Читать книгу Uit die Beek 2016 - Attie van Wijk - Страница 54

MAANDAG 15 FEBRUARIE 2016

Оглавление

Lees eers Numeri 23:1-12

Goeie ideaal

Mag ek ook eendag as opregte sterwe, mag my einde soos hierdie volk s’n wees (23:10).

GESELSVRAAG: Wat moet eendag op jou grafsteen staan?

“Ek dink nie ons het ’n idee wat agter die skerms in die geestelike wêreld gebeur nie,” sê ’n vriend wat een van Frank Peretti se boeke gelees het. Indien ons besef het wat die krag van gebed is, sou ons baie meer tyd daaraan bestee het. Ons vyand weet dit baie goed, geen wonder dat hy enigiets sal doen om ons te keer om te bid nie.

Balak het geglo dat gebed ’n verskil maak. Daarom het hy gedink dat hy God kan omkoop deur sy offers, soos ons vandag gelees het. Hy wou vir God voorskryf wat Hy moes doen. God werk nie so nie. Bileam het dit geweet, en hy het elke keer die ware boodskap ontvang en oorgedra, sonder vrees vir Balak of om te dink aan die groot beloning as hy iets sou doen of sê waarvan Balak gehou het. Bileam se ideaal was om as ’n opregte mens te sterwe. Tog lees ons dat hy uiteindelik tussen die goddelose gesterf het (vgl. Num 31:8). Toe hy nie ’n vloek oor Israel kon uitspreek nie, het hy vir geld vir Balak geleer hoe om die Israeliete te verlei (vgl. Op 2:14).

Ons het almal mooi drome en ideale vir die toekoms. Baie van ons het mooi begin, soos Bileam, maar langs die pad rigting verloor. Kom ons stel ons kompas opnuut op die Here in. Vir die ewigheid.

GEBED: Here, U ken elke versoeking waarmee ons vandag te doen sal kry. Help ons om reg te luister en reg te kies.

Lees vanaand in Numeri 23:13-17 hoe die bygelowige Balak planne maak om Israel geestelik te oorwin.

Uit die Beek 2016

Подняться наверх