Читать книгу Uit die Beek 2016 - Attie van Wijk - Страница 55

DINSDAG 16 FEBRUARIE 2016

Оглавление

Lees eers Numeri 23:18-26

God verander nie

God is nie ’n mens dat Hy sou lieg nie, ’n mens dat Hy van gedagte sou verander nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, iets belowe en dit nie uitvoer nie? (23:19).

GESELSVRAAG: Wat sou ons graag aan God wou verander?

“As ek God was, sou ek dinge darem heel anders gedoen het,” sê ’n jongman. Baie van ons sal dalk met hom saamstem. Ons sou sonde mos dadelik straf en alle gebede dadelik verhoor. Maar hoe gemaak as die een boer bid vir reën en die buurman bid dat dit nie moet reën nie? Ons maak uit onkunde baie foute, ook wanneer ons mense so maklik veroordeel. Weet God op die ou end dalk regtig die beste?

Balak het geweet dat God vir Israel uit Egipte laat trek het (vgl. v. 23). Hy het gedink hy kon God omkoop om teen sy eie volk te draai. Bileam se uitspraak is duidelik. As God in beheer is, kan jy Hom nie van plan laat verander nie. Dit is óns wat moet verander om in ooreenstemming met sy wil te kom. Ons kan nie God se wil verander deur toewyding en vas nie. Hy kan ons egter verander en daarna sy wil laat geskied. Bileam wou bloot doen en sê wat die Here aan hom geopenbaar het (vgl. v. 26).

Het dit dan enige sin om te bid? Beslis! God het baie beloftes aan gebed geknoop. Hy maak sy wil in die Bybel aan ons bekend. As ons volgens sy wil bid, sal Hy ons verhoor (vgl. Joh 14:13-14; 15:16).

GEBED: Here, leer my om reg te bid, sodat my gebede werklik ’n verskil in die wêreld sal maak.

Lees vanaand in Numeri 23:27-30 hoe Balak steeds dink dat hy deur omkopery en toordery die oorwinning kan behaal.

Uit die Beek 2016

Подняться наверх