Читать книгу Uit die Beek 2016 - Attie van Wijk - Страница 52

SATERDAG 13 FEBRUARIE 2016

Оглавление

Lees eers Numeri 22:22-35

Op ’n gevaarlike pad

Ek sien jy is op ’n gevaarlike pad (22:32).

GESELSVRAAG: Watter paaie is deesdae gevaarlik om te gebruik?

“Ek het vandag amper ’n rewolwer vir jou gekoop,” vertel ’n liewe ou tannie aan haar man. “’n Man het dit by my motor se venster aan my gewys, maar toe word die lig groen en ek moes ry.” Sy het nie besef dat sy amper die slagoffer van ’n motorkaping was nie. So beland ons almal in gevaarlike situasies sonder om dit te beplan of selfs te besef.

Bileam het homself oortuig dat hy wel saam met Balak se manne kon gaan, noudat hy ’n beter aanbod gekry het. Die Here het nie daarvan gehou nie en sy lewe was verskeie kere in gevaar. Die donkie het die gevaar gesien, maar die profeet nie. Dit was eers toe die donkie begin terugpraat dat die profeet besef hier is iets bonatuurliks aan die gang. Die Here het hom dus gewaarsku om net te sê wat die Here sê en niks anders nie.

Hoe meer ’n mens na die verleidelike stem van die versoeking luister, hoe meer oortuig jy jou dat dit nie regtig so verkeerd is nie. Daardie een drankie sal mos nie skade doen nie. Daardie een keer se eksperimenteer met dwelms is mos net om te weet waarvan die mense praat. Daardie aanbod van die sakeman is nie regtig korrupsie nie, dit wys net dat hy baie van my hou. Ek flankeer net ’n bietjie met die ander vrou se man – sommer net uit vriendelikheid.

GEBED: Here, help my om die gevaar betyds raak te sien en dan ten volle aan U gehoorsaam te wees.

Lees vanaand in Numeri 22:36-41 hoe Bileam en Balak by die groot toets kom. Wat sou jy in Bileam se plek gedoen het?

Uit die Beek 2016

Подняться наверх