Читать книгу Eerste gedigte - Antjie Krog - Страница 14

OMDAT

Оглавление

My maer hande steek vir jou ’n kers aan

omdat jy my maat geword het

toe ek na ’n kwartaal

nog somber alleen tussen die ander sit,

omdat jy my pouses uit die

biblioteek kom haal

om saam liedjies te sing in die saal,

omdat jy my maat bly

t.s.v. my skilferhemp en nylontrui

omdat jy lief vir my geword het

en my selfs vashou teen jou bors

t.s.v. my dimpelbene en die

ryp puisies wat op my wange kors.

My kers brand

omdat jy kaalvoet saam met my

deur die dorp loop

en wag as ek iets in ’n

supermark koop

omdat jy pouses vir my brood gee,

smiddae vir my wiskunde verduidelik

en soms oor my skoon hare vee

omdat jy my maat is en so daarin berus

al skinder almal oor jy ’n seun

en ek ’n meisie is

omdat jy verstaan as ek weg van jou kring

en agter die gordyne kruip

as jy operette sing.

Kyk hoe bewe my kers nou

hy sê dankie en hy bid vir jou.

Eerste gedigte

Подняться наверх