Читать книгу Uit die Beek 2016 - Attie van Wijk - Страница 68

MAANDAG 29 FEBRUARIE 2016

Оглавление

Lees eers Numeri 31:13-24

Leer julle dan nie?

… deur toedoen van Bileam was juis húlle die oorsaak dat die Israeliete by Peor ontrou was aan die Here … (31:16).

GESELSVRAAG: Wanneer is ’n versoeking gevaarlik?

“Alkoholisme is ongeneeslik. Jy sal nooit weer alkoholiese drank in enige hoeveelheid kan gebruik nie,” het die dokter by die rehabilitasiekliniek aan Piet verduidelik. Daarna was hy ’n jaar lank droog totdat sy drinkebroers as ’n grap vodka by koeldrank gegooi en aan hom gaan gee het waar hy nagdiens by die handsentrale gedoen het. Die gevolg was dat hy onmiddellik teruggeval en sy pos verlaat het. Die dorp het daardie nag nie telefoondiens gehad nie. Dit was baie lank voordat hy weer bevry was van drank.

Mense besef nie altyd watter krag versoekings oor ons het nie. Die Israeliete het die Midianiete gaan straf vir die verleiding wat tot die dood van duisende Israeliete gelei het. Tog was die mooi vroue darem te verleidelik om sommer net so agter te laat. Hulle het nie daaraan gedink dat hierdie heidense vroue hulle maar weer sou verlei om afgode te dien nie. Dit was die rede waarom Moses se opdrag so streng was (vgl. Num 25:17).

Ons vergeet maklik hoe sterk versoekings en sonde kan wees. Daarom is dit dom om te gaan na plekke van versoeking. Ons vertel vir ons kinders om sulke plekke te vermy, maar doen dit self nie. Die kinders sien dit en volg eerder ons voorbeeld.

GEBED: Here, verhoed dat iets wat ek sê of doen iemand anders verlei om in sonde te val.

Lees vanaand in Numeri 31:25-41 hoe die buit onder almal verdeel is sodat niemand jaloers hoef te wees nie.

Uit die Beek 2016

Подняться наверх