Читать книгу Uit die Beek 2016 - Attie van Wijk - Страница 73

VRYDAG 4 MAART 2016

Оглавление

Lees eers Numeri 33:38-49

Grafstene langs die pad

Op bevel van die Here het die priester Aäron teen Horberg uitgeklim en daar … gesterf (33:38).

GESELSVRAAG: Wie van julle naaste familie lewe nog?

“Jy lyk vir my so baie na my derde man,” merk ’n weduwee teenoor ’n bejaarde omie op toe sy hom ontmoet. “Sjoe, hoeveel keer was jy dan getroud?” vra hy. “Twee maal,” antwoord sy. Die dood is deel van elkeen se lewe, al probeer ons om nie daaraan te dink nie. “Moenie die lewe so ernstig opneem nie – jy gaan dit in elk geval nie oorleef nie,” lees ek iewers. Min van ons het nie al ’n geliefde aan die dood afgestaan nie.

Hier in Moses se lys is net een sterfgeval aangeteken: Aäron s’n. In werklikheid het honderde duisende Israeliete daar in die woestyn gesterf. By elke staanplek is ’n versameling grafte agtergelaat. Die reisplan het ook hartseer ingesluit, nie net vreugde nie. Tog het die Here hulle daardeur gedra.

Ons almal is op pad na ons beloofde land – die ewigheid. Iewers langs die pad sal daar ook ’n graf met ons naam daarop wees. Dit is gelukkig nie die einde nie – dit is maar net die begin van ’n wonderlike nuwe lewe. Ons kan uitsien na ’n ewigheid saam met ons geliefdes – en veral met ons Here (vgl. Fil 1:23-25). Sien jou daar.

GEBED: Here, dankie dat U by my sal wees as ek die dag ook moet oorstap na die ewigheid.

Lees vanaand in Numeri 33:50-56 oor die Here se ernstige opdrag aan die Israeliete en die rede wat Hy daarvoor gee.

Uit die Beek 2016

Подняться наверх