Читать книгу Uit die Beek 2016 - Attie van Wijk - Страница 71

WOENSDAG 2 MAART 2016

Оглавление

Lees eers Numeri 32:20-27

Verantwoordelik vir mekaar

Bou gerus die stede vir julle gesinne en die krale vir julle kleinvee, maar doen wat julle gesê het (32:24).

GESELSVRAAG: Wat sal die eenheid in ons dorp bevorder?

“’n Mens is ’n mens deur mense,” is ’n bekende spreuk in Afrika. Dit beteken dat ons almal mekaar nodig het. “As ’n boom se tak afgesaag word, sal dit sterf.” “Medemenslikheid is belangrik vir ’n gesonde nasie.” “Kinders word deur die hele dorp grootgemaak.” Dit is heel anders as die moderne stadslewe waar jy dikwels nie weet wie in die woonstel of huis langs jou woon nie. Die moderne mens bestee meer tyd aan tegnologie as aan regte mense. Is dit gesond vir ’n gemeenskap?

Moses was baie ontsteld toe twee stamme vra om oorkant die Jordaan te erf. Hy was bang dat die geskiedenis hom sou herhaal: Die Israeliete wou weer by die grens omdraai. Hulle belowe toe om eers hul deel te doen en daarna na hul families terug te gaan. Hulle sal die ander help om ook grond te kry. Dit het Moses gerusgestel.

“As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is,” het Jesus sy volgelinge geleer (Joh 13:35). Die teken van ware volgelinge is die liefde wat hulle vir mekaar het. Sy liefde werk in ons om mekaar lief te hê. Ons het mekaar nodig. Ons beskerm mekaar se belange (vgl. Fil 2:4).

GEBED: Here, wys my watter van u kinders vandag my hulp en bemoediging nodig het.

Lees vanaand in Numeri 32:28-42 hoe die twee en ’n halwe stamme hul families beveilig het sodat hulle kon gaan veg.

Uit die Beek 2016

Подняться наверх