Читать книгу 'n Luiperd in my bed - Annelize Slabbert - Страница 9
3.
ОглавлениеSkaapstories
’n SKEMER Vrydag in September.
Terwyl ek in die kombuis aandete prakseer ná ’n lang dag met baie spertye om te haal, hoor ek die gerammel van ’n trok wat traag teen die bult agter die huis uitbeur. Krummels en Lady nael by my verby en bars deur die agterdeur met Jacobus nuuskierig agterna.
“Vrou!” hoor ek Gerard roep. “Kom kyk!”
Die kinders en ek kom omtrent dieselfde tyd by die trok aan. Gerard staan by die bak wat oopmaak met ’n afrit. Op die bak is ’n twintigstuks van die mees bedremmelde skape wat ek nog ooit gesien het.
“Bêêê,” groet een huiwerig. Sy toon geen ooreenkoms met die oulike, wollerige wit lammertjies van Cullinan nie. In die eerste plek is sy ’n skaap, nie ’n lam nie. Ten tweede is haar kop swart en haar gesigsuitdrukking soos dié van Juffrou Wolmarans in Standerd 3 (toe sy ’n dooie padda in haar laai ontdek het). En ten derde is sy brandmaer en effe motgevreet. Só ook die ander stomme diere op die trok.
Maar Gerard staan trots terug.
“Dis my skapies!”
“Mag ek vra wat hul herkoms is?” Ver is dit van my om my as ’n kenner van skaapstambome voor te doen, maar selfs my baie ongeoefende oog kan sien die groepie lyk nes die arme haweloses vir wie ons gewoonlik Kersfees kos neem.
“Ek het hulle by die skut gekoop. Hulle is almal dragtig.” Gerard se ingenomenheid ken geen perke nie. “Oor so twee maande loop hier lammers net waar jy kyk.”
“Lammers met swart koppe?” vra Katinka versigtig. Ek is nogal verlig dat sy gevra het, want sy het darem op skool van Ayreshire- en Herefordbeeste geleer in een van daardie verpligte vakke wat elke jaar ’n nuwe naam kry. Dus is sy die naaste aan ’n landboukundige in ons familie.
“Katinka. Dis dorperskape.” Gerard se meerderwaardige kennis laat ons stom nader staan. En toe bars die stomme groep by ons verby en storm soos die Bybelse wilde donkies weg op pad na … nee, niemand kon ooit raai waarheen nie. Hulle het in hul (betreklike kort) lewens op Lalapanzi net gehol en gestamp en gebê sonder taal of taktiek. Oor die klipbanke, deur die toe hek van die nuutgeboude klipkraal beur hulle en pyl af op die spesiale vitamienverrykte skaapkrummels (krummels vir skape om te eet, nie krummels wat van skape gemaak is nie).
En hulle begin vreet.
Daardie aand gaan ons slaap met die klank van skape wat blêr in die nag.
Ná twee weke van vrede in die veld, en aangehelp deur die vitamienverrykte krummels, begin die jonger ooie hul energie herwin en die eerste tekens van hul dragtige staat toon. Ons kom saans tuis en dis nog betreklik lig, sodat ons en die kinders op die grasperk ’n bal rondskop of ringtennis speel. Die geel-en-pienk rankrosies teen ons huis se klipmuur, is in volle blom en die perskebome in die boord staan soos bruide in die skemer, oortrek met bloeisels. Naweke kom maats kuier. Ure lank ry die kinders op en af in die rivier op opblaasmatrasse. Teen die vaalblou lentelug bot die wilgerbome ’n Ierse groen. Ons eet buite onder die reusewitstinkhout en maak met steenkool vuur in die buitekombuis se stoof.
Die idille is inderdaaad naby genoeg om daaraan te begin glo.
So drie weke ná die dorpers se aankoms storm Gerard kort voor aandete die kombuis binne.
“Daai ou ooi het plastiek gevreet en sy verstik. Ek moet haar limonade gee.” Nou, Gerard is ’n apteker en hy weet baie van regte medisynes, maar limonade was nog nooit in sy medisynekassie se arsenaal nie. Dis ook nie die sort koeldrank wat ek, as gesondheidsbewuste, neurotiese ma in my huis het nie. Maar my man is beslis oor sy diagnose en sy behandeling. Nou waar is daar ’n afsetpunt vir limonade halfsewe op ’n Donderdagaand in die Hennopsriviervallei? Met die naaste winkeltjie, net die snoepie van die piekniekplek, 3 km verder op die hoofpad.
In die lendelam bakkie spring hy en Jacobus op hul Missie Limonade met die doelwit: Red die Dorper.
Hulle bly weg. Sonsondergang kom en gaan en in die vroeë skemer is daar nog geen teken van die reddingsending se suksesvolle terugkeer nie. Katinka en ek eet maar solank. Eers met die eerste aankondiging van die nuus om agt deur Riaan Cruywagen trek die bakkie die erf binne. In hul hande hou die twee reddingswerkers elkeen vier klein botteltjies limonade vas, al agt reeds oopgemaak.
Hul verslag oor die verloop van die sending moet eers wag. Met die hulp van die gasborrels in die limonade gaan die ooi ’n windjie of twee opbreek en, só verseker Gerard my, daarmee saam die ellendige plastieksak. Waarom dit nou juis limonade en geen ander gaskoeldrank moet wees nie, is onduidelik. En hoe weet hy dis ’n plastieksak wat die obstruksie veroorsaak?
Maar ek vra nie. Wat hy beplan om te doen as die wonderkoeldrank nie die gewenste uitwerking het nie, wil ek nie weet nie.
Die twee stowwerige en moeë manne wat uiteindelik kos voor hulle het, vertel om die beurt die verhaal van die Limonadesending:
Natuurlik was die buurtwinkeltjie lank reeds gesluit toe hulle daar aankom. Die enigste uitweg was om die grootpad te vat Randburg toe. By geen vulstasie op pad is ’n winkeltjie wat kan help nie. Die uiteindelike redding kom in die vorm van die kroeg van die Indaba Hotel buite Fourways, Sandton.
Wat was die kroegvlieë se verbasing groot toe ’n man met ’n stofbesmeerde aptekersbaadjie, vergesel deur ’n vuil kaalvoetseuntjie, die kroeg inbars en sonder meer vra: “Limonade, asseblief, soveel jy het, meneer.”
Die man haal ’n paar botteljies uit en daarmee saam twee glase.
“Nee-nee,” keer Gerard. “Ek wil die koeldrank saamneem.”
“Jammer, kan nie gebeur nie. Teen die wet. Julle moet dit hier drink.” Die kroegman laat hom nie rondorder nie.
“Die koeldrank is nie vir my nie. Dis vir my skaap.”
Die kroegman en sy kliënte kyk mekaar meewarig aan. Hulle het al baie stories gehoor. Maar hierdie een?
“Jou skaap?”
“Ja, my skaap. Kan jy my help, asseblief?”
“Waar is jou skaap? In jou bakkie?”
Nou proes die ander kroeggangers in hul bier. Die gedagte aan ’n skaap op die voorste sitplek van ’n bakkie wat deur ’n kroegman limonade bedien word, is net té vermaaklik.
“Nee, oom.” Nou is Jacobus baie beslis. Die oom is bietjie stadig en die tyd vir die skapie raak min. “My ooi is siek. My pa sê sy het ’n plastieksak geëet. Sy moet limonade drink sodat die sak kan uitkom, oom.”
“Tag, dis vir jou ’n ander gemors,” sê die kroegman. “Ek sal julle dan help. Maar die botteltjies moet ek oopmaak, net ingeval die inspekteur julle dalk buite raakloop. Ek wil nie my lisensie verloor nie.”
So gebeur dit dat ons ooi, nadat sy gered is van ’n gewisse en treurige einde in ’n skut vir skape, deur haar nuwe eienaar voorsien is van limonade uit die kroeg van ’n hogere Sandton-hotel, asof sy met vakansie is by ’n oord aan die Hennopsrivier.
Mag die liefde en sorg wat sy daardie aand gekry het, tog vergoed het vir die swaarkry van haar moeë vorige lewe. Of dit ooit ’n plastieksak was en of die limonade-boereraat sommer onsin was, weet ons nie. Maar die stomme ooi het dit nie gemaak nie. Die volgende oggend is almal met rooi oë skool en werk toe en moes tuinier Albert êrens tussen die klipbanke ’n plekkie vind om die ooi te begrawe.
Vertel ek later daardie treurige uiteinde van ons eerste klompie skape aan Moos van Rensburg, advertensiebestuurder en ook ’n passievolle naweekboer, skud hy net sy kop.
“Daar is vir ’n skaap net twee toestande,” sê hy. “’n Gesonde skaap en ’n dooie skaap.”
Dié wysheid sou ons mettertyd self ondervind. Dit sou baie rande se uitsoekkos, medisyne-navorsing, ywerige studie en vele ure se arbeid kos voor ons besef het die navorsingstasie van ’n bekende vervaardiger van veeartsenykundige middels was nie om toevallige redes net 1 km van ons plaas af nie. Nee, die navorsing word juis daar gedoen omdat elke denkbare pes en plaag in daardie omgewing voorkom. As ’n boer graag proefnemings sou wou doen om te bepaal watter diere teen absoluut elke siekte ter wêreld bestand is, dan sou Lalapanzi voor in die ry as geskikte proefplaas staan.
Intussen was daar nog ’n paar ander ervarings wat die vier stadskinders aan die werklikheid van die lewe op ’n plaas moes bekend stel. Ons leerskool het maar pas begin.