Читать книгу Eerste gedigte - Antjie Krog - Страница 18

EK WIL

Оглавление

(vir John)

Ek wil jou so graag gelukkig maak

ek wil vir jou verse skryf

sober en soepel soos jyself

ek wil vir jou sing

snags terwyl jy slaap

ek wil myself vir jou gee

stil soos ’n koorsboom

soet en oop soos mispels

soos mopanies in die herfs

soos maroelas in die somer

bruin en heel soos kremetart

vurig soos die bloeiende handjies van ’n kafferboom

ek wil jou so graag iets gee wat jy kan saamdra

wat by jou sal bly soos ’n klein warm akkedissie

eendag as jy oud en allenig in die son sit.

Eerste gedigte

Подняться наверх