Читать книгу Uit die Beek 2016 - Attie van Wijk - Страница 66

SATERDAG 27 FEBRUARIE 2016

Оглавление

Lees eers Numeri 30:9-16

Beloftes, beloftes

Elke gelofte of eed waarmee sy haarself wil kasty, kan deur haar man van krag gemaak of nietig verklaar word (30:13).

GESELSVRAAG: Wanneer maak mense beloftes aan die Here?

“Ek vra nou dat elkeen van julle wat belowe om elke dag minstens ’n halfuur vir Afrika te bid, sal opstaan,” het die spreker by ’n Sendingweek op Stellenbosch aan die einde van sy boodskap gevra. Amper 2 000 studente het soos een man opgestaan. “Ek het nie opgestaan nie, want ek het geweet ek sal dit nie hou nie,” het ons een professor die volgende dag in die klas bely. Ek weet nie van een student wat dit reggekry het om dit vol te hou nie!

Hierdie hoofstuk gaan oor die belangrikheid om die geloftes te hou wat jy aan die Here gedoen het. Mans, weduwees en geskeide vroue dra self die verantwoordelikheid vir elke gelofte wat hulle aflê. Ongetroude dogters in die huis en getroude vroue moet sulke geloftes aan hul pa of man voorlê. As hy nie dadelik beswaar maak nie, bly dit van krag. As hy weier, is sy nie gebonde nie.

Elke aangeklaagde in die hof word gemaan om die volle waarheid te praat en beaam dit dan: “So help my God.” Tog gaan feitlik almal voort om leuens te vertel. Wat is die nut van so ’n gelofte? Katkisante belowe om aan die Here en sy kerk getrou te bly maar daag die volgende Sondag dan nie by die erediens op nie. Hierdie hoofstuk wil ons help verstaan dat elke gelofte vir God belangrik is.

GEBED: Here, vergewe my dat ek so maklik u Naam in die skande steek deur onnadenkende ede. Help my om getrou te bly.

Lees vanaand in Numeri 31:1-12 hoe die Midianiete en Bileam hul verdiende loon gekry het.

Uit die Beek 2016

Подняться наверх