Читать книгу 'n Luiperd in my bed - Annelize Slabbert - Страница 15

6.

Оглавление

Woes en leeg

“DIE mens wie se siel siek is as gevolg van begeertes en afhanklikheid en wat steeds die afsondering en stilte van die woestyn wil opsoek, is soos iemand wat van ’n skip in die onstuimige see spring en hoop hy gaan die land veilig met ’n stuk flenterhout bereik.”

Die wysheid van Sint Johannes Klematikus, een van die woestynvaders uit die vroëe Christelike kerk, lees ek in Ronell Bezuidenhout se lieflike boek, Woestynwysheid. Ongelukkig kom die goeie raad net mooi sewentien jaar te laat en is dit in elk geval twyfelagtig of Gerard op die wysheid sou ag slaan. Soos hy reeds soveel kere bewys het, word my man nie deur ’n uitdaging om nuwe horisonne te verken, afgeskrik nie. Inteendeel, hy is verslaaf daaraan.

Sy begeerte na ’n stuk grond ver weg van alle stadsgewoel het presies dit beteken: VER weg. Ver van paaie waarop gewone motors kan ry, met motorhawens en Magnum-roomyse. Selfs ver van dorpe met koöperasies en skole en baksteenhuise waar mense met minder verbeelding as Gerard woon. Theuns Eloff, emeritus van die Universiteit van Noordwes, se dogter en skoonseun, Susanne en Braam, was nie met die lewe in Suid-Afrika tevrede nie. Hul groot begeerte was om ’n wildplaas met ’n lodge in Botswana te bestuur.

Op die toneel kom Gerard, tjekboek in die hand.

Braam het reeds vyf duisend hektaar op die noordelike grens van die Sentraal-Kalahari Park besit. Hy het Gerard daarheen genooi om die moontlikheid van sy droom vir ’n lodge aan hom te probeer verkoop. Die pad van Vaalwater, waar Theuns ’n plaas gehad het, tot in Botswana was reeds genoeg om enige stadsjapie met ’n splinternuwe viertrekvoer­tuig die rillings te gee, maar Gerard was vasberade om die plaas te sien. Van Stokpoort se grenspos tot by Malapye, oor Palapye en Serowe, het die klipperige grondpad gestrek. In die omgewing van Orapa was daar geteerde oppervlakke, maar tussen Mopipi en die afdraaipad na die Sentraal kon ’n mens net lángs die teerpad ry, want op die geteerde dele was dongas groot genoeg om ’n motor in te sluk.

Brandstof was ’n probleem, want soms het die Suid-Afrikaanse verskaffers se vragmotors gebreek. Dan is brandstof weke lank nie afgelewer nie. Die meeste pompe het met die hand gewerk en daar was toue motors by elke pomp terwyl die plaaslike inwoners rustig hul tenks volmaak en terselfdertyd kuier.

Net buite Rakops het die pad na die Sentraal-Kalahari Park links uitgedraai. Al met die tweespoor-sandpad langs moes ’n mens tot by die Kuki-hek vorder. Net sowat 50 km, maar dit het minstens ’n uur se versigtige bestuur geverg. Van die hek het die roete ál met die kaplyn langs die draad van die park nog vir meer as 30 km oor die duine gestrek. Nêrens was daar enige teken van bewoners nie, net hier en daar groe­pies nguni-beeste en brandsiek donkies.

Plek-plek het ’n stukkende motorband in ’n boom gehang, of is ’n stuk sinkplaat staangemaak langs die stofpad. Dit was die aanduiding dat daar ’n nedersetting aan die einde van die dowwe sandspore was.

In die nedersettings op die gemeenskaplike grond tussen Rakops en die Sentraal woon Batswana-families met hul vee. Hier loop nguni’s en donkies vry oor paaie en plase. Net die boerbokke bly in ’n takkraal, die enigste manier om hulle teen roofdiere soos leeus, luiperds en jakkalse te beskerm.

Vir besoekers uit Suid-Afrika, gewoond aan huisdiere wat danksy hul lekker lewe op dieet moet gaan, was die gesig van die brandsiek donkies en brandmaer honde baie ontstel­lend. Maar nie ontstellend genoeg om Gerard van sy voornemens te red nie.

Uiteindelik, ná ure op die stowwerige pad, het die spoor na Braam se stuk grond na regs uitgedraai. Daar was niks. Net die veld, die lug en ’n voël in eensame vlug, soos Jan Celliers gesê het. ’n Sonverskroeide ruimte, ’n stuk aarde so woes en leeg dat enige verstandige man sou omdraai na lugversorging en ’n lessenaar.

Nog 8 km se stamp-stamp op ’n tweespoorpad en daar was Braam en Susanne se blyplek: ’n hartbeeshuisie met ’n hout­raamwerk en mure gepleister met ’n mengsel van modder en mis. In daardie huisie sou ons ’n paar jaar en baie ervarings later intrek.

Weggevoer deur die bekoring van woes en leeg het Gerard sonder rasionele besinning die plan van ’n lodge in die Kalahari aan sy mede-aandeelhouers in Johannesburg verkoop. Die feit dat daar in daardie stadium geen ander lodge in die afgeleë gebied was nie en dat Botswana eintlik vir die Okavango-delta bekend was, het geeneen ontmoedig nie. Buitendien het almal onthou van die bekende boek van Delia en Mark Owen, Cry of the Kalahari. Dié klassieke verhaal van die Ameri­kaanse navorsers wat drie jaar lank in Deception Valley gewoon het om die bruin hiëna en Kalahari-leeus te bestudeer, beskryf die gebied met sy uitdagings so bekoorlik dat reisigers van oral in Engelssprekende lande en ook in Europa van Deception Valley en Deception Pan gehoor het. Vir hulle sou dit lekker wees om die gebied te besoek, het ons gehoop.

Die lodge se Sandton-argitek was so in vervoering oor die gedagte aan ’n lewe van eenvoud en afsondering dat hy sy vrou en jong kinders oortuig het om die wildernis in te vaar sodat hy die lodge kon bou terwyl hulle die kinders tuis veld­skoolonderrig gee. Voorlopig het die gesin in die modder-­en-­mis-huisie gewoon, terwyl hy en helpers uit Rakops hout­opslaanhuise vir die familie en personeel oprig.

Toe Gerard drie maande later besoek aflê, was Braam en Susanne effe ergerlik. Die argitek se opslaanhuis was feitlik voltooi, maar niks meer nie.

’n Verduideliking van die daaglikse doen en late het die stadige pas verklaar: Die oggende het vroeg met Bybelstudie begin. Die argitek was ’n oortuigde gelowige wat sy taak om “heidene” te kersten ernstig opgeneem het. Ná ’n uur van werk, was dit tyd vir ontbyt. Nog ’n uur se werk is deur teetyd gevolg. ’n Verdere uur van inspanning en dit was tyd vir middagete en ’n ruskans – siësta tot drieuur, gevolg deur twee ure se pikslaan voor almal om vyfuur tjaila.

Dis vyf uur se werk per dag.

Intussen was die werklikheid van modder-en-mis-huise son­der geriewe minder romanties as Mev. Argitek se droom. Sy het saam met hul twee Sandton-kinders die Kalahari-stof uit hul hare geskud en vertrek. Die kinders het hul maats gemis en albaster speel, was geen plaasvervanger vir Masters of the Universe op TV nie. Tot sover die landelike idille.

Die argitek het nog so ’n maand sonder sy gesin uitgehou voordat hy ook op ’n oggend sy voertuig pak, die verslae groepie bouers groet en die terugtog na sy Sandton-kliënte aanpak.

Daar was geen ander genade nie: Braam sou die lodge se bouwerk self moes doen. Gelukkig is hy iemand wie se hande spreekwoordelik vir niks verkeerd staan nie en hy het met oorgawe begin bou. Uit Suid-Afrika het ’n kennis, Koos, en sy elektrisiënhulp, Swart Piet, kom help.

Hoe moeilik die logistiek van die plaas die bouwerk sou maak, sou Gerard nog agterkom. Maar eers moes die kwessie van water opgelos word. Ses boorgate en R1 miljoen later het die plaas steeds net soutwater gehad. Die water in die Kalahari is antiek en souter as die see. Met ander woorde, dis ondrinkbaar, behalwe vir die diere wat weens al die sout en minerale geen soutlekke nodig kry nie.

Toe die buurplaas Boiteko met ’n “soet” boorgat te koop aangebied word, het Gerard se tjekboek weer sy verskyning gemaak. ’n Baie belangrike belegging. Tot nou toe is dit die enigste “soet” water in die omgewing. Die water word 15 km ver na die lodge gepomp. Wanneer gaste sonder om te dink tot ses keer per dag stort, dink ons wat weet maar aan die kosbare lewensbron wat wegloop in die sand …

Gereeld word die waterpypleiding deur dorstige diere aangeval om gretig by die soet water uit te kom. Daarom is daar verskeie drinkplekke langs die pyplyn en daar kry Jacobus dikwels troppe wild en ook leeus, gulsig aan die drink.

Die tweede groot stuk werk was om die plaas te omhein. Nog vyfduisend hektaar is by Braam se oorspronklike vyfduisend en die vyfduisend van Boiteko gevoeg. Die nuwe plaas, Totti Totti, het beteken daar was bykans 150 km wat omhein moes word, vanselfsprekend ’n duur en langsame proses. Snags het die draadspanners in die veld geslaap en dae lank geen ander mense gesien nie.

Die reën was daardie jaar laat en die gras dor toe blitse een aand oor die Sentraal begin flits en die wind onheilspellend begin waai. Daardie nag ontstaan een van die mees verwoes­tende brande wat die noordelike deel van die Kalahari in baie jare sou tref. Die vuur het bykans 450 km breed van Rakops en die Sentraal tot net buite Maun, ’n afstand van meer as 200 km, gebrand en dae aangehou. Wat agtergebly het, was net stoppels, karkasse, skilpaddoppe en derduisende dooie muise.

Vir die draadspanners was daar nêrens om heen te vlug nie. In hul nood om aan die vretende vlamme te ontsnap het hulle gate soos grafte in die sand gegrawe, daarin gaan lê en die grondseile waarop hulle snags geslaap het styf oor hulle getrek. Só het die vuur wonderbaarlik bo-oor hulle beweeg en hulle het dit oorleef.

Om die voetspoor van die lodge se geboue so gering moontlik te hou, is besluit op ’n houtraamwerk met Duitse saamgesperste houtpanele tussenin. Met al die groot uitgawes soos boorgate en grensdrade gelukkig uit die pad, het almal daarna uitgesien dat die bouwerk begin. Dit kon tog net mak­liker gaan?

Toe volg ’n paar lesse in Planmaak 101.

Les 1: Wees baie vriendelik met jou bankbestuurder.

Les 2: Hou jou (reeds swaar beproefde) tjekboek te alle tye byderhand.

Les 3: Maak net op jouself staat om die vrag teen die bult op te sleep.

’n Vervoertrok wat gekontrakteer was om honderde pale vir die raamwerke van die Laeveld na die plaas te bring, het by die afdraaipad duskant Rakops tou opgegee, die pale net daar langs die hoofpad afgelaai en teruggekeer Sabie toe.

Dit was weer tyd vir die tjekboek, dié keer om ’n tweede­handse Mercedes-trok te koop om al die boumateriaal van oraloor aan te ry. Met sy hart in sy keel het Gerard die afstand van Randburg na Rakops in ’n rekordtyd van net agt uur afgejaag, oortuig daarvan dat van die hoop pale wat afgelaai is daar net ’n paar vuurmaakstompies oor is. Maar dis Botswana, ’n land van vrede waar misdaad selfs nou, sewentien jaar later, ongewoon is. Die pale was almal nog daar.

Die vrag kon die pad plaas toe hervat. Die eerste 30 km het alles voorspoedig verloop. Maar teen die nou bekende en berugte Groot Duin het die trok vasgesteek en soos ’n Botswana-donkie verseg om te beweeg. Terug in Suid-Afrika, gewapen met die geduldige tjekboek, was die volgende aan­koop ook ’n Mercedes, maar dié keer ’n trok met sestrek-­woema.

Daarna het sake van vervoer vlotter verloop. Die bou­materiaal – soos kiaat-vloerplanke uit Zambië, stoepmeubels uit Zimbabwe, sementverf uit Suid-Afrika, dekgras uit die Kaap – het die lang togte per Mercedes-trok nommer een tot by Rakops afgelê en vandaar het Meneer Sespak oorgeneem.

Die drywer van hierdie twee trokke was ’n boorling van Pretoria-Wes, met die bynaam Cowboy. Hoe gepas die naam was, sou Braam en Gerard tot hul skade agterkom.

Die reis van die padskraper was een van Cowboy se groot avonture. Op die afgespreekte dag het Braam sy eerste koppie koffie op die sandknop gedrink, vanwaar hy soos ’n Bybelse verspieder die aantog van die trok sou kon sien. Teen sononder het hy traag huiswaarts gekeer, om die volgende oggend weer saam met die tarentale op sy uitkykpunt nes te skop. Drie dae ná die afgespreekte tyd het hy steeds die trok ingewag. (Hier moet ’n mens noem dat daar geen beskaafde vorm van kommunikasie in dié afgeleë deel van die wêreld moontlik was nie.)

Braam se opgewondenheid oor die skraper was van korte duur toe hy die eens skaflik opgepaste masjien gade slaan. Dit was in stukke.

“Ongelukkig bietjie skade gehad,” was Cowboy se luiterse verduideliking. “Drie keer van die flat-bed afgemoer.”

’n Boswerktuigkundige se hulp is uiteindelik ingeroep om die stukke weer aan mekaar te lap en vir ’n tyd kon die skra­per sy doel dien. Daar is vandag paaie van meer as 100 km op die plaas!

Cowboy het ook die geleentheid gebruik om materiaal wat onverklaarbaar van die trok “afval” tot sy eie voordeel te gebruik. Die asbes-swembad het volgens hom êrens om ’n draai in die slag gebly en flenters gebreek. Wel, paaie in Bot­swana loop reguit soos vaal potloodstrepe oor ’n vel papier, sonder skerp draaie. Later het ons via die bostelegraaf gehoor ’n boervrou buite Thabazimbi spog graag by haar tennis­vriendinne met haar lieflike swembad wat sy teen so ’n billike prys aangekoop het – persoonlik afgelewer.

Met elke aflewering was daar dus ’n paar items kort. Af­geval, sien. Moontlik het Braam ná een so ’n gebrekkige verduideliking bietjie te agterdogtig voorgekom, want daardie middag het Cowboy sy Mercedes-sitplek opgesaal en is hy weg, “away into the sunset”, om nooit weer gesien of van gehoor te word nie.

Mercedes-trok ook weg.

Ons was almal daar die dag toe die laaste vervoerwa steu­nend met sy kosbare vrag meubels en kuns voor die pas voltooide lodge stilhou. Susanne en Braam, wat hul droom bewaarheid sou sien, Shane en Karien, die interieurontwerpers, al die personeel en hul families was reg om met die installering van gordynstokke, prente, kassies en spieëls te begin. Twee aande later was alles reg. Elke huisie met die beddens oorgetrek, die handdoeke opgevou, sepies in die bakkies, alles met Deception Valley Lodge se logo op!

Teen skemer het Braam die paadjie-liggies agter hul gekko-­doppies aangeskakel. Die personeel het spontaan hande geklap en gedans. Die eerste keer ooit was daar mensgemaakte lig in dié afgesonderde deel van die land.

“Nou kan die gaste maar kom!” het Braam en Susanne tevrede gesê.

Goed ook maar dat die toekoms vir ’n mens onbekend is. Dit sou nog ’n jaar duur voor die Civil Aviation Authority of Botswana die aanloopbaan sou kom inspekteer en ’n lisensie uitreik. Toe eers kon gaste daarheen vlieg.

Maar daardie genoeglike lenteaand terwyl ons almal sjam­panje in die hand die waterpan van die stoep af geniet, het die blitse van oos na wes die veld verlig. Emmers water het op die nuutgedekte grasdak gestort. Die nuwe lodge se dak was amptelik natgemaak.

’n Droom genaamd Deception Valley Lodge …

'n Luiperd in my bed

Подняться наверх