Читать книгу 'n Luiperd in my bed - Annelize Slabbert - Страница 8

❧ Bier-en-roosmaryn-wildpotjie

Оглавление

POTJIEKOS beteken vir verskillende kokke verskillende dinge. Hierdie een kan in ’n ysterpot op die vuur berei word of in jou stadskombuis. Dis een van daardie geregte waaroor die manne kwyl. Suid-Afrikaners vra dan ook dikwels die resep om dit met hul vriende om die kampvuur te geniet of ná ’n belangrike rugbywedstryd wanneer Bok-onder­steuners vertroosting soek. Wildsvleis word hier gebruik, maar stowebees is ook doodreg, veral die taaier snitte.

Bestanddele

(Genoeg vir 4 tot 6 mense)

800 g wildsvleis, soos koedoeskenkel

meelblom en sout om vleis in te rol

1 selderystokkie, gekap

1 wortel, gerasper

2 preie, gekap

3 knoffelhuisies, fyngekap

3 eetlepels roosmaryn, fyngekap

2 repe spek

1 gekapte soetrissie

1 teelepel tamatiepasta

½ blikkie (205 g) tamaties in tamatiesap

2 koppies beesaftreksel

1 bier, jou gunsteling-handelsmerk

Metode

Rol die vleis in gegeurde meelblom en seël in olyfolie in ’n swaarboomkastrol of ysterpot tot goudbruin. Haal die vleis uit en hou eenkant.

Soteer die seldery, wortels, preie, knoffel en roosmaryn saam met die gekapte spek, soetrissie en tamatiepasta vir sowat 5 minute in dieselfde kastrol. Verwyder die kastrol van die hitte.

Voeg die vleis by die selderymengsel saam met die geblikte tamatie, beesaftreksel en bier. Verhit tot kookpunt. Sodra kookpunt bereik is, bedek met ’n deksel of foelie en plaas in die oond teen 180 °C vir 5 uur, of sit die driepootpot oor ’n lae vuurtjie om heelmiddag te prut.

Wanneer die vleis sag genoeg is om van die been af te val, verwyder van die hitte en laat afkoel. Trek die afgekoelde vleis in repe en hou eenkant terwyl die vloeistof in die kastrol vinnig kook om die sous te verdik.

Meng die vleis en sous wanneer laasgenoemde die verlangde dikte bereik het. ’n Eetlepel botter verleen glans en dikte aan die sous.

'n Luiperd in my bed

Подняться наверх