Читать книгу 'n Luiperd in my bed - Annelize Slabbert - Страница 13

5.

Оглавление

Moetie

UITEINDELIK is Gerard se vlugtige flirtasie met intensiewe skaapboerdery nie beëindig deur die roepstem van die kerk of die begeerte na reguit tande nie, maar deur pille. Of, om meer juis te wees, die prys van pille.

My man het homself in sy beroep as apteker reeds ’n ge­ruime tyd voor die plaasdwaling as aweregs bewys. Hy was nie net ’n voorloper met nuwe planne vir die aptekers­bedryf nie, hy was ook te vinde vir ongewone en onbeproefde stra­tegieë wat hom dikwels die onderwerp van kritiek ge­maak het.

Terwyl Gerard besig was om skape te dip, of in sy motor op pad was na een van die apteke, of snags wanneer hy slape­loos onder die witstinkhoutboom een sigaret ná die ander in bolle rook opstuur, het hy van ’n nuwe bedeling vir apteke begin droom.

Só bevind ons vier onsself een Saterdagoggend in 1987 op die parkeerterrein van ’n nuwe winkelsentrum in Gezina, Pretoria. Voor die sentrum het die eenrigtingverkeer in Voor­trekkerstraat opgedam soos mense van heinde en verre gekom het vir winskopies by die nuwe afslagwinkels. Meubels, drank, en … medisyne.

In die heel eerste afslagapteek in die land, op ’n perseel so groot soos ’n gemiddelde supermark, met rakke so hoog soos ’n gemiddelde man en gepak met rye toiletware, kombuis­ware, geskenke, lekkergoed, tydskrifte en, les bes, medisyne. Alles teen ongehoorde lae pryse.

Voor die kosmetiektoonbank het honderde mense saam­gedrom. Anneline Kriel se ligtekop en die geur van haar nuwe parfuum het haar teenwoordigheid by die groot openingsgeleentheid verraai. Kameras van koerantfotograwe wat flits, winkeltrollies in verkeersknope tussen die vol rakke, lang toue opgewonde kopers by die veertien kasregisters: Nog nooit het ’n buurtapteek so iets beleef nie.

Pharmarama is gebore. In vele opsigte was die apteek se geboorte voortydig. Die sakeomgewing, veral ten opsigte van beroepe soos mediese praktisyns, regsgeleerdes en lede van sogenaamde paramediese beroepe, waaronder aptekers, is streng deur professionele liggame beheer. Dit het die gryskoppe van die Aptekersraad en Gerard se mede-aptekers in die binne­kringe van die Aptekersvereniging nie lank geneem om hul standpunt teen die balhorige tiener op die toneel luidkeels en afkeurend te lug nie.

Die jaar 1987 was die jaar van ’n paar bloedige veldslae tus­sen die verteenwoordigers van die bestaande orde en twee uit­springer-aptekers soos Gerard en sy geesgenoot, Malcolm Abrahams.

Die eerste kartetse het gevlieg toe ’n promosie-artikel op die openingsdag van Pharmarama in Beeld verskyn met ’n foto van Malcolm en Gerard hand om die lyf met ’n bekende atleet en die pragtige voormalige Mej. Wêreld. Malcolm was meer begaan oor die foto se bevestiging van ’n effense bles as oor moontlike tugsake, terwyl Gerard nie kon ophou praat oor hoe minsaam Anneline was nie.

Maar maande van stywe regskoste en uitmergelende span­ning later is Gerard, as die maatskappy se geregistreerde apteker, deur die Aptekersraad amptelik “berispe” omdat hy met “be­roemdes” geheul het om sy besigheid te bevorder. Om korting op die prys van voorskrifmedisyne te gee, was voorts “onprofessioneel”, is bevind.

Aptekersraad 1. Pharmarama 0.

Veldslag twee: ’n Reklameagentskap, Young & Rubicon, het die gemoedere van die land se aptekers behoorlik op loop gejaag met ’n advertensieveldtog waarin ’n moetieman met ’n been vra: “Are you paying through your nose for your medicines?”

Die veldtog moes die aftog blaas.

Aptekersraad 2, Pharmarama 0.

Veldslag drie en tyd om al die troepe op te roep. Onorto­dokse vyande verg onkonvensionele gevegvoering.

Weens al die druk vanuit kleinhandelgeledere het SA Drug­gists besluit om die sekuriteit wat hy vir ’n oortrokke gerief by Volkskas gegee het op te hef. Op ’n triestige Maan­dag­oggend, ná ’n draai in die kraal, het Gerard dapper in ’n donker pak, geskoei in Switserse leer, die gedempte heiligheid van Volkskas se raadskamer binnegestap. Met ’n versa­me­ling strakgesig uitvoerende amptenare van die bank wagtend.

Gedagtig aan die wenke van sy medeaandeelhouer, Mal­colm, ’n man wat die fynere punte van onderhandeling reeds as kleuter bemeester het, het Gerard oënskynlik volkome op sy gemak in sy styfgestopte regop stoel teruggeleun en met ’n swierige swaai van sy Bally-skoen sy een been luiters oor die ander gekruis. ’n Sweempie van ’n reuk nie eie aan diep tapyte of geoliede stinkhout nie, maar tergend bekend, het sy neusmembrane laat ril.

Aan die leersole van sy gepoetste trappers was die donker­bruin nalatenskap van Blommetjie se ruimhartige bydrae tot die wêreld se koolstof-emissieprobleem. So ongemerk moont­lik het Gerard sy voet onder die tafel laat rus, versigtig om nie kraalspore op die Persiese afghan te los nie.

In die dae wat op die jong onderneming se kontantkrisis gevolg het, was daar niemand wat ons Guernsey-koei vir die bank se onverbiddelike houding verkwalik het nie. Wie is in elk geval meer in kontak met gewone mense: bankampte­nare in lugverkoelde torings of ’n ietwat verslete man met mis aan sy skoene?

Drie veldslae was verlore. Maar uiteindelik het Jan en Alle­man die oorlog gewen.

Die laaste offensief is namens Pharmarama deur ’n aantal oud-veiligheidspolisiemanne geloods. Bereid om enige wettige werk te onderneem, het hulle, gewapen met ’n voorskrif, van apteek tot apteek gery en vir korting op die medisyne gevra. By meer as die helfte is die afslag toegestaan.

Dit was duidelik dat die behoefte van gewone mense en die hoë ideale van die professionele liggame êrens ’n kompromie moes vind en die geskiedenis wys dit het inderdaad so gebeur. Pharmarama is vandag deel van Clicks en daar is apteke in verskeie supermarkte.

Ná hierdie dinge en die gewoel van die jare tagtig en ne­gen­tig het die lokstem na ’n “eenvoudiger, rustiger” bestaan weer begin roep. Vergete was die stryd met gebreekte waterpompe, die lang nagte terwyl veldbrande die lug rooi en roke­rig verkleur, Sondagmiddae sonder arbeiders om Blom­me­­tjie te melk. In die nuwe droom was daar geen plek vir afguns, rugstekery, diewery, motorkapings of verkeersknope nie.

En die plek waar Gerard sy droom gevind het, was Bot­swana. Op die noordelike grens van die Sentraal-Kalahari Park. ’n Droomplaas waar dofgeel gras en gryswit sand winter­oggende vaal maak en lentereën dieselfde dor vlaktes in ’n tapyt veldblomme verander. ’n Plek met sagte deinings sand waarop akasiabome en matjarras soos houtskooltekeninge op blou velle papier groei. In die somermaande ’n verrassende gul gasheer vir honderde voëls in die blink waterpanne terwyl brulpaddas en eende in die reënpoele rondplas.

Die Groot Droom het gewag …

'n Luiperd in my bed

Подняться наверх