Читать книгу 'n Luiperd in my bed - Annelize Slabbert - Страница 17

7.

Оглавление

Al Pandora se peste en plae

DIE middag was snikwarm.

Gerard het pas ingesluimer, kop effe agteroor sodat hy hap-hap na die lou lug, vlieë lastig om sy gesig, toe die radio se gekraak die stilte verbreek. Emily se stem, hoog en angstig, het gou die salige uitdrukking van Gerard se gesig gevee.

“Meneer, meneer, die gaste kla hulle wil swem, maar hulle sê daar’s wilde diere in die swembad!”

In een beweging was Gerard terug in sy vellies, by die voordeur uit en in sy motor. In die hitte dwaal die diere dikwels in die rigting van die swembad. Menige wilde dier het al in die swembaddens van lodges geval en verdrink. Met die visioen van ’n trop blouwildebeeste en koedoes sparte­lend in die piepklein swembad storm Gerard soontoe.

Langs die swembad, op die rusbanke uitgestrek, lê die twee Italiaanse gaste, die een se gesig vieser as die ander een s’n. Groot verligting egter. Daar is geen wilde diere te bespeur nie. By die watergat drink kameelperde en ’n sebra rustig.

“There are animals on the bottom of the water,” is die Italiaanse man se Engelse verduideliking. Hy wys met sy vies gesig na die swembad. Inderdaad. Op die bodem lê honderde duisendpote, en op die teëlrand van die swembad is nog dui­sende honderdpotiges op pad na die water.

Somer is duisendpoot-tyd. So ook stinkgogga-tyd. So ook muskiet-tyd. So ook vlieë-tyd.

Toe Pandora van die Griekse mitologie die groot fles met die geheime inhoud wat Zeus aan haar geskenk het op daar­die noodlottige dag-van-verveling oopgemaak het, het die meeste van die vlieënde, stekende, bytende, kruipende booshede wat die mens deur die eeue heen teister uit die houer ontsnap. Toe kom maak al daai goed hulle hier in die Kalahari tuis.

Geen maand gaan verby sonder die aanslag van een of ander pes of plaag nie. Wintertyd sou die fluitspeler van Hamelin ’n brigade fluitspelers kon opstel om die regiment muise weg te lei. Sommige jare is die muise net-net beheerbaar. Ander jare, soos die jaar toe Gerard die plek gekoop het, bereik die getalle plaagstatus.

Die eerste keer toe ons op die plaas gekom het, was om te besluit waar om die lodge te bou. Soveel moontlihede! Die uitsigpunt van waar Deception Valley breed na die suide oopmaak. Of die Waterplaas, waar die skaduryke matjarras ge­rangskik is soos in ’n skoutuin. Uiteindelik is besluit op ’n deining in die veld wat na ’n natuurlike waterpan lei, omring deur matjarras, akasias en motopi’s waartussen die houthuisies ’n vinnige stappie van mekaar in ’n U-vorm kon wegkruip.

Voor die eerste bouwerk kon begin, het die Groot Vyand van die Veld sy vernietigingswerk kom doen. Een nag in die vroeglente het die wind ’n verdwaalde kooltjie vuur van ’n vergete sigaret, of ’n onverwagse bliksemstraal, tot ’n tierende golf vlamme aangehits.

Met Gerard se volgende besoek om te kyk hoe die bouwerk vorder, is hy deur swart grasstoppels en houtskoolbome begroet. En oral in die veld, muisgate, muishuise soos gate in Kalahari-Emmenthalkaas. Sodra die son sak, borrel leërskares veldmuise en rotte by hul gate uit. Op die bome se kaalverskroeide takke sit die uile, hul wyse oë stip op die skarrelende stukkies kos gerig. Smaaklike muismaaltye ook vir slange. Bedags, wanneer die son op sy hoogste sit en die sand van son­besies sing, lê slangsleepsels oor die vaal veld. Daar is blertse uilmis teen boomstamme en die kappe van die stoor se sinkdak.

Mens en muis is geen natuurlike maats nie en in die don­ker, in ’n tent wat so dig sluit soos ’n tent maar dig kan sluit, is dit veldslae teen muise om die mens en sy materiële goedere te beskerm. Die muise wen gewoonlik. In daardie eerste muis­plaag ná die Groot Brand het Gerard met sere aan sy vingers en tone tuisgekom – muise hou daarvan om aan alles te knaag.

In die eerste weke nadat ek plaas toe getrek het, het die muisgevaar een oggend die hele personeelkamp in rou gelaat. Met gesigte en skouers wat hang, het hulle sleepvoet by die lodge kom aanmeld. Iets drasties moet gedoen word. Die muise ruk nou heeltemal handuit, het hulle gemor.

Met rede, want die vorige nag het daar groot skade gekom: T!au se hele tien dollar-fooitjie is deur Muisman gehalveer. (En nie in twee vyf dollar-note nie!) Ons het die noot mooi met kleefband reggeplak en ’n paar weke later sou Braam by die bankteller gaan soebat. Maar nee, T!au was sy tip kwyt.

Gaste uit Eerste Wêreld-lande vind die arsenaal goggas en grieselighede baie moeilik om te verwerk. In die meeste Euro­pese lande, en, so verstaan ek, in Nieu-Seeland en Australië, is insekte óf feitlik uitgewis óf het Pandora se ongehoorsaam­heid geen onaangename gevolge gehad nie. Om dan deur reusespinnekoppe, grillerige geitjies, piepende en fladderende vlermuise, knagende (en knaende) veldmuise, giftige skerpioene, stinkende kewers, steekvlieë en zoemende muskiete gepla te word, is ’n bietjie dik vir ’n daalder – veral teen stywe vierster-tariewe vir die voorreg.

Daarom vergewe ons die moordenaars van vele wanneer hulle, gewapen met hul derde blik insekdoder, kilberekende gifgasse op die stomme insekte loslaat. Gereeld word die per­soneel angstig ontbied om die “tarantula” op die muskietnet te fusilleer. Of om die “rodot” (’n fraai veldmuisie met ’n lang neusie, “elephant shrew” of bosskeerbek) met ’n kierie uit te knikker waar sy in die buitestort probeer water drink.

Nie alle gaste skrik so maklik nie. ’n Baie dapper jong gas het een oggend doodluiters laat vir ontbyt opgedaag. Hy’t ’n storie gehad om te vertel: “You guys, I was in a delicate posi­­tion standing at the toilet when I noticed a mamba hanging from the rafter of the roof in the bathroom. I thought I should just mention this.”

'n Luiperd in my bed

Подняться наверх