Читать книгу Uit die Beek 2016 - Attie van Wijk - Страница 63

WOENSDAG 24 FEBRUARIE 2016

Оглавление

Lees eers Numeri 28:11-25

Gewyde volksfees

Ook op die sewende dag moet daar vir julle ’n gewyde byeenkoms wees, dan mag julle geen gewone werk doen nie (28:25).

GESELSVRAAG: Watter vakansiedae word aan die Here gewy?

“Die woord holiday kom eintlik van die woorde holy day af. Aanvanklik was net die geestelike feeste openbare vakansiedae,” vertel ’n professor. Min van ons dink deesdae aan ’n gewyde dag as ons een van ons openbare vakansiedae geniet – selfs die Paasnaweek en Kersfees het in groot mate hul oorspronklike betekenis verloor.

Vir Israel was daar twee dinge wat die volk moes herinner dat God met hulle was. Die een was die daaglikse offers aan die Here en die ander die gereelde feesdae. Die Sabbat was die weeklikse rusdag wat aan die Here gewy moes word, maar daar was ook vyf groot feeste: die Paasfees, wat gevolg is deur die Fees van Ongesuurde Brode; die Oesfees, oftewel die Pinksterfees; die Fees van die Trompette of Ramshorings; die Groot Versoendag; en die Huttefees (vgl. Lev 23).

Ons hoef natuurlik nie meer al hierdie feeste te hou nie. Hulle was maar net ’n skaduwee wat na die koms van Christus gewys het (vgl. Kol 2:16-17). Vir Christene is die Paasfees daar om ons te herinner aan die kruisdood van Christus en die Pinksterfees om ons te herinner aan die uitstorting van die Heilige Gees. Kersfees is nooit in Bybelse tye as godsdienstige fees gevier nie.

GEBED: Here, elke dag saam met U is ’n fees. Wys my hoe ek u hart kan bly maak deur die feeste wat ons vier.

Lees vanaand in Numeri 28:26-31 hoe die Fees van die Weke (die Oesfees) op die Paasfees gevolg het.

Uit die Beek 2016

Подняться наверх