Читать книгу Uit die Beek 2016 - Attie van Wijk - Страница 46

SONDAG 7 FEBRUARIE 2016

Оглавление

Lees eers Psalm 79:1-5

Krisistye

Ons het ’n bespotting vir ons buurvolke geword, ons word gespot en uitgejou deur almal rondom ons (79:4).

GESELSVRAAG: Beteken ’n ramp dat God ons verlaat het? Verduidelik.

“Jy skryf die Sjinese woord vir ‘krisis’ met twee letters. Die een beteken ‘gevaar’ en die ander een ‘geleentheid’,” lees ek in ’n nuusbrief. As ons bloot na die gevaar kyk, dan krimp ons inmekaar van vrees. As ons ook na die geleentheid kyk, dan besef ons dat elke krisis ook ’n geleentheid tot getuienis bied. Dit is die geheim wat Sjinese gelowiges help om staande te bly te midde van swaar vervolging. Die Sjinese kerke stuur selfs sendelinge uit na die mees geslote lande, want hulle skrik nie vir vervolging nie. Hulle besef dit is deel van Christenwees.

Hierdie psalm herinner ons daaraan dat ons nie moet skrik as mense met ons spot oor ons geloof nie. Dit is nie maklik om teen die stroom te gaan nie. Ons sal beslis teenstand kry. Mense sal dink dat ons eienaardig is. Ons kinders word bespot; ons word oor die hoof gesien vir bevordering; ons word uitgestoot en voel dikwels eensaam. Nietemin is die oorwinning uiteindelik ons s’n – soos ons aan die einde van hierdie psalm sal sien.

Mag die Here ons help om die geleentheid in elke krisis raak te sien, om nie te skrik vir teenstand nie, maar om juis in sulke omstandighede uit te reik na mense wat Hom nog nie ken nie.

GEBED: Here, die krisisse van dié week voel vir my te groot om te dra. Hou my styf vas en dra my daardeur, tot u eer.

Lees vanaand in Psalm 79:6-13 hoe Asaf verwag dat die Here se kinders uiteindelik van sy getrouheid sal getuig.

Uit die Beek 2016

Подняться наверх