Читать книгу Uit die Beek 2016 - Attie van Wijk - Страница 59

SATERDAG 20 FEBRUARIE 2016

Оглавление

Lees eers Numeri 26:1-18

Die tweede sensus

Neem ’n sensus op van die hele volk Israel, van elke Israeliet van twintig jaar en ouer wat vir militêre diens geskik is (26:2).

GESELSVRAAG: Wat is die nut van ’n sensus?

“Kyk wat jy kan meet in elkeen van jou Kritieke Prestasie-areas,” het ons geleer by die kundiges wat ons met strategiese beplanning gehelp het. “As jy nie meet nie, sal jy nie weet nie,” is herhaaldelik by ons ingedril. Elke personeellid het dus gaan kyk watter belangrike dinge gemeet moes word, sodat ons presies geweet het hoe ons vorder. Net so meet elke atleet gereeld presies hoe ver hy die diskus gooi of hoe vinnig hy die 100-meter-wedloop voltooi. Sonder metings kan ons nie weet of ons vorder nie.

Die Here het vir Moses dieselfde les geleer. Hy moes weer die volk tel, soos aan die begin van die boek Numeri. Dit was nou 40 jaar later. Al die ongehoorsames het uitgesterf. Het die volk gegroei of gekrimp deur die woestyn-ervaring? Hoe groot is elke stam nou? Dit sou help om te bepaal hoeveel grond elke stam in die beloofde land sou nodig hê.

Jesus sê ons moet mooi dink wat dit sal kos om Hom te volg (vgl. Luk 14:28-33). Is jy gewillig om alles prys te gee ter wille van Hom? Indien nie, is jy nie geskik om Hom te volg nie. Eina! Dit is duidelik dat die meeste van ons nog ver het om te gaan. Die Here moet elke dag met ons werk. Hoe vorder ons?

GEBED: Here, help my om geestelik te vorder, al is dit moeilik om te meet. Ek wil vir U ’n verskil maak hier waar ek is.

Lees vanaand in Numeri 26:19-51 wat die uitslag van die sensus was. Wat kan ons vandag in ons gemeente meet? Was daar groei?

Uit die Beek 2016

Подняться наверх