvaar word en ons uitlewering aan die magte van die natuur het – saam met die kraalmis – ons uitkyk op die plaaslewe begin verander.
Die werklikheid van ’n landelike idille het soos slegte medisyne begin proe.
Een van die uitdagings vir my was om steeds die kinders alle geleenthede te gee wat hulle sou gehad het as afstande nie ’n faktor was nie. Oor die noodsaaklikheid van al die bedrywighede het ek en Gerard nie altyd saamgestem nie. My vasberadenheid om byvoorbeeld Katinka en Jacobus se “geestelike versorging” nie te verwaarloos nie, was die aanleiding tot van ons ernstigste meningsverskille. Vandag glo ek ’n bietjie konstruktiewe verwaarlosing kan wonderwerke vir ma en kind bewerkstellig, maar dit was die jare tagtig en Supervrouens, soos ek wou wees, het met een hand aan ’n doktorale proefskrif gewerk en met die ander tuisgemaakte brood gebak, terwyl sy ingewikkelde trigonometriese probleme op Graad 12-vlak saam met haar dogter oplos en vir haar seun die rugbybal skop.
Geestelike versorging was elke Sondagoggend om 8h30 by die NG Kerk Erasmia, sowat 10 km van Lalapanzi. Winteroggende in die Hennopsrivervallei het ys-stalaktiete aan die doringdrade gehang. Die kinders was warm aangetrek, Katinka in ’n wolrok wat meer vir hitte as vir modebewustheid gekies is. Gerard was erg knorrig om die hele ent pad te ry en dan vir die kinders te wag terwyl hulle alles leer wat goeie Gereformeerdes van die Heidelbergse Kategismus moes weet. Stiptelik 8h30 het hy hulle voor die kerk afgelaai, sonder om kennis te neem van die geslote aangesig van die somber kerkgebou en die totale gebrek aan enige ander slaapvoos pa’s wat kinders aflaai. By die dorp se enigste kafee het hy sy Sondagkoerant gekoop en onder ’n boom ingetrek om ’n uur lank te lees en te wag. Saam met ons twee kinders was Pieter, ’n maat wat deel van ons huishouding was, en vele avonture saam met ons meegemaak het.
Dit het die drie kinders net vyf minute geneem om te besef dat daar om een of ander onbekende rede daardie Sondag geen byeenkoms van katkisante sou wees nie. Hul logiese afleiding toe hulle buite kom en die bekende gesinsmotor en Gerard soek en niemand vind nie, was dat Gerard besluit het om terug te ry Lalapanzi toe. Ná tien minute van wag “net ingeval” het die drie in die pad geval, plaas toe. Hoe lank kan dit nou eintlik neem om 10 km te stap? En Gerard sal weldra van voor af aangery kom, het die drie saamgestem.
Teen 9h30 het Gerard geïrriteerd en haastig voor die kerkgebou stilgehou. Daar was niemand buite nie. Ergerlik het hy ná tien minute se wag aanvaar die kinders het besluit om die erediens by te woon, wat reeds aan die gang was. Nóg ’n uur se wag dus.
Sy gesig was teen daardie tyd ’n suur pruim. Een uur later, met die vroom gemeente reeds veilig gekerk en nou vrolik op pad na hul Sondagmaal, was dit selfs vir my onoplettende man duidelik dat die drie kinders wat hy meer as twee uur vroeër afgelaai het, nie onder die gekerktes was nie.
Ek was tuis besig met ’n pampoen. Lalapanzi se groentetuin was my trots en my pampoene die kroon op my en Albert se arbeid. Aspoestertjie sou jaloers gewees het. Daarom dus my missie vir daardie dag: pampoensop in die pampoen self bedien, geurig met neut en kaneel en met varsgebakte brood. Jare later sou pampoensop in vele gedaantes op vele etenstafels, spoggerig en nederig, beland. Maar in 1990 was dit ’n onbekende nuutjie. En ek kon nooit daarna bepaal of dit wel moontlik is om die gereg in die heel pampoendop te kook nie, maar kan net bely dat daar verskeie praktiese uitdagings aan hierdie kookproses was.
Terwyl ek swetend en swetsend, met die pap pampoenhouer in ’n knieskottel, die Sondagmaal wou red, kom die gesinsmotor met onheilige spoed die werf binne. Drie stowwerige kinders, met traanspore oor hul wange, sukkel bedeesd uit die motor. Gerard kyk nie links of regs nie, maar beur briesend in die rigting van die kraal, waar Albert reeds ’n geruime ruk wag om skape te spuit.
Natuurlik hoor ek die verhaal eers later. Van hoe die kinders mekaar begin bang praat het met stories van ontvoerders en gevolglik met die aankoms van elke motor in die naaste sloot geduik het en dus ongesiens daar gelê het terwyl hul pa rasend van bekommernis op en af met die 10 km-pad na hulle soek.
“Jacobus, ek wil nou nie snaaks wees nie, maar jou pa is TREURIG,” was Pieter se raadop beslissing toe daar ná 8 km steeds geen teken van hom was nie. Uiteindelik het Gerard die drietal in die verte raakgesien, Katinka stomend in haar wolrok, Jacobus sonder skoene, want sy voete was altyd te groot vir enige skoeisel, en Pieter met sy hemp om sy kop gedraai, want “dit hou hom koel”.
Etenstyd was ’n hartseer affêre. Niemand wou van die pampoensop, borriekleurig en onaantreklik in sy aweregse pampoendop, eet nie. Nie eens vars brood-en-stroop kon die gemoedere lig nie.
Daardie dag het ek geleer hoe kos op emosies inspeel. Miskien sou skaapboud en gebraaide aartappels, of ’n sjokoladekoek, die dag kon red. Maar die droom van ’n Sondagmaal strek nie tot by pap pampoen nie. Soms is drome bereikbaar vir ’n kortstondige oomblik. Maar meesal dwing klein en alledaagse voorvalle ’n mens om jou lewe en jou drome te heroorweeg.
Nêrens in die idilliese prentjie wat Gerard en ek, en les bes die kinders, oor ’n lewe op die plasie gehad het, was daar plek vir die eise van die lewens wat ons vir onsself gedroom het nie. Byvoorbeeld: Naas my roeping om te verseker dat ons kinders geestelik voorberei word om eendag geen krom paaie te loop nie, net so ernstig was ek om te verseker hulle word groot met reguit tande. Laasgenoemde roeping het, soos ander ouers waarskynlik sal kan bevestig, veel meer eise aan ons bronne, tyd en ons gesamentlike bankrekening gestel.
Toe die maandelikse afspraak om te kyk hoe vorder die mieliepitmondjies op ’n Maandag val, was ek verplig om Gerard se hulp in te roep, want Maandae het my blaaie by die tydskrif gesak en enige wegkomkans voor vroegaand was buite die kwessie. Teen daardie tyd het die eise van nuwe planne wat Gerard met apteke en die kleinhandel-aptekerswese gehad het, hom gedwing om sy skape na sy broer se plaas buite Thabazimbi te neem. Dus was daar net Blommetjie, ons melkkoei, en die werfhoenders wat op Lalapanzi die naweekboer besig gehou het.
Die Maandag was vir my ’n besondere deurmekaar een, toe ’n dringende oproep teen vieruur die middag deurkom.
“Mamma … ” Die stemmetjie is yl en onseker. Katinka. “Mamma, kom Pappa ons nog haal?”
My brein haak vir ’n oomblik vas terwyl ek deur die dae van die week en die kinders se rooster in my kop blaai.
“Katinka, waar is julle?”
“Mamma, ons is by die skool. Juffrou het gesê ek moet bel, sy moet nou huis toe gaan. Pappa was nog nie hier nie. Gaan oom André nie kwaad wees nie? En Mamma, Jacobus huil.”
Net ’n ma wat haarself al in so ’n situasie bevind het, sal weet van die magtelose ontsteltenis, die matelose kommer, die gefrustreerde ambisie, die oorweldigende beskermende liefde wanneer jy die eise van jou werk, die eise van ma-wees en die huwelik moet versoen.
’n Paar oproepe op die spoor van die verlore vader laat blyk dat hy en sy broer reeds vroeg na die plaas buite Thabazimbi verkas het om die nuwe skaapkrale te gaan bewonder. Sy erfgename se skewe tande heel vergete.
Saam met die verbeurde tandartsafspraak was ’n gereelde besoek aan die kinders se ouma in Northcliff, waar aandete in die vorm van frikkadelle en broodjies opgelaai moes word, asook ’n koek vir die verkoping by die skool die volgende dag.
Op dié punt gee enige vrou ruiterlik erkenning aan die dinamiese uitvoerende amptenare van groot konglomerate wat nie net ’n greep op gevorderde tegnologie het nie, maar ook indrukwekkende winssyfers oplewer wat direkteure in obsene welvaart laat lewe. Maar ek wy my lofprysing aan die eenvoudiges onder ons wat kan plan maak om twee wagtende kinders by ’n plaasskooltjie 40 km ver van haar kantoor op te laai, langs die pad ’n voedsame aandete en bobaaskoek kan optower en, so algaande, ’n insiggewende artikel oor die jongste BBP-syfers en die impak daarvan op rentekoerse kan afhandel.
Die krakies in die droom van ’n rustige landelike bestaan was teen daardie middag soveel soos die gate in die veselglaswatertenk waarin ons drinkwater geberg was. Soos met die tenk, is die krake aanvanklik suksesvol met veselsement toegestop. Maar mettertyd het dit nie meer gehelp nie.
’n Nuwe tenk was nodig. Maar niemand wou die eerste een wees om dit te erken nie.