Читать книгу Eerste gedigte - Antjie Krog - Страница 10

KRUISIGING

Оглавление

Jy het my kruis op die smal van jou

skouers gesleep; al teen die skuinste op,

terwyl jou sagte voete struikel oor

die swart kole van die kop.

Jou hare was spoegdeurweek

jou vleis deur my gerib, geëet,

terwyl ek wonder wanneer jou liefde vir my sou breek.

Ek het jou op die kruis neergeruk

en met ’n haan wat aanhoudend

in my ore kraai, die swaar spykers

deur die stengels van jou hande gedruk

en die slae waansinnig oor die stad laat weerklink.

Ek het asyn oor jou gesig gegooi

toe jou tong soos ’n swael tussen jou tande blink.

Trane het in jou ooghoeke opgestoot

maar ons het gesing en oor jou klere geloot.

Ek het ’n spies in jou sy gesteek

en angstig gewens dat jy moet breek

maar jou wimpers, nat en dig soos vlas,

het eers later toe dit om ons donker was

gesidder en gehyg: my God, my god het my verlaat.

Eerste gedigte

Подняться наверх