Читать книгу Uit die Beek 2016 - Attie van Wijk - Страница 65

VRYDAG 26 FEBRUARIE 2016

Оглавление

Lees eers Numeri 29:26-40

Die Huttefees

Die agste dag moet julle ook as ’n feesdag deurbring; dan mag julle geen gewone werk doen nie (29:35).

GESELSVRAAG: Hoe het jou voorouers in Suid-Afrika aangekom?

“Onthou, die reis na jou vakansieplek is deel van jou vakansie. Geniet dus elke tree van die pad en moenie jaag nie,” vermaan die verkeersmanne ons elke jaar wanneer die skole sluit. Dr Andrew Murray vertel dat sy reis van die Kaap na Bloemfontein per ossewa drie maande geduur het. Een van sy susters het geskryf dat die reis van Graaff-Reinet na die Kaap ses weke in beslag geneem het. Elke dag was ’n avontuur. Elke aand is daar uitgekamp, en Sondae het hulle nie gereis nie.

Die Huttefees is ook bedoel om die Israeliete te herinner aan die lang jare op pad na die beloofde land. Al het hulle later hul eie klip- en steenhuise gehad, het hulle een keer per jaar in hutte van palmblare gaan bly en soos trekkers gelewe om hulle te herinner aan die uittog uit Egipte.

Die agtste dag van die fees is selfs in Jesus se tyd as die hoogtepunt van die fees beskou. Dit is interessant dat Jesus dit gebruik het om na die werk van die Heilige Gees te verwys (vgl. Joh 7:37-39). Die vervulling deur die Heilige Gees is die grootste vreugde wat ’n mens kan ervaar, want Hy bekragtig jou om ’n verskil in die wêreld te maak. Die Gees wat in ons woon, trek elke dag saam met ons en wil ons gebruik waar ons ook al gaan.

GEBED: O Heilige Gees, neem beheer oor van my lewe sodat ek ’n kragtige instrument in u hand kan wees, oral waar ek vandag gaan.

Lees vanaand in Numeri 30:1-8 hoe belangrik dit is dat gelowiges hul beloftes en geloftes moet hou.

Uit die Beek 2016

Подняться наверх